[Foto’s] Padtoets: Klein maar getrein

Golf 1.0 TSi Trendline (Foto: Volkswagen)

Daar is ʼn paar voertuie wat soms oor ʼn motorjoernalis se pad kom wat net as perfek beskryf kan word. Ek dink dadelik aan die Toyota Corolla 1.4 D-4D Prestige wat ons ʼn ruk gelede getoets het. Vir ʼn gewone ryding kan mens nie beter koop nie. Of kan jy?

Toe ek by die bekendstelling van die opgekikkerde Golf 7.5 was, het ek ʼn klein draai gery met die Golf 1.0 TSi Trendline. ʼn Golf, met ʼn driesilinder-turbopetrol-enjintjie. Nee, man. As ek al ooit verkeerd was, was dit hieroor. In ʼn neutedop is die Golf TSI Trendline perfek. Dit is die eerste keer in ʼn geruime tyd dat daar ʼn Golf-aanbieding onder R300 000 op die mark beskikbaar is. Die pakket is perfek vir 99% van die publiek.

Die Golf lyk nes enige ander Golf, behalwe die GT- en R-reeks. Dit is regtig mooi afgerond en die bougehalte kan van ʼn afstand opgemerk word. As mens inklim, dan begin die Golf eers lekker voel. Party mense sê VW se ontwerpe is te konserwatief. Ek stem nie saam nie. Ek dink die eenvoudige ontwerp is deel van die sjarme.

Die kajuit is doelgerig uitgelê en daar is geen fieterjasies wat nie daar hoort nie. Die funksies wat mens wel graag wil hê, is almal byderhand, van die 6″-raakskermradio met Bluetooth tot die magdom lugsakke en veiligheidstelsels. Beenruimte vir die agterste passasiers is baie groter as wat ek verwag het en die kattebak sal 380 ℓ sluk voor hy versadig is.

Golf 1.0 TSi Trendline (Foto: Volkswagen)

Die 1.0-driesilinder-turbopetrol-enjin bied 81 kW en 200 Nm. Dit is dieselfde krag as die meeste 2.0-voertuie uit die tagtigerjare! Net sonder die skrikwekkende brandstofverbruik. Kan jy meer, 0 – 100 km/h duik op in slegs 9,9 sekondes en hy sal aanhou hol tot ʼn indrukwekkende 196 km/h. Twintig jaar terug moes mens ʼn behoorlike sportmotor gekoop het om sulke nommers te sien. Die Golf se brandstofverbruiksyfer van 4.8 ℓ/100 km is nog ʼn veer in die Golf se hoed. Die handratmodel ry lieflik en wissel seepglad tussen die ratte.

Die ritgehalte op die 195/65/15-bande is lieflik. Die vering is puik en stryk die meeste hobbels plat sonder om op die deurhandvatsels te val in die draaie. Padhouvermoë is uitstekend vir ʼn intreemodel en mens voel die GTi se DNS in die onderstel.

Nes met die Corolla ʼn ruk terug kan ek nie dink hoekom mens enigsins ʼn ander kar nodig het nie. Die Golf TSI Trendline is perfek indien jy ʼn luikrug wil hê.

Die reeks lyk só:

Golf 1.0TSI Trendline81 kW/200 Nm4.8 ℓ/100 kmR294 900
Golf 1.0TSI Comfortline81 kW/200 Nm4.8 ℓ/100 kmR308 900
Golf 1.4TSI Comfortline DSG92 kW/200 Nm5.2 ℓ/100 kmR361 900
Golf 2.0TDI Comfortline DSG81 kW/250 Nm5 ℓ/100 kmR366 900
Golf GTD130 kW/350 Nm5 ℓ/100 kmR506 900
Golf GTI169 kW/350 Nm6.4 ℓ/100 kmR545 900
Golf R213 kW/380 Nm7 ℓ/100 kmR657 000

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Ford Focus 1.0T Ambiente92 kW/170 Nm5 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/ 80 000 km-diensplan

R261 300
Mazda 3 1.6 Original77 W/144 Nm6.2 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km-waarborg

3 jaar/ onbeperkte km-diensplan

R264 000
Toyota Auris 1.6 Xi97 kW/160 Nm6.2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R303 300
Renault Megane 84kW Dynamique84 kW/156 Nm6.4 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km- diensplan

R264 300
Opel Astra 1.0T Essentia77 kW/170 Nm4.4 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R292 900

Daar is ʼn paar mededingers. Ek dink die Ford, Opel en VW met hul turbo-enjins is die ware mededingers. Ek het nog nie die Ford en Opel gery nie, maar bestuur hulle gerus almal en kies die een wat die beste pas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet Pompies ·

Baie mooi berig, dit is nogals lekker om ander se opinie te lees rondom motors. My liefde vir motors kom van kleins af waar ek in die skaduwee van my pa in die “garage” grootgeword het. Terug na die berig, die Golf is in Europa die topverkoper vin VW. Sederd die koms van die Polo reeks in SA is die Golf ontroon as die beste verkoper in SA. Die Golf beskik oor Duitse kwaliteit en gehalte. Ek wonder nogal ten spyte van die bekendstelling van die nuwe Polo in 2018 deur VW wat daar nog uit die hoed gehaal gaan word? …. dalk ‘n Caddy LDV en die groet van die Vivo reeks en bekendstelling van ‘n “down graded” huidige Polo..

Paul ·

Geen woord gerep oor hoedat daardie brandstofverbruik ‘n totale versinsel deur VW is nie?
Die Duitse onafhanklike ADAC het die “Bluemotion” weergawe van hierdie Golf getoets en bevind dat dit 18% swakker brandstofverbruik kry as wat VW aanvoer, en selfs die ADAC se toetse was op ‘n “rolling road” eerder as in die werklikheid met verkeer en sub-optimale temperature, padoppervlaktes, ensovoorts.
As dieselfde 18% faktor op hierdie Golf toegepas word, verander daardie verbruiksyfer na iets meer soos 5.7 liter per 100 kilometer. In ‘n toets van hierdie model deur Autocar in die VK, het die joernalis oor ‘n tydperk van ‘n paar weke juis sowat 5.7 liter per 100 kilometer gekry, volgens die kar se eie aanduiding. Daardie aanduidings is berug dat hulle onakkuraat optimisties is. In werklikheid is dit waarskynlik selfs swakker.

Dit sou goed wees om aan potensiële kopers uit te wys dat hulle moet pasop vir die brandstofverbruiksyfers van hierdie piepklein turbopetrolenjintjies.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.