[Foto’s] Padtoets: Krag is nié alles nie…

Isuzu KB 250 X-Rider (Foto: Isuzu)

Ons Suid-Afrikaners is bereid om sekere dinge tot die dood te beskerm. Die geloofwaardigheid van die bakkie van ons keuse se integriteit as DIE bakkie is een van daai dinge. Ek is nie ’n groot man nie en het nog nooit geleer om te boks nie, so ek hol gewoonlik weg en laat die geharde bakkiebestuurders dit tussen hulle uitklaar.

Ek gaan hulle nou nog verder omkrap. Krag alleen, is nie alles in ’n bakkie nie. Die algehele pakket teken ’n sekere prentjie, en in die geval van die Isuzu KB, teken die Isuzu KB 250 X-Rider ’n baie mooier prentjie as die sterker KB 300 LX. Die R100 000 is nie die paar perde werd nie. Die 250 X-Rider het dieselfde binneruim, al is dit met ’n eenvoudiger inligtingstelsel – wat in my opinie in elk geval beter werk. Die X-Rider is ’n beperkte weergawe, so hy is tog mooi met die swart sierrooster, spieëls en rolstaaf in plaas van chroom. Die binneruim kry dieselfde kunsleer, net met ’n X-Rider-embleem op die kopstut geborduur; verder is daar nie ’n groot verskil nie.

Isuzu KB 250 X-Rider (Foto: Isuzu)

Ons het verlede Desember ’n KB 300 LX 4×4 Outo getoets en die binneruim en outomatiese ratkas het ’n bietjie teleurgestel.

Dit kan moontlik wees dat daardie bakkie al R572 000 kos en dat ek meer gemak wil hê vir daai tipe geld. Nie die geval met die 250 X-Rider nie. Hy tiep die skaal net onder die R400 000-merk. R396 200 om presies te wees. Dit is amper R200 000 minder. Ja, dan het die 250 X-Rider nie 4×4 nie, en ook nie die outomatiese ratkas nie.

Jy sal nie die outokas mis nie, maar indien jy 4×4 benodig, is daar ’n 250 X-Rider 4×4. Hy is maar R441 200. Die 100 kW- en 320 Nm-wringkrag is heeltemal voldoende. Ek’t tot ’n karavaan met die bakkie gesleep, en ja – hy ry nie 160 km/h teen die opdraandes nie, maar ’n mens moet eintlik slegs 100 km/h sleep – en dit kon hy lag-lag handhaaf.

Die bakkie se ritgehalte is lekker hard, nes ’n bakkie moet wees. Die padhouvermoë is normaal vir ’n bakkie, al vat sy stuur ’n rukkie om aan gewoond te raak. Ek hou van ’n effens vinniger stuurkolom – maar ’n mens raak dit gewoond. Die handrat se wisselaksie is glad en presies, en die vyfgang-handrat pas soos ’n handskoen met die 2.5 viersilinder-dieselenjin. Ek’t 7.2 ℓ/100 km bereik met die bakkie – nog ’n rede om nie te huil oor die 3.0 en outomatiese ratkas nie.

Ek kan die Isuzu KB 250 X-rider maklik opsom. Dit is ’n bakkie wat mens kan geniet, bekostig en gebruik… vir ewig. Die bakkie sal vir generasies hou, as jy mooi na hom kyk. Hy is ook nie só gewild soos die Ford en die Toyota nie, dus sal hy minder kos om te verseker.

Die reeks lyk só:

KB 250D-Teq dubbelkajuit Hi-Rider100 kW/320 Nm7.7 ℓ/100 kmR365 600
KB 250D-Teq dubbelkajuit X-Rider100 kW/320 Nm7.7 ℓ/100 kmR396 200
KB 250D-Teq dubbelkajuit 4×4 Hi-Rider100 kW/320 Nm8.2 ℓ/100 kmR410  600
KB 250D-Teq dubbelkajuit 4×4 X-Rider100 kW/320 Nm7.9 ℓ/100 kmR441 200
KB 250D-Teq dubbelkajuit LE100 kW/320 Nm7.7 ℓ/100 kmR444 000
KB 300D-Teq dubbelkajuit LX130 kW/380 Nm7.8 ℓ/100 kmR494 300
KB 300D-Teq dubbelkajuit LX outo130 kW/380 Nm7.7 ℓ/100 kmR508 800
KB 300D-Teq dubbelkajuit 4×4 LX130 kW/380 Nm7.9 ℓ/100 kmR558 100
KB 300D-Teq dubbelkajuit 4×4 LX outo130 kW/380 Nm7.9 ℓ/100 kmR572 000

Die reeks word gedek deur ’n 5 jaar/120 000 km-waarborg en ’n 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Nissan NP300 Hardbody 2.5TDi dubbelkajuit Hi-Rider98 kW/304 Nm8.8 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km waarborg

Diensplan opsioneel

R356 500
Ford Ranger 2.2 dubbelkajuit Hi-Rider XL118 kW/385 Nm6.9 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km waarborg

5 jaar/100 000 km diensplan

R397 900
Toyota Hilux 2.4GD-6 dubbelkajuit SRX110 kW/400 Nm7.1 ℓ/100 km3 jaar 100 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R442 700
Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit133 kW/430 Nm7.1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R479 995
Volkswagen Amarok 2.0TDI dubbelkajuit Comfortline103 kW/340 Nm7.7 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km diensplan

R507 500

Die mededingers is almal bitter goeie bakkies. Die NP300 is wel lank in die tand. Ek hou nie van die Ranger se ratverhoudings in die handrat of outo nie, so as dit gaan oor prys, koop ek die Isuzu.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Mornay ·

Hi Brendon
Die artikel lees lekker maar jy se nie of die isuzu nog so Ratel en raas nie
ek het jare terug een ge ry en iemand het n plaker op gesit wat lees “Vaal japie”
en dit was nie op die drywer gemik nie

Lyk vir my ek bly maar nog by NISSAN

Groete

Pieter ·

Nissan verkoop nou die 2.5 NP300 dubbel kajuit Hi Rider vir R307837.90 wat insluit die “canopy”, Nudgebar, smash & grab, Sleep hak, bande waarborg en swetterjoel ander dinge.

Faktuur lê op my tafel, voorraad is wel probleem…..

Brendon ·

Dagsê Mornay,

Dankie vir jou kommentaar. Jy is heeltemal korrek, ek vra om verskoning. Die nuwe Isuzu bakkies is BAIE stiller as hulle voorgangers. Die bakkie het ook geen ratels gehad nie – maar is so te sê splinternuut, so ek kan nie daaroor kommentaar lewer nie. Ek sal wel sê die bakkie voel regtig stewig en taai.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Kobus ·

My Isuzu 300 DTeq Outo, DK, het al so 75 000km gedoen waarvan baie op slegte grondpaaie was. GEEN Rattels en definitief baie stil, met min of geen windgeraas nie en ‘n uitstekende padhou vermoe.

Gerhard Bezuidenhout ·

Beslis een van die beste bakkies beskikbaar Ek besit self n Isuzu 250 D-Tech Club Cab en dit is n ideale boere bakkie wat hom puik kwyt van sy taak en bowendien lig is op diesel en gladnie ratels het nie Padhouvermoe en ritgehalte is van die beste en ek hoef nie op n grondpad bekommerd te wees dat dit gaan rondspring nie Dit is my sesde Isuzu en sal beslis weer een koop

bgj van der westhuizen ·

n bakkie ja dit is n groot storie n suid afrika maar ook n usa nou wat Isuzu self in suid afrika gaan kom vermoet ek die ander make gaan goed aan gevat word maar elke mens koop na sy smaak behalve as jy kyk na diens prys en herverkoop van dit

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.