[Foto’s] Padtoets: Lekker dalk dwaas, maar slim is baas

Die Toyota Yaris Pulse (Foto: Toyota)

Maroela Media het ’n tydjie terug die kans gehad om die nuwe Toyota Yaris Pulse te toets. Die Toyota Yaris is vir my ’n oulike ryding. Ek het jare laas ’n Yaris gery en was nuuskierig om te sien wat hulle al aan dié resep verander het.

In ’n neutedop: niks. Die Toyota Yaris bly getrou aan Toyota se resep. ’n Eenvoudige voertuig met ’n doelgerigte uitleg. Geen fieterjasies binne of buite nie. Die resultate bly ook die selfde. Dié Toyota Yaris sal jou jare en jare en jare se probleemvrye myle bied. Wat meer het ’n mens in ’n motor nodig?

Is daar enige kwale? Ja, net een. Ek is nie gek oor die palwisseltransmissie in die Yaris nie. In die C-HR met die nuwe 1.2 turboenjin werk dit beter, maar met die 1.5 viersilinder atmosferiese enjin in die Yaris klink dit of jy hom verwurg indien jy haastig wil versnel. ’n Mens raak wel gewoond daaraan en in teorie is ’n palwisseltransmissie die beste oplossing vir ’n middelweg tussen verrigting en brandstofverbruik.

Die Toyota Yaris Pulse (Foto: Toyota)

Verder is die Yaris netjies ontwerp, selfs aantreklik in die 1.5 Pulse Plus CVT waarmee ons gery het. Die binneruim is duursaam en ergonomies uitgelê na my smaak. Die nuwe 1.5 viersilinderpetrol vervang die vorige 1.3 viersilinder met beter verrigting en brandstofverbruik. 0 – 100 km/h duik op in ’n billike 11.2 sekondes en die Yaris Pulse sal aanhou draf tot 175 km/h.

Ritgehalte in die Yaris is in die kol vir ’n voertuig in dié segment. Die vering is lekker sag, al is daar nie veel bakrol om oor te kla nie. Padhouvermoë is heeltemal voldoende – al is die Yaris nie ’n renmotor nie, sal hy bly klou lank na meeste van sy kopers se talent opraak.

Tydens die toetstydperk het ons ’n billike 6.2 ℓ/100 km gehandhaaf. Dit is indrukwekkend vir ’n voertuig met 82 kW en 136 Nm en ’n outomatiese ratkas.

Die hoofrede hoekom ek glo die Yaris ’n goeie opsie is tussen sy mededingers, is omdat dit aan Toyota se resep voldoen. Dit is nie ’n ingewikkelde voertuig nie. Daar is nie ’n magdom onbeproefde tegnologieë nie. Toyota se voertuie is nooit ooreis nie, en bied dus eerlike betroubaarheid. Ek glo die Yaris is een van daai voertuie wat puik herverkoopwaarde bied en is dus die slimste keuse. Meer as dit kan ’n mens nie vir die prys verwag nie. Ek sou wel R22 000 terugdruk in my sak en die handrat-model koop.

Die reeks lyk só:

Yaris 1.0 Pulse51 kW/ 95 Nm5 ℓ/100 kmR199 000
Yaris 1.5 Pulse82 kW/ 136 Nm5 ℓ/100 kmR228 700
Yaris 1.5 Pulse outo82 kW/ 136 Nm4.8 ℓ/100 kmR241 400
Yaris 1.5 Pulse Plus outo82 kW/ 136 Nm4.8 ℓ/100 kmR249 600
Yaris Hybrid Pulse74 kW/ 111 Nm3.6 ℓ/100 kmR307 200

Die kompetisie lyk só:

Opel Corsa 1.4 Enjoy outo66 kW/ 130 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R234 800
Suzuki Swift 1.4 GLS outo70 kW/ 130 Nm6.2 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R242 900
Renault Clio 88kW Turbo Expression outo88 kW/ 190 Nm5.2 ℓ/100 km5 jaar/ 150 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R264 900
Hyundai i20 1.4 Fluid outo74 kW/ 133 Nm7.5 ℓ/100 km5 jaar/ 150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

3 jaar/ 60 000 km-diensplan

R279 500
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo74 kW/ 170 Nm4.9 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

5 jaar/60 000 km-diensplan

R281 900
Kia Rio 1.4 Tec outo74 kW/ 135 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/ 60 000 km-diensplan

R287 995
Mazda 2 1.5 Individual Plus outo82 kW/ 145 Nm5.7 ℓ/100 km3 jaar/onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R286 200
Volkswagen Polo 1.2TSI Highline outo81 kW/ 175 Nm5.1 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R294 600
Honda Jazz 1.5 Dynamic outo88 kW/ 145 Nm5.8 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R310 000

Die mededingers is baie, en die prysgaping wyd. Kyk watter vir jou mooi is, ry hulle almal en besluit van daar. Die Yaris is puik waarde teen die prys, maar die Polo en Mazda 2 ry heerlik. Die Clio verbaas ook met die sterkste enjin vir min geld. Die Jazz is buitensporig duur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.