[Foto’s] Padtoets: Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera

Die Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera (Foto: Mazda)

ʼn Lekker suksesverhaal is vir almal lekker. Egskeidings val gewoonlik nie in hierdie klas nie … behalwe die een tussen Ford en Mazda in Suid-Afrika. Mazda is soos die afgeskeepte stiefkind behandel en ná jare se gesukkel het Japan gesê: “Tot hier toe en nie verder nie!”

Sedert Mazda se bevryding het hulle nog net reuse-sukses behaal. Hulle klop die afgelope drie jaar telkens hul doelwitte in Suid-Afrika. Hulle het ʼn indrukwekkende produkreeks en dié 2.2DE pas mooi op die boonste rang van die CX5-leer.

Die CX-5 het ʼn mooi ontwerp en volg soos alle ander Mazdas die KODO-ontwerpstyl. Daar is verskeie opknappings aan die reeks om ʼn meer aggressiewe voorkoms te bied. Hoewel die CX-5 taai lyk het hy steeds sagte lyne en sal nie die kinders huilend laat weghol nie.

Die binneruim is waar die CX-5 my regtig beïndruk. ʼn Pragtige skoon en ergonomiese uitleg maak dié kajuit ʼn rustige plek om te sit. Dit word dan nog verbeter deur al die luukshede wat in dié CX-5 beskikbaar is. Elektries verstelbare sitplek, spoed- en klimaatbeheer, Bluetooth, outomatiese ligte, ruitveërs en handrem, baanbeheer en dan die gewone ABS en ʼn magdom lugsakke. My gunsteling-funksie in al die Mazdas is die inligtingstelsel. Die navigasie, radio en verskeie ander funksies word almal met die draai knoppie langs die handrem beheer. Dit is uiters intuïtief en maklik om te gebruik. Nog ʼn funksie in die CX-5 wat baie lekker werk is die kattebak se seiltjie wat vas is aan die kattebakdeur en as jy die kattebak oopmaak gaan die seiltjie met die deur op, baie slim. Al wat effe pla is dat die CX-5 bietjie knapper voel as sy mededingers in dié klas.

Die Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera (Foto: Mazda)

Die enjin en ratkas werk lekker saam. Die 2,2 viersilinder dieselenjin stoot ʼn indrukwekkende 129 kW en 420 Nm. Die sesgang- outomatiese ratkas maak gou werk van die krag en die allewielaandrywingstelsel verseker dat die CX-5 altyd lekker vastrap. Mazda se nuwe generasie dieselenjins werk regtig lekker en vanweë ʼn laer drukverhouding loop hulle indrukwekkend stil en hou baie meer van omwentelinge as ouer diesel enjins.

Die ritgehalte is gemaklik en soepel sonder enige onaardige bakrol. Lang reise sal nie in die CX-5 ʼn probleem wees terwyl jy Suid-Afrika van hoek tot kant deurkruis nie. Met die sekerheid wat die allewielaandrywing bied sal jy meeste grondpaaie in die land kan aandurf. Solank jy nie wilde hindernisse teëkom nie sal jy piekfyn wees. Die CX-5 kan ook ʼn stewige 1,5 ton sleep.

Daar loods egter binne etlike dae ʼn splinternuwe CX-5. Ons wag ons beurt af, maar in die tussentyd – as daar ʼn winskoop op ʼn huidige CX-5 oor jou pad kom, sou ek nie huiwer nie.

Die reeks lyk so:

CX-5 2.0 Active121 kW/ 210 Nm6,4 ℓ/100 kmR369 400
CX-5 2.0 Active outo121 kW/ 210 Nm6,4 ℓ/100 kmR381 100
CX-5 2.0 Dynamic121 kW/ 210 Nm6,4 ℓ/100 kmR383 400
CX-5 2.2DE Active110 kW/ 380 Nm5,7 ℓ/100 kmR440 100
CX-5 2.5 Individual141 kW/ 256 Nm6,9 ℓ/100 kmR475 300
CX-5 2.2DE AWD Akera129 kW/ 420 Nm5,9 ℓ/100 kmR541 400

Die kompetisie lyk só:

Ford Kuga 2.0TDCi AWD Titanium132 kW/ 400 Nm6,2 ℓ/100 km4 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R543 900
Toyota Rav4 2.2D-4D AWD VX110 kW/ 340 Nm6,5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R549 700
Volkswagen Tiguan 2.0TDI 4 Motion Highline130 kW/ 380 Nm6,4 ℓ/100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R558 300
Kia Sportage 2.0CRDi SX AWD130 kW/ 400 Nm6,8 ℓ/100 km5 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 90 000 km diensplan

R567 995

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.