[Foto’s] Padtoets: ʼn Japanese geskiedenisles

Die Toyota 86 Dynamic (Foto: Toyota)

Die Japanese het ʼn ryk geskiedenis, en hulle is trots daarop. Die jare tagtig het ʼn paar juwele in Japan opgelewer, waarvan die westelike wêreld eers later deur middel van die internet, Initial D en Anime geleer het. Een van dié juwele is die Toyota AE86. Dit was ʼn ander weergawe van daardie stadium se Toyota Corolla. Dit het ʼn 1.6 liter-enjin gehad en is deur die agterwiele aangedryf. Dié einste Trueno, ʼn ander naam vir die 86, het legendaries geword in Japan toe drifting gewild geraak het. Lig in gewig en met ʼn viersilinder wat sy toerenaald verby 8 000 r/min kan druk. Mmm.

Keiichi Tsuchiya is ʼn Japanese renjaer. Hy was só vinnig in Japanese toer-renmotors dat hy begin drift het om die skare iets te gee waarna hulle kon kyk. Dit was oombliklik ʼn reusesukses. Dit was só gewild dat dit ʼn sport op sy eie geword het en Keiichi is gevolglik as Japan se Drift King gekroon. Daar is video’s op die internet waar Keiichi op ʼn touge (oftewel bergpas) met só ’n Trueno vir ʼn Nissan Skyline GT-R wegry. Sjoe.

Die Toyota 86 Dynamic (Foto: Toyota)

In die negentigerjare het dit ’n bietjie stil geraak by Toyota. Die AE86 was vergete. Die Supra was amper aan die einde van sy lewensiklus en al die mense wat ʼn liefde gehad het vir vinnige Toyotas is droëbek gelaat. Tot 2007. In 2007 het Toyota die eerste konsep van die Toyota GT86 gewys. En die internet het ontplof.

Dié 86 het sopas ʼn opkikkering gehad en ons was gelukkig om ʼn beurt te kry om hom uit te toets.

’n Mens het eintlik al vergeet hoe lekker ʼn eenvoudige, atmosferiese 2.0 met ʼn lekker handratkas en agterwielaandrywing kan wees. Ons is nie meer gewoond daaraan om ʼn kar te leer ken nie – sy karakter te ontsyfer en met hom te werk tot jy die beste uit hom kry. Deesdae is alles mos turboaangejaag en outomaties. Sit net jou voet in die hoek en hy moet ry… maar nie in die 86 se geval nie, en dit is só lekker!

Die Toyota 86 Dynamic (Foto: Toyota)

Die 86 is ook nie gebou om teen enige spoed om enige draai te gaan nie. Hy is opgestel om rond te beweeg onder jou en puik terugvoer te gee deur die stuur. Hy het ʼn perfekte rempedaal met spasiëring wat perfekte heel and toe toelaat, sodat jy die omwentelinge tussen die enjin en ratkas kan ewenaar om perfekte balans te handhaaf, terwyl jy elke greintjie krag probeer gebruik sonder om beheer te verloor.

Omdat die 86 nie ʼn turbo het nie, sê baie mense hy is te lig in die broek. ʼn Pel van my het ook so gedink. Ek sê toe vir hom: “Ry hom hard en hy is net so vinnig as wat jy wil ry.” Ons twee het ʼn draai gery en die 86 het sommer vinnig aan die verkeerde kant van die spoedgrens beland. My pel was indrukwekkend verbaas. Die ander troefkaart van die 86 is sy gemak. Twee mense sal heel gemaklik van die een kant van Suid-Afrika tot aan die ander kant met hom kan reis… Daar is ʼn ruim kattebak en die sitplekke hou jou lekker styf om die lyf, sonder om ongemaklik te wees.

Die Toyota 86 Dynamic (Foto: Toyota)

Daar is kragstuur, elektriese vensters, klimaat- en spoedbeheer, Bluetooth en die gewone magdom veiligheidstelsels om jou lewend by jou bestemming te bring. Die agterste sitplekkies is nie eintlik geskik vir ver ry nie. Nie eens vir kinders nie. Ek het wel my kinders by die skool afgelaai met die 86, maar hulle moes hul bene saam met hulle om die stoel kruis. Nie ideaal nie, maar benader die 86 as ʼn tweesitplekmotor en dan is daar geen probleem nie.

Die 2.0 bokser viersilinder-enjin kan heeltemal hard genoeg deur die toere hol. Die lekkerste ding van dié enjin is: jy kan hom heeldag lank hard ry, hy het geen turbo’s om seer te maak nie en die brandstofverbruik onder ʼn swaar voet bly in die omgewing van 10 ℓ/100 km. Vir ʼn sportmotor is dit regtig indrukwekkend. Sodra jy rustig raak op die snelweg teen 120 km/h op die spoedbeheer, is 6 ℓ/100 km heeltemal billik.

Die Toyota 86 Dynamic (Foto: Toyota)

Soos ’n mens gewoond raak aan die 86, begin ’n mens meer in sy karakter inklim en sien hoe hy hanteer. Aanvanklik het hy my intimideer, maar soos ’n mens hom beter leer ken, sien jy daar is baie meer padhouvermoë as wat ’n mens dink. Ek wil wel nie vir Toyota bel en verduidelik hoekom die 86 om ʼn paal gedraai is nie – daarom het ek naderhand gesê genoeg is genoeg.

Die 86 het my hart gesteel. Dit is ʼn winskoop vir ʼn sportmotor. Dis ʼn Toyota en word deur die grootste handelaarnetwerk in Suid-Afrika gediens. Ek wil hom bitter graag beter leer ken, sodat hy my nóg kan leer hoe om te bestuur.

Die reeks lyk só:

2.0 Standard147 kW/ 205 Nm7.8 ℓ/100 km0 – 100 km/h 7.6 sek

226 km/h

R449 600
2.0 High147 kW/ 205 Nm7.8 ℓ/100 km0 – 100 km/h 7.6 sek

226 km/h

R494 900
2.0 High outo147 kW/ 205 Nm7.1 ℓ/100 km0 – 100 km/h 8.2 sek

210 km/h

R519 400

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en 4 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mazda MX-5118 kW/ 200 Nm6.7 ℓ/100 km0 – 100 km/h 7.3 sek

214 km/h

3 jaar/onbeperkte km waarborg

3 jaar/onbeperkte km diensplan

R441 700
Jaguar F-Type Coupe 221 kW221 kW/ 400 Nm7.2 ℓ/100 km0 – 100 km/h 5.7 sek

250 km/h

3 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R914 202
Porsche 718 Cayman220 kW/ 380 Nm7.4 ℓ/100 km0 – 100 km/h 5.1 sek

275 km/h

2 jaar/onbeperkte km waarborg

3 jaar/90 000 km omvattende instandhoudingsplan

R870 000

Hierdie voertuie is eintlik modelle waarmee die 86 nie meeding nie, maar ek het slegs agterwielaangedrewe sportmotors gekies. Die Jaguar en Porsche is baie vinniger, maar tog baie duurder. Die Mazda is ook bitter klein… so die Toyota bly die beste middelweg…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.