[Foto’s] Padtoets: Ratkas die vlieg in Everest se salf

Ford Everest 2.2 4WD XLS (Foto: Ford)

Ons het onlangs ’n Ford Everest 2.2 4WD XLS handrat op toets gehad. Dit is ’n mooi voertuig en wel nie só gewild soos ek aanvanklik gedink het nie. Die rede is dalk die Everest se ratverhoudings. Ek’t dié doring in my voet al met die Ranger ondervind.

Kom ek verduidelik. Die Ford Ranger en Everest deel onderstelle en dryfstelsels. Die 2.2 viersilinder-dieselenjin in beide is puik. Dié enjin bied 118 kW en 385 Nm en is indrukwekkend lig op brandstof. Dit is nog lekker stil ook. Wat wel pla, is die gaping tussen tweede en derde rat. Die eerste twee ratte is baie kort, en dan is daar ’n reusegaping tussen die volgende twee, waarna die gapings weer gelyk en billik is. Dit veroorsaak ’n onaangename ondervinding op die pad.

’n Mens kom dit effe agter as jy net rustig rondrits – as jy teen lae toere oorsit derde toe, dan wil die Everest vrek. Dit is heeltemal onintuïtief vir ’n diesel om hom so hard in die toere te druk in tweede sodat derde reg werk. Ek het ’n pel se karavaan met die Everest gesleep. Sy sleepvermoë is heel aanvaarbaar, behalwe daai gaping in die ratte wat veroorsaak dat jy die Everest tot by 3 500 r/min in tweede moet ry om net bo 2 000 r/min te wees in derde.

Die eksterieur is mooi en doelgerig. Die grondvryhoogte van 225 mm is billik, maar nie klasleidend nie. Die binneruim is waar die Ford vir my lekker pas. Ek hou van die uitleg en die materiale wat gebruik word. Die derde ry sitplekke se meganisme werk vir my lekker en is ’n mooier oplossing as in die Fortuner. Daar is klimaatbeheer vir die agterste passasiers soos met die mededingers.

Ford Everest 2.2 4WD XLS (Foto: Ford)

Ritgehalte in die Everest is indrukwekkend. Ek’t nog nie die Pajero Sport bestuur nie, maar ons kry binnekort ’n beurt. Die huidige Fortuner beïndruk ook, so ritgehalte en padhouvermoë in dié klas voertuie het reusestappe in die regte rigting gemaak dié jaar. Ek hou veral van die gevoel aan die Everest se stuur. Lekker styf en positief, geen geraai-raai waarheen mens op pad is nie.

Die Everest is beslis ’n opsie indien mens ’n sewesitplek-sportnutsvoertuig met ’n leerraamonderstel wil besit. Die mededingers is uiters bekwaam en lieflike sleepvoertuie. Ek weet net, die Fortuner se ratkas is myle beter as die Everest s’n. Mooi, egalige gapings wat gladde versnelling bied. Ek ken nie die nuwe 8 spoed-ratkas in die Pajero nie, so kan nog nie daaroor kommentaar lewer nie. Toets hulle almal, dalk is die ratverhoudings nie vir jou so ’n groot probleem soos vir my nie.

Die reeks lyk só:

Everest 2.2 XLS118 kW/ 385 Nm6.9 ℓ/100 kmR459 900
Everest 2.2 XLS outo118 kW/ 385 Nm7.3 ℓ/100 kmR477 900
Everest 2.2 XLT118 kW/ 385 Nm6.9 ℓ/100 kmR494 900
Everest 2.2 XLT outo118 kW/ 385 Nm7.3 ℓ/100 kmR514 900
Everest 2.2 4WD XLS118 kW/ 385 Nm7.1 ℓ/100 kmR544 900
Everest 3.2 XLT147 kW/ 470 Nm8.2 ℓ/100 kmR575 900
Everest 3.2 4WD XLT147 kW/ 470 Nm8.2 ℓ/100 kmR645 900
Everest 3.2 4WD Limited147 kW/ 470 Nm8.2 ℓ/100 kmR706 900

Die reeks word gedek deur ’n 4 jaar/120 000 km-waarborg en ’n 5 jaar/100 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Fortuner 2.4GD-6 4×4 outo110 kW/400 Nm8.2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R506 000
Mitsubishi Pajero Sport 2.4 D4 4×4133 kW/430 Nm8.1 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R599 995

Die Fortuner en Pajero Sport het beide outomatiese ratkaste en die Everest ’n handrat. Die Pajero Sport het nie ’n intreemodel nie en kompeteer meer met die 3.2, dus is sy prys hoog. Die Toyota is R40 000 goedkoper as die Ford, en het ’n outomatiese ratkas met goeie ratverhoudings en is dus my keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Amabaas ·

Sjoe – die 2.2 Ford 4WD (handrat ?) is heelwat duurder as die 2.4 Fortuner 4×4 outo!

Hoe is die FT se outokas in die 2.4 weergawe? (Ek sien volgens die spes op TSA se blad dit is dalk dieselfde een as in die 2.8, met net ‘n ander finale verhouding?)

Brendon ·

Dagsê Amabaas

Ek is tans in daai presiese voertuig in die Oos-Kaap by die bekendstelling. Dit is dieselfde ratkas as die 2.8 met ‘n ander finale verhouding.

Dit is ‘n baie beter ratkas.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Joey ·

Ek ry my 3.2 4WD Limited nou al vir so 3 maande, en is onsettend gelukkig met die outjie, ry sag, ry lekker, ry soos n droom.

Kiepie ·

Dit is baie verfrissend om padtoeteverslae te lees waar die evalueerder sy eerlike ervaring van die voertuig onder oorsig deurgee, hetsy dit positief of negatief is. Ek is nie ‘n pertolkop nie, maar ek geniet dit tog om op te lees oor nuwe voertuie wat op die mark verskyn (of wysigings aan bestaande modelle). Meeste verslaggewers doen egter verslag op ‘n manier wat mens laat dink hulle is bang hulle kry nooit weer ‘n voertuig van hierdie spesifieke fabrikaat om te toets indien hulle enige tekortkominge sou uitlig nie. Dit is moontlik om krities te wees sonder om afbrekend te wees en om vergelykings te tref sonder om kant te kies. Brandon Staniforth kry presies dit reg.

Zack ·

Kiepie ek stem saam met jou maar daar is een probleem. Elke keer as Brandon ‘n Ford toets word hy vergelyk met ‘n Toyota. Hoekom? Dit wil voorkom of net Ford probleme het en Toyota niks. Ek wonder Brandon is Toyota se sak is en freebees onder die tafel kry. Wees onpartydig dan kan ons jou evalusasie glo, Brandon.

Kiepie ·

Zack, jy sê jy stem saam maar dan weerspreek jy jouself weer heeltemal (in terme van dit wat ek gesê het). Dit is presies waarvan ek hou met betrekking tot Brandon se verslae (en ek belowe ek ken die man van geen sout of water nie). Dis irrelevant of hy sê die Ford se ratkas is swakker as Toyota s’n (sou jy beter gevoel het as hy gesê het swakker as Volksawgen s’n). Die punt is in sy bevinding is daar ‘n probleem met die Ford se ratkas en hy lig dit so uit. Ek hou weer daarvan dat hy vergelykings tref tussen die voertuie wat hy reeds getoets het sodat ek nie elke slag die ou goed hoef te gaan opsoek om dit te doen nie. To each his own I guess.

zack ·

Kiepie
Lees weer —ek stem saam MAAR DAAR IS EEN PROBLEEM.
Ek hou by my punt. Hoekom word Ford elke keer afgebreek om Toyota goed te laat lyk? Dit noem mens Brand Bashing. Dit kom egter met elke Ford toets deur. Dit breek vir my die geloofwaardigheid van die verslag af. Dit gaan nie net oor Ford/ Toyota nie maar vir alle make. Gaan lees maar gerus die ou toetse.

Johan ·

Ek’t ‘n voeltjie hoor fluit dat die Everest 2.2 4X4 binnekort met ‘n auto-ratkas ook gaan uitkom, en dit behoort ‘n lekker, geballanseerde, waarde-vir-geld Everest te wees.

Ns. Waarom was daar nie ‘n veld-ry toets met die betrokke voertuig gedoen nie?

Johan ·

Ek ry Ranger 2.2 DC auto en vind 2 rat na derde rat is daar nie baie oemf nie. Lyk my dieselfde probleem met die hand ratkas.
J

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.