[Foto’s] Padtoets: Renault RS die ghoeroe

Die Renault Clio RS 220 Trophy (Foto: Renault)

As motormens is die oomblik dat jy jou rybewys én die sleutel na ʼn motor kry ʼn ongelooflike vryheid wat die meeste mense nie sal verstaan nie. Al wat ek wou doen as kind, is bestuur. My broer wou tromme speel, meisies vry … ek wou net ʼn kar hê. Toe kom die tyd dat ʼn mens mag bestuur. En aanvanklik was daar géén matigheid voor oë nie.

Dan begin ʼn mens self jou karre onderhou en is die aanhoudende gejaag nie meer só lekker nie. Wag, ek jok. Dit is lekker, maar net te duur. Maar – verbeel jou jy kan nou ʼn relatief goedkoop kar koop wat vir jou instruksies gee oor hoe om die beste uit hom te kry op ʼn renbaan? Wow!

Die Renault Clio RS 220 Trophy is net só ʼn motortjie. Binne-in die inligtingstelsel is daar wenke waardeur ʼn mens kan blaai. Hoe om nie die remme te kook nie, hoe om draaie te benader tot jy gewoond is – en dan hoe om dit anders te doen sodat jy dit vinniger kan doen, waar om klappe te verwyder om verkoeling te help.

Die Renault Clio RS 220 Trophy (Foto: Renault)

Dit is vir my fassinerend. In ʼn tyd waar alles veilig moet wees, en feitlik almal die een of ander maatskappy dagvaar omdat die kitskos hulle vet gemaak het – en Renault sê: “Kom koop ʼn Renault RS. Ons sal jou leer hoe om hom veilig te jaag en dit te geniet.”

Die buitekant is uiters sportief: 18″-wiele met laeprofiel Michelin Pilot Super Sport-bande en ʼn Akrapovič-uitlaatpyp dra by tot die sportiewe intensies van die Clio RS Trophy. Die binneruim is net so mooi met leersportsitplekke en rooi aksente. Die klankstelsel is heeltemal voldoende en tipies Renault in die opsig dat al die truuks daar is, soos – Bluetooth, klimaat en spoedbeheer, outomatiese ligte en ruitveërs om net ʼn paar te noem.

Die towerkuns met die Clio RS Trophy is wel onder die vel. Jy kan dit nie sien nie, maar die 1.6-viersilinder-turbopetrolenjin is puik. Hy bied 162 kW en 260 Nm. Die EDC- outomatiese ratkas is ʼn reusestap vooruit vir Renault teenoor dié ratkas se voorganger. Ratwisselings is nou blitsig en laat die Clio RS nóg meer sportief voel. Die onderstel en vering is hard, maar so opgestel om die beste te kan bied op ʼn renbaan.

Die Renault Clio RS 220 Trophy (Foto: Renault)

Die padhouvermoë van die Clio RS is verstommend. Die Michelin Pilot Super Sport-bande kan ʼn mens jou broek laat natmaak as hulle koud is, maar sodra die teer en bande lekker warm is – dan plak hulle soos bol-aan-wol. Dit is die eerste keer dat ek dit ondervind, en ek’t my byna doodgeskrik. Toe ek eers bewus is daarvan, is dit nie meer ʼn probleem nie.

Die R.S Monitor wat in die inligtingstelsel gebou is, werk puik en kommunikeer allerhande belangrike inligting as jy jou Renault RS om ʼn baan wil geniet.

Die Clio is ʼn klein renmotortjie vir minder as R500 000. Nee – dit is nie die vinnigste luikrug op aarde nie, maar teen die prys is daar min wat jou sal kan leer bestuur soos die Clio RS Trophy.

Die reeks lyk só:

Clio RS 200 Lux147 kW/260 Nm5.9 ℓ/100 kmR379 900
Clio RS 220 Trophy162 kW/280 Nm5.9 ℓ/100 kmR419 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-waarborg en 3 jaar/30 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Suzuki Swift Sport100 kW/160 Nm6.5 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km- waarborg

3 jaar/60 000 km- diensplan

R267 900
Ford Fiesta ST200147 kW/290 Nm5.9 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km- waarborg

4 jaar/60 000 km- diensplan

R339 900
Volkswagen Polo GTI outo141 kW/250 Nm5.6 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km- waarborg

3 jaar/45 000 km- diensplan

R379 990
Abarth 500 595 Competizione 1.4T outo132 kW/230 Nm5.8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R468 450
Mini John Cooper Works Hatch Sports outo170 kW/320 Nm5.8 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R492 596
Audi S1 Quattro170 kW/370 Nm7.0 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R499 000

Daar is baie verskillende geure en smake tussen die mededingers. Die prysklas is wydverspreid en een van hulle gaan jou hartsnare roer. As jy een wil hê wat jou sal leer hoe om ʼn voorwielaangedrewe kar vinnig te ry, koop die Renault.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Chris Ws ·

Ek het een Renault besit – nogal splinternuut gekoop ook.Was een Renault te veel.Dis nou vir my ‘n hengse groot plesier om te kyk na een met ‘n vreemdeling agter sy stuur!Nee dankie.

Elmaré ·

Bly weg van Renault! Hulle is briljant aan die verkoopskant MAAR toe ek van daardie handelaarsvloer afry het my 2 jaar en 2 maande nagmerrie ondervinding begin met die koop van ‘n nuwe Duster. Daar was geen naverkoopsdiens, parte vat vir ewig, my kar is soveel keer beskadig as dit ingegaan het om die lugreeling reg te maak, parte is nie ordentlik teruggesit nie, handelaar vee e-posse uit sonder om eers dit te lees, moes by Renault SA se PA gaan draai om enige reaksie te kry, na18 maande se gesukkel met handelaar. Stem volkome saam met ChrisWs hierbo. Elke keer as ek by ‘n Renault verby ry dan sê ek DANKIE TOG dat dit nie meer ek is nie! Nooit ooit weer!!! Moenie sê jy was nie gewaarsku, as jy nogsteeds voortgaan en ‘n Renault koop nie…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.