[Foto’s] Padtoets: Skoonlief en die ondier…

Die Alfa Romeo Giulia Quadrifoglio Verde (Foto: Alfa Romeo)

Soos julle moontlik in ʼn vorige Alfa-berig gelees het, is ek nie uit die staanspoor ʼn Alfisti (ʼn Alfa-aanhanger) nie. Die 4C was vir my ʼn teleurstelling, en ek het al my hoop op die Giulia geplaas. Onlangs het ek toe twee Giulia’s op toets gehad. Die gewone Alfa Romeo Giulia, en toe die asemrowende Alfa Romeo Giulia  Quadrifoglio Verde.

Kom ons begin by die doodgewone Alfa Romeo Giulia 2.0T. Die Giulia het in die mooiste rooi rok hier by die kantoor opgedaag, al was haar skoene komieklik klein – slegs 16”. Die Giulia se aangesig is mooi, bitter mooi. Die binneruim is nie so indrukwekkend soos die eksterieur nie, maar geensins lelik nie. Ek glo met kompetisie soos die C-klas, 3-reeks en A4 gaan Alfa hulle binneruim moet opkikker.

Wat die Alfa kort in binneruim, maak hy voor op in onderstel en dryfstelsel. Die 2.0 viersilinder-turbopetrolenjin in die Giulia is puik. Dié enjin bied 147 kW en 330 Nm. Tussen die mededingers is die Giulia 2.0T die vinnigste van 0 – 100 km/h teen 6.6 sekondes. Hy sal ook aanhou hol tot 235 km/h, heelwat vinniger as die A4 se 210 km/h, gelyk met die 3-reeks en skrams stadiger as die C-klas se 237 km/h. Die ratkas is in samewerking met ZF ontwikkel en is ʼn 8-spoed outomatiese ratkas met ʼn wringkragomsitter. Die ratkas wissel seepglad tussen sy ratte op lae toere, en indien jy die meer sportiewe Dynamic-modus kies, is die ratwisseling meer aggressief.

Die Alfa Romeo Giulia Quadrifoglio Verde (Foto: Alfa Romeo)

Die Giulia se ritgehalte op die klein 16”-wiele is uiters gemaklik. Al is die vering sag is daar nie oordonderende bakrol nie en die Quadrifoglio Verde se DNS wys in die padhouvermoë van die intreemodel. Die binneruim is gemaklik, en al is die duurste materiale nie gebruik nie, bly die Giulia se binneruim groot genoeg vir gemak – met goeie beenruimte vir agterste passasiers. Die kattebak, soos met meeste D-segment sedanmotors, is reusagtig.

Dit was nou Skoonlief, maar wat van die ondier?

Ek, Brendon – nie uit die staanspoor ʼn Alfisti nie – is heeltemal versot en verlore op die Alfa Giulia QV. Die Quadrofoglio Verde, of four leaf clover, is op party Alfa’s gestempel as ʼn simbool van hul ryk motorsportgeskiedenis. Die Giulia QV is ʼn waardige ontvanger van dié embleem. Die QV se 2.9 V6-tweelingturbopetrolenjin is in samewerking met Ferrari ontwikkel. DIT is ʼn Alfa. ʼn V6 wat sy krag deur die agterwiele stoot. En ís daar krag?!

Die Alfa Romeo Giulia 2.0T (Foto: Alfa Romeo)

375 kW en 600 Nm. 0 – 100 km/h in 3.9 sekondes. 307 km/h. Sjoe. Neem in ag, net meer as ʼn dekade terug het ʼn 5.0 V10 BMW-enjin maar 373 kW en 520 Nm gebied. Dié enjin voel meer soos ʼn atoombom as ʼn binnebrandenjin. In Advanced Efficiency-rymodus gedra die Alfa hom heel rustig. Daar is amper geen geraas deur die brandmuur nie. Eers as jy jou voet so ʼn bietjie in die mat begrawe en die toere so verby 5 000 r/min klim, begin daar ouditiewe plesier ontstaan. Normal-rymodus is steeds redelik mak, en stil. Draai die knoppie nog ʼn klik antikloksgewys na Dynamic-rymodus en die Giulia begin wakker word. Nou is die versneller vlymskerp. Skerper as wat ʼn mens ooit van ʼn turboaangejaagde enjin verwag. Die volumeknoppie is ook in Dynamic effe harder gedraai. Meer deur die vier uitlaatpype agter, en steeds min deur die brandmuur.

Omdat ek met vervaardigers se voertuie vertrou word, en my bankrekening heeltemal te klein is, het ek ʼn reël: Los die veiligheidstelsels uit. Ek sit gewoonlik nie die stabiliteit- en- vastrapbeheer af nie. Maar – as ʼn mens die ondier in sy ware vorm wil sien, moet die knoppie nóg ʼn klik antikloksgewys na Race-modus gedraai word. Nou brul hy. Benoud sien ek dat die veiligheidstelsels saam met Race-modus outomaties afgeskakel word. Ons sal maar versigtig moet wees. Die 19”-wiele is oorgetrek met die taaiste rubber wat ek al ooit teëgekom het. Pirelli P Zero Trofeo is die bande se naam. Die bande, met die QV se puik onderstel en vering, en die Giulia se fantastiese stuurkolom, bied vir die bestuurder ʼn vuurpyl wat soos ʼn droom hanteer. In Race-modus is die Giulia bitter kwaad. Sy uitlaatpype brul en klap soos hy ratte wissel.

Die Alfa Romeo Giulia 2.0T (Foto: Alfa Romeo)

Al die krag en spoed moet uiteraard tot stilstand gebring kan word. Die Race-weergawe wat ons op toets gehad het, kom standaard met koolstofkeramiekremme wat asemrowende remkrag het, sonder om te oorverhit. Die arme remme het al deurgeloop met al die joernaliste wat hulle beproef het en is net te duur om vir elke nuwe joernalis te vervang, so ek glo indien dit jou eie Giulia QV is, sou die remme beter die mas opkom.

Die binneruim is effe beter op die QV-model en die voorste sitplekke is heerlike Sparco-rensitplekke wat tog te gemaklik is. Die stuurwiel het ʼn lieflike balans tussen leer en alcantara op. Die dakbedekking is swart, wat die binneruim nóg meer sportief laat voel. Die kombinasie tussen die koolstof-insetsels op die deure en paneelbord, met die rensitplekke en die puik aluminium-rat-spane agter die stuur laat ʼn mens weet daar moenie met dié Giulia gemors word nie.

Die Alfa Romeo Giulia 2.0T (Foto: Alfa Romeo)

Ek en die Giulia Quadrifoglio Verde het ʼn paar dae lank ʼn witwarm verhouding gehad. Maar dis nie vir my volhoubaar nie. Die Giulia het my hele beursie in brandstof ingesluk en is die aakligste motor wat ek al ooit teëgekom het wat brandstofverbruik aanbetref. Ja, baie swaarder as die V8 Range Rover. Die gewone 2.0T was baie ligter op brandstof. Daar is berigte wat kerm oor die Giulia se betroubaarheid. Behalwe vir die alarm wat gereeld geskreeu het in die QV-model het ons geen probleme gehad nie. Nie ʼn liggie wat brand of ʼn limp-modus nie. Ons het ook meer as 1 000 km in die 2.0T afgelê, so indien daar kwale was, sou hulle beslis van hulle laat weet het.

Ek gaan die Alfa Romeo Giulia só opsom: Dit is ʼn D-segment sedanmotor vir motorentoesiaste. In die intreemodel kan daar aandag aan die binneruim gegee word. Die enjins is lekker sterk en die bakwerk bitter, bitter mooi. Die prys is effe kwaai, maar Alfa Romeo het geen uitvoere om krediete op te bou vir invoere nie, so hulle hop as die belastingman kom vir sy stukkie koek. In die intree- en topsegment is die Giulia ʼn ware kompeteerder.

Die reeks lyk só:

Giulia 2.0T147 kW/330 Nm9.7 ℓ/100 km**R555 000
Giulia 2.0T Super147 kW/330 Nm8.4 ℓ/100 km*R625 000
Giulia Quadrifoglio Verde375 kW/600 Nm19.8 ℓ/100 km**PRYS?

*Alfa se beweerde syfer               **Werklike syfer op toetsperiode bereik

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en ʼn 6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só vir die 2.0T:

Volvo S60 T4 Momentum outo140 kW/300 Nm5.8 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R496 796
Audi A4 2.0TFSI outo140 kW/320 Nm4.9 ℓ/100 km1 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R539 500
BMW 320i outo135 kW/270 Nm5.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R557 456
Mercedes-Benz C200 outo135 kW/300 Nm5.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R560 742
Lexus IS 200t E outo180 kW/350 Nm7.5 ℓ/100 km4 jaar/100 000 km-waarborg

4 jaar/100 000 km- diensplan

R601 900

Die kompetisie lyk só vir die Quadrifoglio Verde:

Mercedes-AMG C63 S375 kW/700 Nm8.4 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 171 495
BMW M3 Competition Pack331 kW/550 Nm8.3 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R1 353 436

Ek het nog nie die kans gehad om met die C63 S te ry nie, maar daai wringkrag lyk atomies en sy prys is goed. Ek het ʼn bietjie tyd met die M3 op ʼn baan deurgebring en wat die M3 met die minder krag uitgerig kry, is indrukwekkend. In dié klas gaan dit oor smaak, en indien jy bevoorreg genoeg is om een te kan bekostig, maak dit my hart bly dat iemand se hart daagliks gaan voel wat myne vir ʼn week beleef het. Dié Alfa is besonders spesiaal en ek hou nie net van hom nie, ek is lief vir hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Kiepie ·

19.8Lt/100km!? Goeie gorrel MM is dit reg want dit reken om na 5km/lt?

Brendon ·

Dagsê Kiepie

Dankie vir jou kommentaar. Dit is inderdaad, ja. Om daai syfer te bereik moes ek rustig ry op die snelweg ook. As mens net hard gery het, het hy by 28 gaan draai.

As mens die R1.4m het sal die brandstof seker nie pla nie. Jammer dat ek nie R1.4m het nie.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Paul ·

Komaan, man. Jy moet darem die kar wat jy toets, se NAAM kan reg spel. Dis Giulia, nie Guilia nie… regtigwaar…
Ook, die enkelvoud is “Alfista”. Meervoud is “Alfisti”. Een Alfista, twee Alfisti.
Die motor is boonop ook nie genaamd “Quadrifoglio Verde” nie. Dit is nou slegs die “Quadrifoglio”. Die “verde”-deel, wat “groen” beteken, is weggelaat. Dit beteken ook die afkorting is QF en nie QV nie.

Brendon ·

Dagsê Paul,

Vreeslik dankie vir jou kommentaar. Jy is reg, ek vra om verskoning. Dit is wel Giulia. Die motor is wel genoem Quadrifoglio Verde, of QV – soos uit Alfa se eie persverklaring gehaal “Alfa Romeo Giulia Quadrifoglio Verde (QV) derivative”. Meeste Alfisti’s praat ook van die QV, soos ek, Alfa Romeo, Topgear en die manne van Car-tydskrif.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Paul ·

Alfa Romeo Suid-Afrika sal nie die verskil tussen ‘n 1960 Giulietta en ‘n 2017 Giulietta kan raaksien met ‘n vergrootglas nie. Meeste van die mense wat daar werk het ‘n uiters swak kennis van hul eie motors en die maatskappy se geskiedenis.

Die kar is NIE die “Quadrifoglio Verde” of “QV” nie. Slegs “Quadrifoglio”. Luister na Alfa Romeo Italië, nie Alfa SA nie.

Die rede hoekom sommige van die karre destyds “Quadrifoglio Verde” genoem is, is omdat hulle ook destyds in die 1980s ‘n “Quadrifoglio Oro” (goud) gehad het die Alfasud en die 33, wat ‘n luukse spesifikasie aangedui het. Terselfdertyd was daar “Quadrifoglio Verde” modelle van dieselfde karre, wat ‘n hoër verrigting spesifikasie aangedui het.
Daarna is die naam “Quadrifoglio Verde” meestal gebruik vir hoëverrigting motors, terwyl daar meestal geskuif is na ander benamings as “QO” vir die luukse spesifikasies. Die naam “Quadrifoglio Verde” is gebruik tot in 2015 vir die sportiewe modelle van die Giulietta en die MiTo. Sedertdien is dit verander na “Veloce” op daardie modelle, terwyl die nuwe Giulia se hoëverrigtingmodel SLEGS die naam “Quadrifoglio” (“QF” afgekort) dra, sonder die “Verde”.

Topgear is nie ‘n bron vir feite nie, dis slegs ‘n bron van vermaak. Die helfte van die motorpublikasies loop rond en vertel die Giulia QF het ‘n “hot inside V” enjin, wat ook nonsens is.

MV ·

As jy 1000km/h met die 2.0T kon kry, dan sal ek veel eerder hom vat.

Brendon ·

Dagsê MV

Baie dankie vir jou kommentaar. Die fout is reggestel.

Groetnis,
Brendon
nms Maroela Media

Chris Noordkus ·

Baie dankie vir hierdie toets, ‘n man kan net droom, intussen sal ek tevrede bly met my Brera Q 4, 194Kw en al

Paul ·

Die eerste twee foto’s van die binneruim van die motor(s), onder die artikel, se byskrifte dui aan dat dit van die binneruim van die Giulia Quadrifoglio is. Daardie twee foto’s is egter nie van die QF nie, maar van die 2-liter model.

Die QF het ‘n rooi “start/stop” knop op die stuurwiel, nie swart nie. Die stuurwiel se ontwerp is ook anders. Die instrumentpaneel het ook verskille, soos dat die QF ‘n vierblaarklawer-logo in die speedometer het en dat die rooi in die toereteller nie reeds by 5500 rpm begin nie.

Die tweede foto, van die sentrale beheerpaneel, het ook ‘n foutiewe byskrif. Dis nie die Quadrifoglio s’n nie, aangesien die “DNA” knop nie ‘n “Race”-opsie vertoon nie en ook nie die verstelbare skokbrekers se knoppie het nie. So ook die hout-inleg op die foto, terwyl die QF koolstofvesel daar gebruik.
Die 4de foto se byskrif dui aan dat dit die 2-liter model se binneruim is, maar dit is ook foutief. Daardie is ‘n foto van die 2.2 dieselmodel (wat nie in SA verkoop word nie) se binneruim – mens kan dit sien aan waar die rooi op die toereteller begin, tussen die 4000 en 5000rpm lyne.

Ek kan glo dat Alfa Suid-Afrika dalk die foto’s so aan Maroela verskaf het, maar wat net weereens aandui dat Alfa Suid-Afrika nie ‘n “clue” het nie. Ook dat hulle foto’s van linkerhandstuurmodelle verskaf, terwyl foto’s van regterhandstuurmodelle bestaan en vir die VK-mark gebruik word…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.