[Foto’s] Padtoets: Soos jou lekkerste paar skoene…

Die Volkswagen Golf GTi (Foto: Volkswagen)

Daar is baie voertuie wat nie alles vir almal kan wees nie. Ek hou byvoorbeeld van ʼn dubbelkajuit, want dit pas my leefstyl baie goed. My are is ook wel propvol petrol en ʼn mens jaag nie met ʼn dubbelkajuit nie… of is nie veronderstel om dit te doen nie. Dus soek ek ʼn meer sportiewe motor ook, en dit pas nie altyd my bankrekening nie. Ai.

Behalwe vir die lorriegedeelte, is daar ʼn Volkswagen wat baie ver gaan om alles vir almal te wees. Die Golf GTi. ʼn Mens moet die Engelse gesegde ʼn bietjie aanpas… Jack of all trades, master of none moet word: Jack of all trades, master of most. Dit kan ʼn doodgewone mediumgrootte luikrug wees óf ʼn sportmotor. Hy is netjies genoeg dat jy hom na jou aanstaande skoonma se huis toe kan vat. Hier is geen reusedrukvinne of uitlaatpype wat groter is as jou kombuisasblik nie. Dié GTi het maniere.

Die GTi is vir my ʼn briljante balans tussen “net ʼn luikrug” en ʼn sportmotor. VW het nie te ver gegaan met sy ontwerp nie. Die binneruim is ook vir my in ʼn ander klas. Luuks, eintlik. Heerlike leersitplekke en die afronding in die kajuit is puik. Alles is mooi ergonomies op sy plek en van baie goeie gehalte materiale gemaak. Daar is baie duurder karre daar buite met baie swakker interieurs.

Die Volkswagen Golf GTi (Foto: Volkswagen)

Met jou GTi kan jy Volkswagen se puik Active Info Display as opsie kies. Al die inligting word dan op ʼn puik 12.3”-skerm uitgebeeld. ʼn Mens kan kies tussen vyf verskillende opsies oor watter inligting waar en hoe verskyn. Ek dink dit is ʼn opsie wat ʼn mens nie kan los nie. Die ander opsie wat geneem moet word, is die Discover Navigation Pro 9.2”-raakskermradio met klank deur Dynaudio. Dié twee opsies maak die GTi se bestuurservaring vir my amper perfek.

Op die pad kry die GTi ʼn baie vreemde ding reg. Met die opsionele Adaptive Chassis Control with Driver Profile Selection kan ʼn mens ʼn knoppie druk wat sê Comfort. Dan verander jou GTi wat op 19”-wiele ry in ʼn Rolls Royce. Ek’t nog nooit ʼn moderne voertuig beleef wat op 19”-wiele met laeprofielbande ʼn slegte pad só kan aandurf nie – dit is verstommend.

Die Volkswagen Golf GTi (Foto: Volkswagen)

Die 2.0 viersilinderturbopetrol-bomklapper onder die GTi se enjinkap is fantasties. Nee, dit is nie die

sterkste enjin in ʼn luikrug nie, maar die feit dat die enjin nie ooreis is nie maak dit baie gemakliker op die pad. Tesame met VW se verstommende 7-spoed DSG-ratkas maak dit van die GTi ʼn blitsige vuurpyl. ʼn Mens moet onthou, hy is tog steeds voorwielaangedrewe: so 0 – 100 km/h gaan nie veel vinniger gedoen kan word nie, al het hy ʼn miljoen perdekrag. 0 – 100 km/h duik op in 6.4 sekondes en die GTi sal sy bene rek tot 248 km/h. Dit kry hy alles reg met 169 kW en 350 Nm. Die ratkas help ook om indrukwekkende goeie brandstofverbruiksyfers te behaal. Ons het op die toets met swaar voete steeds 9.1 ℓ/100 km bereik. Ons toets binnekort die Golf R wat vierwielaangedrewe is, so ek sien daarna uit om te sien hoe hulle verskil.

Die GTi is maklik om op te som. Dit is ʼn fantastiese luikrug wat al sedert 1975 ʼn wêreldberoemde gunsteling is. Vir wat die voertuig bied, is hy ook nie buitensporig duur nie. Sy kompetisie is wel sterk, maar die GTi bied iets unieks, hy kan – maar hy skreeu nie daaroor nie. Nes jou lekkerste paar skoene is dit die GTi se sleutels waarna jy altyd eerste gryp.

Die GTi, GTD en R-reeks lyk só:

Golf GTD130 kW/ 350 Nm5.3 ℓ/100 kmR506 900
Golf GTi169 kW/ 350 Nm6.4 ℓ/100 kmR545 900
Golf R213 kW/ 380 Nm6.9 ℓ/100 kmR657 000

Die kompetisie lyk só:

Renault Megane 151kW GT151 kW/280 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R457 900
Alfa Romeo Giulietta 1750TBi Veloce177 kW/340 Nm6.8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R479 900
Ford Focus ST3184 kW/360 Nm6.8 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/ 80 000 km-diensplan

R495 900
BMW 125i 5-deur M Sport sports-outo165 kW/310 Nm5.7ℓ/100km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R525 140

Die Renault is nie eintlik ʼn direkte mededinger nie; die RS-modelle wat kom is meer in die GTi se klas. Die kompetisie is almal baie goed geprys. Die Alfa en BMW het instandhoudingsplanne, nie diensplanne nie. Die BMW is agterwielaangedrewe, so nie ʼn direkte mededinger nie, maar kan ʼn goeie alternatief bied vir dié wat sportiewe dinamika soek. Die GTi is vir my amper perfek en bly my keuse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kiepie ·

As jy met enige R550,000 se ryding by ‘n aanstaande skoonma opdaag gaan sy waarskynlik Dollar-tekenkies in die oë kry en haar dogtertjie met graagte opgee. Tensy Pappa natuurlik daarvoor betaal het want dan is jy net nog ‘n bedorwe brokkie.

Paul ·

Hoe is die enjin “nie ooreis nie” en hoe maak dit die kar gemakliker op die pad?

Bedoelende mens hoef nie die toere hoog te druk om krag uit die enjin te kry nie?

willie ·

dit is ñ lieflike motor wat se naam deur sommige windgat laaities deur die teer gesleep word in die woonbuurtes! as ek ñ aanstaande skoonma / pa was sou ek jou weg jaag!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.