Die motorbedryf gaan al ʼn geruime tyd deur ietwat van ʼn verandering. Net mooi 30 jaar gelede was ʼn sedan die mees verkoopte bakstyl gewees. Dan luikrugmotors en heel laaste bakkies en busse. Deesdae is almal bakkie-behep, ek self ook, en dit laat die sedan in ʼn moeilike posisie. Gelukkig sal daar altyd ʼn reusemark wees vir luikrugmotors. Suzuki het by die bekendstelling van die Baleno gesê: “Ons het besluit om getrou te bly aan dit waarin ons goed is. Klein, bekostigbare voertuie.” Dié Baleno is bewys van daai besluit en die resultate is puik.
Die ontwerp van die Baleno val in plek en ooreenstemming met Suzuki se tema. Die karretjie is mooi afgerond en ietwat sportief dog heeltemal modern. Die binneruim is net so aangenaam. ʼn Indrukwekkende kattebak sal ʼn redelike hoeveelheid bagasie kan insluk en beenruimte vir agtersittendes is baie goed vir ʼn klein luikrug. Die bestuurdersitplek is lekker gemaklik en stel in ʼn japtrap nes jy hom wil hê. Die stuurwiel kan vir reik en kantel stel, so ʼn perfekte bestuursposisie is moontlik vir enige persoon, lank of kort.
Die standaard-spesifikasievlak in die Baleno beïndruk. Daar is spoedbeheer en Bluetooth. ʼn Indrukwekkende klimaatbeheerstelsel en elektriese vensters voor en agter. Dié Suzuki sluit aan met die druk van ʼn knoppie, so jy kan sommer die sleutels in jou sak hou.
Weereens bring dit my na die lekkerste deel. Hoe die Baleno voel op die pad. Ek was skepties oor die Baleno se krag. Ons het die bekendstelling op seevlak bygewoon en ʼn atmosferiese enjin het ongeveer 17% meer krag op seevlak teenoor Gauteng. Gelukkig het die Baleno nou al tyd gehad om lekker in te loop en die kar voel presies dieselfde as wat ek hom by die see onthou. Die Baleno weeg ʼn anoreksiese 915 kg en dit is die sleutel tot die Baleno-geheim. Jy het nie ʼn dorstige turboaangejaagde enjin nodig nie. Maak die kar lekker lig en laat die enjin rev. Die resep is na my mening puik.
Die 1.4 liter-viersilinderenjin bied 68 kW teen 6 000 r/min en 130 Nm teen 4 000 r/min. Die enjin sit sy krag deur ʼn gewone 5-spoed-handrat met lekker lang ratte. Dit help om die toere laag te hou teen snelwegspoed, maar hou jou ook nie aanhoudend besig met die kierie in die verkeer nie. Indien jy vinnig ʼn gaatjie wil steel in die verkeer, spring ʼn rat of twee terug en die Baleno spring maklik in aksie. Die Baleno sal van 0 – 100 km/h nael in 10,9 sekondes en aanhou draf tot 175 km/h, beweer Suzuki. Ek sê hy is vinniger. Die lekkerste eienskap van die enjin is hy kan toertjies doen. Hy kan lekker hard trek as jy jou voet plant, maar indien jy rustig is, dan is hy asemrowend lig op brandstof. Die beste syfer wat ek behaal het, is 4.3 ℓ/100 km. Suzuki beweer ʼn syfer van 5.1 ℓ/100 km op die gekombineerde siklus. Heeltemal moontlik, glo ek.
Die Baleno se ritgehalte verseker dat hy nie net vir die dorp geskik is nie, maar ʼn lekker reismaat sal wees vir die langpad. Die kajuit is stil binne en die vering soepel sodat slegte paaie jou nie deur die geelbladsye laat blaai vir ʼn chiropraktisyn nie.
Annalize, Maroela Media se projekbestuurder, oorweeg dit sterk om self so ʼn Baleno aan te skaf. Sy voel veilig en bederf deur die luukshede. Sy voel die Baleno is lekker ruim en dat daar oorgenoeg krag is. Cyril, Maroela Media se leefstyljoernalis, meen: “Wat my veral opval, is dat die ontwerp tipies Suzuki is. Dit lyk sommer soos ʼn Suzuki voor jy die badge sien – en dis nie ʼn slegte ding nie. Ek hou baie van hoe die motor lyk – binne en buite. Ek ry ʼn Chev Sonic en is elke dag geïrriteerd met hoe hard die enjin raas. Die Suzuki is sag en vinnig en alles wat ek in ʼn luikrug soek. Hy gee jou die gemak van ʼn sedan in so ʼn klein kar. Al die ekstras is daar. Die kar voel stewig op die pad, maar ook asof jy hom met ʼn pinkie kan rondbeweeg. Hy is ontsettend lig op brandstof – my Sonic verbruik maklik twee keer soveel brandstof. Ek het ʼn week daagliks 20 km gependel en die naald het nie eens beweeg nie.”
Ek gaan die Baleno so opsom: Dit is ʼn puik luikrug sonder fieterjasies. Suzuki het ʼn magdom goeie produkte tans op die mark en is deur Suid-Afrikaners self as handelsmerk van die jaar aangewys. Die bougehalte is goed en die enjin puik. Hy is selfs goed geprys …
Die reeks lyk so:
Baleno 1.4 GL | 68 kW/130 Nm | 5.1 ℓ/100 km | R199 900 |
Baleno 1.4 GLX | 68 kW/130 Nm | 5.1 ℓ/100 km | R229 900 |
Baleno 1.4 GLX outo | 68 kW/130 Nm | 5.4 ℓ/100 km | R244 900 |
Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en ʼn 4 jaar/60 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk so:
Toyota Yaris 1.3 | 73 kW/125 Nm | 5.6 ℓ/100 km | 3 jaar/100 000 km- waarborg 3 jaar/45 000 km- diensplan | R221 100 |
Ford Fiesta 1.4 Ambiente | 71 kW/128 Nm | 5.7 ℓ/100 km | 4 jaar/120 000 km- waarborg 4 jaar/60 000 km- diensplan | R226 400 |
Renault Clio 66kW Turbo Dynamique | 66 kW/140 Nm | 5.5 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km- waarborg 3 jaar/45 000 km- diensplan | R244 900 |
Volkswagen Polo 1.2TSI Comfortline | 66 kW/160 Nm | 4.9 ℓ/100 km | 3 jaar/120 000 km- waarborg 3 jaar/45 000 km- diensplan | R253 100 |
Kia Rio 1.4 Tec | 79 kW/135 Nm | 6.4 ℓ/100 km | 5 jaar/onbeperkte km-waarborg 4 jaar/60 000 km- diensplan | R261 995 |
Hyundai i20 1.4 Sport | 85 kW/160 Nm | 6.5 ℓ/100 km | 5 jaar/150 000 km- voertuigwaarborg 7 jaar/200 000 km- dryfstelselwaarborg 3 jaar/60 000 km- diensplan | R292 900 |
Indien jy in die mark is vir ʼn luikrugmotor – kyk na almal. Die Baleno hoef vir geen mededinger terug te staan nie.
Ek het n paar jaar terug ook baie belanggestel in Suzuki, maar ongelukkig was die diens nie vir my goed gewees nie. Ek het 3 verskillende takke probeer, maar toe besluit om maar te los. Nou probeer ek nie Suzuki afkraak nie, maar gee maar net opbouende kritiek.
Was dieselfde met my… Toe koop ek maar BMW
Ek wonder of Suzuki enige planne het om die “Boosterjet” -turbo enjin in die Baleno vry te stel, soos wat hy oorsee verkoop word? Dit sal ‘n lekker toevoeging wees vir die Suzuki reeks wees!