[Foto’s] Padtoets: Suzuki Grand Vitara 2.4 Summit outo

Die Suzuki Grand Vitara 2.4 Summit outo (Foto: Suzuki)

Deesdae druk motorvervaardigers hulle karre propvol elke denkbare tegnologie, en dan nog so ʼn bietjie ekstra – net om beter te probeer wees as die volgende handelsmerk. Na my mening is dit nie altyd die regte benadering nie. Ek stem saam dat daar ontwikkeling en vooruitgang moet wees, maar teen watse prys? Dié Suzuki bied dieselfde resultate as sy mededingers, maar gebruik dié keer ʼn ander formule.

Suzuki bou al jare lank goeie, eenvoudige motors. Hoeveel SJ’s sien jy nog op die paaie? Daai klein Suzuki’s is legendaries in veldrykringe. Dit bring my by die Grand Vitara 2.4 outo. ʼn 4-Spoed-outo, lag jy? Dié 4-spoed met sy outomatiese ratkas raak sy taak beter kwyt as die 9-spoed-outo wat ons onlangs in ʼn Jeep ontmoet het. Hier is geen turbo’s of ander fieterjasies nie. Die Grand Vitara het presies dieselfde 10 ℓ/100 km gebied as wat ons in die Jeep behaal het, so die 1.4T van die Jeep en die 2.4- atmosferiese enjin van die Suzuki is amper dieselfde, net verskillende benaderings. Die Grand Vitara is die enigste middelslag-laestrek-sportnutsvoertuig. Al die ander vierwielaangedrewe sportnutsvoertuie in dié klas is slegs “soft-roaders” sonder ernstige veldryvernuf.

Die Suzuki Grand Vitara 2.4 Summit outo (Foto: Suzuki)

Die Grand Vitara het ʼn netjiese ontwerp. Nie uiters modern nie, maar ek hou daarvan. Reguit lyne sonder foefies. Die binneruim is net so eenvoudig, en dit is eintlik verfrissend. Alles wat ʼn mens benodig, is daar: klimaatbeheer, spoedbeheer, sondak, Bluetooth, ABS en lugsakke – die hele katoetie. Die Grand Vitara se sitplekke is lekker gemaklik en bied heerlike steun in al die regte gaatjies. Die stuurwiel kan net kantel – ek sou graag wou hê hy moet vir reik ook kan stel. Beenruimte vir agtersittendes is heelwat groter as wat ek verwag het.

Op die pad voel die Suzuki lekker stil. Sy vering is effe sag, maar ons moet onthou dat dit ʼn 4×4 is – en die sagter vering is lekker gemaklik. Sy padhouvermoë is normaal vir ʼn sportnutsvoertuig van dié grootte en hy sal klou nog lank nadat jy bang raak vir die bakrol. Die Grand Vitara het 200 mm-grondvryhoogte – heeltemal voldoende. Indien jy ʼn ernstige 4×4-foendie is, sal jy moontlik moet kyk na ʼn “lift-kit”. Die Grand Vitara kan ook ʼn indrukwekkende 1 850 kg sleep, so enige woonwa duskant ʼn Jurgens Exclusive sal kan werk … Ek dink net die wringkrag gaan ʼn bietjie min wees vir soveel kilogramme sleep.

Die Suzuki Grand Vitara 2.4 Summit outo (Foto: Suzuki)

Ek kan die Grand Vitara so opsom: Dit is ʼn uiters bekwame voertuig. Lekker ruim en gebou met eenvoudige, betroubare tegnologie. Die Grand Vitara is ligter op brandstof as wat ek verwag het teen 10 ℓ/100 km en die 4-spoedratkas verbaas met sy verfyning. Omdat die Grand Vitara nie simpel fieterjasies het nie, gaan hy goedkoop wees om te onderhou en sal jou minder in die steek laat as van sy nuwer tegno-boffin-mededingers.

Phillip, ʼn lid van die nuusspan, meen: “Elke keer dat ek in die Suzuki Grand Vitara geklim het, het alles gejeuk net om die sonkap oop te maak, voet in die hoek te sit en die lang pad aan te durf. Of beter nóg – ʼn grondpad bosveld of wildtuin toe; hoe rowwer die pad hoe beter. Maar die Pretoriase verkeer moes maar doen, en selfs dít was ʼn plesier. Die outomatiese ratkas skakel oor soos ʼn droom en jy is salig onbewus dat jy ʼn uur in die verkeer deurbring. Die binnekant is oop, ruim en gerieflik om maklik die pad te vat as jy moeg raak vir die lewe in die stad. Ek kan niks negatiefs oor dié sportnutsvoertuig sê nie, behalwe dat ek spyt is hy moes teruggaan. Kersvader, ek sal soet wees, gee asseblief vir my een vir Kersfees.”

Die reeks lyk so:

Grand Vitara 2.4i Dune122 kW/225 Nm8.9 ℓ/100 kmR369 900
Grand Vitara 2.4i Dune outo122 kW/225 Nm9.9 ℓ/100 kmR384 900
Grand Vitara 2.4i Summit122 kW/225 Nm8.9 ℓ/100 kmR442 900
Grand Vitara 2.4i Summit outo122 kW/225 Nm9.9 ℓ/100 kmR459 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/100 000 km-waarborg en ʼn 6 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk so:

ModelKragBrandstofverbruikWaarborgPrys
Mahindra Scorpio 2.2 CRDe 4×488 kW/280 Nm7.2 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

3 jaar/60 000 km- diensplan

R311 995
Ford Everest 2.2 4WD XLS118 kW/385 Nm7.1 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km- waarborg

5 jaar/100 000 km- diensplan

R537 900
Jeep Cherokee 3.2 4×4 Trailhawk200 kW/315 Nm10 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km- waarborg

6 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

R777 900

Sodra laestrek ʼn vereiste is, dan raak die poel mededingers yl. Suzuki is ook vanjaar as handelsmerk van die jaar aangewys in Cars.co.za se motor van die jaar-toekennings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.