[Foto’s] Padveiligheid: BMW Gevorderde bestuurdersopleiding

Een van BMW se motors wat die bestuurdersopleiding voltooi (Foto: Verskaf)

Talle Suid-Afrikaners verkeer onder dieselfde illusie dat ons die beste bestuurders is. Doen jouself ʼn guns, en gaan probeer weer jou toets slaag, óf gaan vir gevorderde opleiding. Jy sal geskok wees as jy sien hoe verkeerd ons is en watter slegte gewoontes verskriklik gevaarlik is in noodsituasies.

Maroela Media was onlangs bevoorreg om die Advance High Performace M3-kursus te voltooi by BMW se fasiliteit by Zwartkops-renbaan. Ek het al voorheen opleiding gehad – by ander vervaardigers – en wat uitstaan, is dat ’n mens elke keer nog iets nuuts leer, en die ou lesse afstof.

As jy onder die indruk is dat só ʼn kursus jou leer hoe om ʼn jaagduiwel te wees, is jy heeltemal verkeerd. BMW wys jou onder veilige toestande presies hoe ver ʼn kar neem om van verskeie snelhede af te rem. Die instruksie is om aan die kant van die baan te staan waar jy dink die kar tot stilstand gaan kom. Teen 30 km/h, 60 km/h en 120 km/h was ek verkeerd… en ek hét al dié demonstrasie gesien. Wat BMW daardeur wil bereik, is: Die volgende keer as jy op die snelweg naby aan ʼn ander voertuig ry, weet jy dat daar nie genoeg plek is om te rem indien daar ʼn noodsituasie ontstaan nie.

Op die glyvlak leer BMW jou hoe om op ʼn hindernis af te storm, remme aan te slaan en die ABS-remme te gebruik om die hindernis te vermy. Al klink dit maklik, glo my – die meeste mense trap die remme die eerste twee keer geensins hard genoeg nie. Dit raak makliker soos wat ’n mens oefen en leer hoe die voertuig reageer.

Ná hulle jou leer hoe om veilig te wees, is dit ’n bietjie speeltyd. Ons is toe die kans gegee om te probeer drift. Sjoe – toe is ons skielik nié die beste bestuurders in die heelal nie.

Kyk gerus na hul aanbiedings. Dit is elke sent werd en party versekeraars sal vir jou afslag bied indien jy só ʼn kursus voltooi. Besoek gerus die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.