[Foto’s] Padveiligheid: eendjies, eendjies, veilig om die baan

ʼn Baandag op Kyalami (Foto: Brian Cheyne)

Ek ry al motorfiets vandat ek 14 jaar oud was. Dis baie jare en ek is bedrewe op ‘n motorfiets. Ek weet hoe werk die ratte en die koppelaar en die remme. Dinge gebeur nou al vanself. Uit die aard van my rol as motorfietsjoernalis, moet ek noodwending vinnig kan aanpas by die fietse wat die vervaardigers aan my toevertrou.

Ná ʼn redelike ernstige ongeluk so ’n paar jaar terug is my vertroue egter geknou en het ek besef, ek ry nie ʼn motorfiets volgens sý vermoë nie, maar eerder volgens my gebrek daaraan. En as jy dit nie van jouself wil glo nie, gaan klim saam met een van die bedrewe manne agterop ‘n superfiets, dan wys hulle jou hoe.

Toe Clinton Pienaar van Superbike-tydskryf my nooi na ʼn baandag op Kyalami, het ek die uitnodiging met ope arms aangegryp. Ek reël toe sommer met Suzuki dat hulle vir my die nuwe Suzuki SV650 vir die dag leen. Dit is die ideale klein fietsie vir so ’n dag. Daar is drie groepe ryers: Die vinnige ryers is in A, die gemiddelde ryers in B en die beginners, of mense wat hul eerste baandag bywoon, is in C. Ek skaar my by die C-groepie.

ʼn Baandag op Kyalami (Foto: Brian Cheyne)

Ek onthou Kyalami nog van die dae toe ek Formule 1 daar gekyk het, maar die baan het onlangs nuwe eienaars gekry en is volledig opgeknap. Die baan se oppervlak is vars en bied baie greep. Tot my verbasing is die kuipe van hoek tot kant vol motorfietse. Ek kyk na hierdie fietse en begin wonder waarvoor ek myself ingelaat het. Ná die inligtingsessie gaan ons klaskamer toe. Buite brul die Groep A-manne verby en ons instrukteur, Dave, begin vir ons vertel wat die dag gaan behels.

Net daar besef ek: As jy dink jy kan motorfiets ry, maar jy was nog nooit op so ’n dag nie, dink weer. Ek kan nie glo hoeveel dinge ek verkeerd doen nie. Miskien nie verkeerd nie, maar daar is wel ‘n beter manier, een wat my ‘n beter ryer gaan maak. Ná die eerste stukkie klas is ons baan toe om te kyk waar alles is en om net te ontspan. Hierdie dag is nie ‘n wedren nie. Jy is hier om te leer en jou vaardigheid en vertroue stukkie vir stukkie in ʼn veilige omgewing op te bou. Die instrukteurs ry saam en wys met handgebare op jou foute. Dan ry een voor my om my die beste lyne om die baan te wys. Terug in die kuipe kan jy vrae vra en hulle deel vrylik advies uit.

ʼn Baandag op Kyalami (Foto: Brian Cheyne)

Ná vyf sessies om die baan het my vertroue merkbaar verbeter. Baie van dit wat ons geleer het, verg nog ‘n doelbewuste aksie van my kant af, maar met tyd sal dit deel word van my mondering. ʼn Goeie baandag is wanneer jy die baan beter verlaat as wat jy gearriveer het, en jou motorfiets en jy sonder skrape is.  Die heel belangrikste item wat jy by die huis moet los, is jou ego. Dit was waarlik ‘n leersame dag, en as jy kinders het wat dalk opgradeer na ‘n groter fiets, sou ek sê so ’n dag is verpligtend. Net soos Dave voorspel het, was my rit huis toe ‘n totale ander ervaring.

Die volgende een is die 16de Desember, weer op Kyalami. Die koste is R3 200 per ryer en jy kan by Michaela (011 793 4244) of [email protected] bespreek.  So ’n dag is ‘n belegging in jouself, en dit wat jy op die baan leer en oefen, pas jy net so in jou daaglikse pendel toe. Dit maak van jou ‘n beter ryer. Punt.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

anton ·

Alles goed en wel maar kon hulle nie die volgende byeenkoms op n ander dag as 16 Desember gekies het nie???
Dit is immers ”GELOFTE DAG” vir die wat nog weet wat dit beteken!!!

Anoniem ·

Dankie dat jy nog graag Geloftedag wil vier. Daar is hopelik na Geloftedag weer ‘n kursus wat jy kan bywoon?

anton ·

Dankie Anoniem. Ja dit is n BAIE belangrike dag in ons volk se geskiedenis en dit is van uiterse belang dat ons die gelofte aan God moet nakom soos ons voorvaders aan God beloof het.
n mens mag nimmer ooit n belofte en gelofte aan God nie gestand doen nie!
Ons wonder soms hoekom gaan dit so sleg met S.A maar doen ons wat ons veronderstel is om te doen?
Baie jare gelede was die dag n heilige dag en soos n Sondag gesien.
Maar deesdae……………….??????????
Vriendelike groete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.