[Foto’s] SA Bike Festival ʼn groot fees

SA Bike Festival (Foto: Brian Cheyne)

Wat ʼn fees! Die South African Bike festival, wat van 26 tot 28 Mei by Kyalami gehou is, was ʼn groot trekpleister vir motorfietsgeesdriftiges van reg oor die land. Soos dit dan ook gaan by skoue van hierdie kaliber, het die vervaardigers met hul nuwe vrystellings gepronk. Vrydag is die pers deur al die vertoonlokale begelei en die nuwe modelle is onthul en bespreek.

KTM se gas was Joey Evans, wat 10 jaar terug nog ʼn parapleeg was, en wat hierdie jaar aan die moordende Dakar-wedren deelgeneem het. Joey is en bly ʼn inspirasie. Wat nuwe modelle betref, het KTM nie teruggehou nie, en ek wens ek was weer 16 dat ek die nuwe RC125 kon ry.

Husqvarna het ʼn vreemde fiets daar gehad, die VITPILEN, oftewel “wit pyl”. Ek was onder die indruk dat dit net ʼn konsep is, maar Husqvarna is ernstig om hierdie fiets as ‘n pendelfiets aan te wend.

Indian het twee nuwe modelle bekend gestel: die Roadmaster classic en die Scout Sixty. Indian se pryse is baie kompeterend en as groot V-enjins jou hoendervleis gee, moet jy dalk ʼn draai by Indian gaan maak.

Zontes, wat nuut is in Suid-Afrika, het verbasend aantreklike fietsies daar gehad, en ek sal kyk of ek nader kan kennis maak met hierdie vervaardiger.

Yamaha het hulle nuwe R6 bekend gestel en ook ʼn konsep, die T7, vertoon. Die T7 het baie aandag getrek, want dit lyk nou na ʼn regte vrotpadfiets.

SA Bike Festival (Foto: Brian Cheyne)

Beide Suzuki en Honda het hul mededingers in die 1000cc-klas bekend gestel, naamlik die GSX-R en Fireblade onderskeidelik.

Harley-Davidson het hul Street Rod en nuwe Road King onthul en BMW nog ʼn variasie op die R nineT-konsep, die Racer. Die nuwe BMW G 310 R was ook te siene, en ek kan nie wag om hierdie buksie onder hande te kry nie.

Die laaste stop was die nuut uitgebreide Ducati-reeks, waaroor ek reeds verslag gedoen het.

Die groot aantrekking is natuurlik dat die meeste van die vervaardigers jou ʼn kans gebied het om om Kyalami te ry met hul fietse. Die baan is in ʼn ongelooflike goeie toestand, en dit was werklik ʼn ervaring om om hierdie ikoniese baan te kon ry.

Daar was soveel om te sien en te doen dat ek volgende jaar my besoek oor twee dae gaan verdeel. Een dag om verslag te lewer, en die volgende dag om alles in te neem. Met oorgenoeg vermaak vir kinders,  stalletjies met verversings, musiek en ʼn saal vol klassieke motorfietse was daar regtig genoeg om selfs die grootste motorfietsgeesdriftige gelukkig te hou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Kaapsekerel ·

Hoe kan dit die “SA Bike festival” genoem word as dit slegs in Gauteng aangebied is?

As dit nie in die Kaap gebeur het nie, het dit nie gebeur nie.

Marcel ·

Dit was nou wraggies lekker gewees. Ek het met die CBR 1000, Suzuki GSXR 1000 en nog so paar ander fietse om die baan gejaag. Daai CBR is iets uit ‘n ander wêreld, as dit maar net nie vir sy prys was nie…

Jan ·

Wat n niksseggende nuttelose berig. Absolute mors van tyd om dit te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.