[Foto’s] SA gekies vir BMW Motorrad International GS Trophy

SA gekies vir BMW Motorrad International GS Trophy (Foto: BMW)

“Suid-Afrika bied die perfekte landskap vir GS-ryers. Ons is baie gelukkig om sulke lojale, vaardige en toegewyde kliënte te hê wat die gees van GS laat leef.” Dít is die woorde van Edgar Kleinbergen, algemene bestuurder van BMW Motrorrad in Suid-Afrika.

Vroeër vanjaar het oor die 800 GS-ryers van oor die land deelgeneem aan die GS Trophy-uitdunrondes. Die beste mansryers uit ses provinsies en nege vroueryers het die finale groepie van 28 uitgemaak. Hulle het die naweek van 12 Augustus net buite Amersfoort in Mpumalanga swaarde gekruis by die BMW Motorrad GS Trophy National Qualifier 2017. Die doel was om ʼn posisie los te ry in die nasionale en vrouespanne wat Suid-Afrika gaan verteenwoordig by die International GS Trophy 2018. Hierdie strawwe kompetisie vind gedurende Junie 2018 plaas in Mongolië en is sewe dae lank. In 2016 het Span SA in Thailand as die wenner uit die stryd getree.

Die ryers se staal is oor drie dae getoets met 19 verskillende uitdagings, van eenvoudige balanseringstoetse tot uiters strawwe roetes. Hierdie uitdagings is spesifiek ontwerp om die ryers se ryvernuf, spanwerk, vasberadenheid en uithouvermoë tot die uiterste te beproef.

Die ryers wat uiteindelik gekies is vir die nasionale span is Mark Dickinson en Eugene Fourie van Gauteng en Chris Meyer uit die Oos-Kaap. Linda Steyn and Ezelda van Jaarsveld is gekies vir die vrouespan.

SA gekies vir BMW Motorrad International GS Trophy (Foto: BMW)

Kleinbergen het die lede van die nasionale span hartlik gelukgewens met hul plasing. Volgens hom het hul ryvermoë kop en skouers uitgestaan bo dié van die ander deelnemers. Nadat Kleinbergen gesien het waartoe hulle in staat is, is hy vol vertroue dat die nasionale span volgende jaar die prestasie van 2016 sal herhaal en weereens as die wenner van die International GS Trophy-kompetisie aangewys sal word.

Kleinbergen het verder ook die lede van die vrouespan gelukgewens met hul prestasie. Hy glo dat hulle in November 2017 vir die finale vrouespan gekies sal word vanweë hul vernuf en toewyding.

Kleinbergen het ook gesê dat al 28 deelnemers sommer baie trots op hulself kan wees, aangesien dit reeds ʼn prestasie is om te kon kwalifiseer vir hierdie kwalifiserende ronde. Die nasionale span gaan onmiddellik begin met verdere opleiding en die drie spanlede is gretig om die sukses van hul voorgangers na te doen.

Die nasionale span

SA gekies vir BMW Motorrad International GS Trophy (Foto: BMW)

Enige nieprofessionele BMW-ryer mag aan die International GS Trophy deelneem. Hierdie kompetisie toets ryers se ryvernuf, spanwerk en avontuurlustigheid. Die bekwame hantering van ʼn BMW GS-motorfiets vorm die basis van hierdie vaardighede. Die kwalifiserende rondes het die uitdagings van die International GS Trophy nageboots en dikwels oor meer as een dag gestrek. Die punte wat met elke uitdaging verdien is, het uiteindelik aangedui watter ryers vir ʼn posisie in die nasionale span kwalifiseer.

Die nasionale span word ten volle deur BMW Motorrad toegerus vir die International GS Trophy, en ook deur BMW Motorrad na Mongolië geneem. In Mongolië ontvang elke spanlid ʼn splinternuwe BMW GS-motorfiets om in die kompetisie te ry.

Die vrouespan

SA gekies vir BMW Motorrad International GS Trophy (Foto: BMW)

Sedert 2016 neem vroue ook deel aan die International GS Trophy-kompetisie. Vroue van oral oor die wêreld kan nou met ʼn nuwe proses kwalifiseer vir deelname.

Eerstens kan vroue tydens die provinsiale uitdunne kwalifiseer vir die nasionale span. Tweedens word die twee beste vroueryers wat nie reeds in die nasionale span opgeneem is nie, gekies vir die vrouespan. Die vrouespan neem dan in November 2017 deel aan ʼn finale uitdun, waar die bestes van die bestes gekies word vir die finale vrouespan vir die International GS Trophy.

Altesaam 15 lande het reeds hul plekke in Mongolië bevestig, so die stryd gaan taai wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.