[Foto’s] Sleeptoets: Die Amarok kraai koning

Die nuwe Volkswagen Amarok (Foto: Volkswagen)

Ek was bevoorreg om ʼn ruk gelede die kans te gehad het om die Volkswagen Amarok te gebruik as my sleepvoertuig vir ʼn week vakansie by die ATKV Eiland Spa. Dit is 413 km van my huis af. Ek het geen probleem met ry nie – maar as ʼn mens moeilik sleep, is 413 km ʼn stywe ent. Met die 3.0 V6 TDI het die 413 km gevoel asof ons vinnig om die blok gery het.

Almal ken die Amarok se ontwerp. Hy is skrams opgekikker met die bekendstelling van die Amarok V6. Die V6 Amarok is slegs met die 8-spoed outomatiese ratkas en permanente vierwielaandrywing beskikbaar. Dit is ʼn slim besluit. Ek glo mense onderskat hoe sterk 165 kW en 550 Nm is. Dit is in ʼn bakkie – nie ʼn klein, plat sportmotor nie.

Die Amarok is die breedste dubbelkajuit op die mark. Dit beteken dat my drie kindertjies lag-lag langs mekaar in ʼn ry op die agtersitplek pas, mét elmboogruimte. Dit beteken ook dat daar ʼn gewone laaibord agter op die laaibak kan pas tussen die wielboë.

Die nuwe Volkswagen Amarok (Foto: Volkswagen)

ʼn Mens kan die Amarok bestel met swaardiensvering agter. Dit is ʼn gratis opsie, dan kan die Amarok 1,3 ton op sy rug dra. Dit is meer as wat ʼn mens veronderstel is om op ʼn Cruiser te laai. Die Amarok het oor 413 km terug huis toe, met die karavaan gehaak teen 120 km/h 13,2 ℓ/100 km gebied. Beter as ʼn Cruiser sonder ʼn sleepsel. Hy is ook goedkoper as ʼn Cruiser. So – as nog iemand vir my sê die Amarok is duur, bedinges ek my.

Soos met die swaardiensvering kan ʼn mens teen geen ekstra koste nie vra vir enige van die wiel en band grootte kombinasies afhangend wat jou vereistes is. As dit ʼn stadsjapie gaan wees, is die 19” wiele mooi. As dit ʼn plaasjapie gaan wees is die 16” wiele met hoëprofielbande ʼn beter idee.

Een nadeel van die Amarok is sy gaansnek-sleepstang. ʼn Mens kan dan nie stabiliseerders opsit, of die hoogte stel nie. Ek het kontak gemaak met Autobar in Gezina, Pretoria, en hulle het vir my ʼn plaasvervanging gepas wat ʼn gewone monteringplaat het waarop ek my Yellowblade se hakkie kon monteer. Vir enige pasgemaakte sleepstang benodighede – kontak hulle gerus by Autobar Fitment.

Die nuwe Volkswagen Amarok (Foto: Volkswagen)

Die outokas en die krag van die V6 maak van die Amarok ʼn bobaas sleepvoertuig. Die dat hy so breed is laat mens ook mooi langs en agter die karavaan sien sonder ekstra spieëltjies. Die skyfremme agter bied beter remkrag en die remme het geensins teen Magoebaskloof af warm geword nie.

By Eiland Spa kom vra klomp manne of dit my bakkie is. Met ʼn traan in die oog moet ek vir hulle sê dat ek met hom ry, maar ongelukkig is dit nie myne nie. ʼn Oom van Mosselbaai met ʼn reusekaravaan het met sy V6 Amarok van Mosselbaai af Eiland toe gesleep. Die 13,6 ℓ/100 km was vir hom nie so indrukwekkend soos die 120 km/h wat hy teen bergpasse op kon handhaaf nie. Sjoe. Sy wa is regtig groot. Twee skaapboere van Oudtshoorn is daar, gesin en al met Caravelle-bussies kom kamp. Hulle het ook hoed onder die arm kom smeek vir ʼn spin. Die een boer reken sodra sy Hilux op is wil hy ʼn Amarok oorweeg. Hy sê hy sal maar sien wat sê die baas.

Die nuwe Volkswagen Amarok (Foto: Volkswagen)

Een van die lekkerste dele van die V6 Amarok is die klank wat die enjin bied. ʼn V6 diesel klink myle beter as ʼn viersilinder. Daar is ʼn luukse karakter aan die geluid en die kraglewering. Die 8-spoed ZF outomatiese ratkas wissel seepglad tussen die ratte, op- of afdraande – met of sonder die karavaan. Die 3.0 V6 TDI bied 165 kW en 550 Nm. As jy die versneller tot teen die vloer druk gaan hy in overboost en bied dan 180 kW en 580 Nm vir tien sekondes op ʼn slag. In sleepterme is dit asemrowend. Daar is nie ʼn bult wat mens nie voor kans sien met die V6 Amarok nie. Die Amarok is nie net sterk en vinnig vir ʼn bakkie nie – maar sterk en vinnig, punt. Daar is ʼn video op YouTube waar die manne van Car-tydskrif resies hou met die Amarok teen ʼn Golf GTD … en die bakkie wen … sjoe.

Ek het die voorreg gehad om ná die bekendstelling die V6 terug te ry Johannesburg toe van Bloemfontein af – 8,2 ℓ/100 km is wat ek oor die 421 km gehandhaaf het. Met die karavaan het ons 13,2 ℓ/100 km gekry. Die Amarok is die gemaklikste dubbelkajuit, en hy sleep soos geen ander bakkie tans op die mark. Kom ons wag en kyk wat Maak Mercedes-Benz se X-klas?

Die reeks lyk só:

Amarok 2.0TDI 103kW Comfortline103kW/ 340Nm7.7ℓ/100kmR507 500
Amarok 2.0TDI 103kW 4MOTION Comfortline103kW/ 340Nm7.8ℓ/100kmR566 900
Amarok 2.0BiTDI 132kW Highline132kW/ 400Nm8.0ℓ/100mR542 900
Amarok 2.0BiTDI 132kW 4MOTION Highline132kW/ 400Nm8.0ℓ/100kmR596 200
Amarok 2.0BiTDI 132kW Auto Highline132kW/ 400Nm8.4ℓ/100kmR561 200
Amarok 2.0BiTDI 132kW 4MOTION Auto Highline132kW/ 400Nm8.5ℓ/100kmR614 400
Amarok 3.0TDI 165kW 4MOTION Auto Highline165kW/ 550Nm9ℓ/100kmR692 600
Amarok 2.0BiTDI 132kW Auto Highline Plus132kW/ 400Nm8.4ℓ/100kmR615 800
Amarok 2.0BiTDI 132kW 4MOTION Auto Highline Plus132kW/ 400Nm8.5ℓ/100kmR669 100
Amarok 3.0TDI 165kW 4MOTION Auto Highline Plus165kW/ 550Nm9ℓ/100kmR745 500
Amarok 2.0BiTDI 132kW 4MOTION Auto Extreme132kW/ 400Nm8.5ℓ/100kmR700 800
Amarok 3.0TDI 165kW 4MOTION Auto Extreme165kW/ 550Nm9ℓ/100kmR778 900

Die reeks word gedek deur ʼn 3 jaar/ 100 000km waarborg en 5 jaar/ 90 000km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Mitsubishi Triton 2.4DI-D dubbelkajuit 4×4 outo133kW/ 430Nm7.8ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R559 995
Isuzu KB300D-Teq dubbelkajuit 4×4 LX outo130kW/ 380Nm7.9ℓ/100km5 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R572 000
Nissan Navara 2.3D dubbelkajuit 4×4 LE outo140kW/ 450Nm7.0ℓ/100km6 jaar/ 150 000km waarborg

3 jaar/ 90 000km diensplan

R587 900
Toyota Hilux 2.8GD-6 dubbelkajuit 4×4 Raider outo130kW/ 450Nm8.5ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

5 jaar/ 90 000km diensplan

R589 800
Ford Ranger 3.2 dubbelkajuit 4×4 Wildtrack outo147kW/ 470Nm9.0ℓ/100km4 jaar/ 120 000km waarborg

5 jaar/ 100 000km diensplan

R624 900
Toyota Land Cruiser 79 4.5D-4D LX V8 dubbelkajuit151kW/ 430Nm11.6ℓ/100km3 jaar/ 100 000km waarborg

Diensplan opsioneel

R734 800

Tot die X-klas hier te koop is, het die Amarok nie eintlik ʼn direkte mededinger nie. Die Ranger kom naby, maar raak nou oud. Die Cruiser is ʼn ander opsie, maar slegs handrat en geensins in die selfde klas wat gemak aanbetref nie. Die Amarok is koning.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

TvdM ·

Jip hy is ‘n bielie maar…

Die 2010 – V9X Navara het 170kW en 550nm gehad maar was nooit ‘n reuse sukses nie. Ek glo in die Navara se geval het die prys wel ‘n rol gespeel.

Dit sal nou ‘n goeie sleep vergelyking wees. Die ou Navara teen die nuwe Amarok.

H Ford ·

Jy het duidelik nog nie met die Isuzu 3Lt DTEQ gesleep nie.

Pieter ·

Sorry pel – R800 000 vir ‘n VW bakkie is malligheid en nie amper in die klas van ‘n Cruiser nie. Jy kan nie die 2 begin vergelyk net omdat VW so mal was om die prys so hoog te maak nie. Kom ons kyk hoe lank hou sy engin en gearbox, dan praat ons weer.

Nic ·

Enjin en ratkas hou bo verwagting goed, selfs beter as Toyota se 3 liter Hilux diesel. Die voetspore manne van Johan Badenhorst het dit met hulle Afrika reise bewys! Die prys is bietjie hoog, maar dit is werklik waarde vir geld en sy sleepkrag is fenominaal! Dit het tot daai pragtige sterk Isuzu uit ‘n modderpoel gesleep!

TvdM ·

Jy is heeltemal korrek ou pel.

Die Amarok en die Cruiser is glad nie in dieselfde klas nie. Die Amarok maak van splinternuwe tegologie gebruik terwyl die Cruiser se V8 al 10 jaar en die 4.2 net 27 jaar oud is. Die meeste Mahindras se werkverrigting is beter as die Cruiser 4.2 terwyl selfs die 2.8 Hilux meer wringkrag as die V8 Cruiser het. Laat mens dink nê. En dan betaal jy hoeveel vir daai ou tegnologie?

Dus as ek vinnig en gemaklik Kaap toe wil sleep vat ek 100 maal eerder die Amarok. Vir die Cape to Cairo is daar net een: die ou tegnologie 4.2 donkie Cruiser aangesien al daai tegnologie jou dan nêrens gaan bring nie.

Neem in ag dat ek self Toyota ry.

Ice ·

Net ‘n 3 jaar waarborg – Hyundai gee 7 jaar 200 000km waarborg, put your money where your mouth is . . .

Amabaas ·

Welkom by die groepie uitgelese mense wie WEET ?☺

(Die ander sal nooit weet, voordat hulle nie ook WEET nie)

Dr van der Brul ·

Toyota is sekerlik die motorvervaardiger in SA waar omtrent alle onderdele van al hul modelle baie vinnig en maklik en byna oral beskikbaar is. Die enigste rasionele rede hiervoor is omdat daar baie Toyotas op die pad is en hulle net so baie onklaar raak. Indien Toyotas dan soos algemeen verkondig word nooit onklaar raak sou Toyota SA nie instaat wees om die massas onderdele aan te hou en finansieel te oorleef nie. Net dit waarvoor daar ‘n groot vraag is daar ‘n groot aanbod voor-Economics 101.My punt dus- Toyotas is meer nie meer of minder betroubaar as die meeste ander vervaardigers nie-alles hang van onderhoud af. Groetnis

Jonas ·

Ek stem, maar die GWM was en bly die beste bakkie op die mark..

Jan ·

Ek het op die Web n video gesien , waarin die Amarok V6 tou trek met die nuwe Navara.
Al vier die Amarok se bande het rook ” gespin”, agteruit, agter die Navara aan.

Arno ·

Jong enige ou kan n karavaan teen daai spoed sleep as hulle karavaan ook so kleintjie is soos wat jy gesleep het. Newat die Prys vir die Amarok is ook buitensporig………….. vir n sleepvoertuig wat basies n trailer gesleep het……………………. ek kry gemaklik 11,7 as ek sleep so die Amarok se 13,2 is glad nie so impressive as wat julle dit afmaak nie…….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.