[Foto’s] Sleeptoets: Tiguan het sy vuurdoop deurstaan

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Partykeer is dit moeilik vir ’n motorjoernalis om objektief te bly. Net soos die publiek het ek handelsmerke waarby ek aanklank vind en wat vir my lekker ry. Dan moet ek vergeet van my liefde vir ’n voertuig en hom deeglik toets. Die Tiguan, kan ek nou sê, staan hoog aangeskryf by my.

Die Volkswagen Tiguan 2.0TDI Highline 4Motion het spierwit, met reuse-20”-sierwiele, by die kantoor opgedaag. Met Volkswagen se bitter mooi R-Line-pakket op. Sjoe. Net soos dié Tiguan gespesifiseer is, lyk hy perfek.

Soos ons voorheen oor die Tiguan berig het, ná die bekendstelling en ook ná die padtoets, bly dit ’n asemrowende pakket. Waar ek met die eerste padtoets berig het dat die Tiguan amper perfek was, is dit nou reggestel met die dieselenjin, allewielaandrywing en die outomatiese ratkas. Die binneruim van die Tiguan bly vir my ergonomies en perfek uitgelê. Dit Tiguan is breër as van sy mededingers, so my drie kindertjies kan gemaklik langs mekaar sit op die agtersitplek, en ek en vroulief heerlik gemaklik voor. Die Dynaudio-klankstelsel in die Tiguan is asemrowend. Die HUD-kop-op-vertoon werk ook puik en verseker dat jy jou oë veilig op die pad hou terwyl dit vir jou belangrike inligting bied.

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Die 2.0TDI-enjin in dié Tiguan is die beste enjin in die reeks, dink ek. Ja – die 2.0TSI petrolenjin uit die GTi is puik, maar vir ’n Tiguan is die 130 kW en 380 Nm oorgenoeg. Ek het my 1992 Sprite SuperSport-karavaan van so 1 ton gesleep van Pretoria tot in die Dinokeng-wildreservaat. Die Tiguan het sy taak maklik baasgeraak. Die “adaptive”-spoedbeheer werk ook fantasties as ’n mens sleep. Stel die spoed na 100 km/h, en indien daar verkeer is of trokke wat bietjie stadig ’n bult klim en jy wil nie om hulle jaag nie, los dit net en die voertuig sal self effe stadiger ry tot die trok voor jou vinniger ry of uit die pad beweeg. Brandstofverbruik sonder die karavaan was 7.3 ℓ/100 km en 10.1 ℓ/100 km met die karavaan aan.

Ek’t aanvanklik gesê dat Volkswagen se DSG-ratkas nie lekker sal sleep nie. Tegnies is dit nie ’n outomatiese ratkas nie. Daar is twee koppelaars wat deur ’n blikbrein beheer word. Ja, ek het gedink die blikbrein sal nie die vermoë kan hê om die koppelaar rustig genoeg te kan invoer sonder stampe en stote nie, amper soos treine wat rangeer.

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Toe nie. Eintlik heeltemal die teenoorgestelde. Los net die rempedaal, gee die ratkas ’n oomblik – jy voel die voertuig is in rat en versnel soos altyd. Ek stoot my karavaan terug in my oprit, agteruit teen ’n redelik opdraande uit die straat, en ’n mens moet maar versigtig wees om nie die pypsteel se mure saam te vat nie. Ek’t steeds getwyfel of die DSG dit gaan kan doen. Sonder ’n probleem, is die antwoord. Ek is regtig beïndruk.

Met die bekendstelling van die 4Motion-modelle het VW vir ons gesê die Tiguan kan heeltemal sy man staan in die veld. Ek en ’n paar ander joernaliste het binnensmonds ons afkeuring gemompel. Wel. Nou moet ek my woorde sluk. Ons is met die 4Motion Tiguan die reservaat in en ek sien op die kaart ’n gedeelte wat sê: “High Clearance Vehicles Only, 200 mm”. Ek dog toe, mmm, die Tiguan is seker daar naby, R-Line-pakket en al. Ons is van hoek tot kant deur Dinokeng en die Tiguan het nie een keer geprotesteer nie. Nêrens is daar ’n buffer of ’n uitlaatpyp op ’n klip gekrap nie. Op die gedeeltes waar daar los sand was, het die Tiguan heeltemal vas op sy voete gevoel. Te ver in Dinokeng kom ons agter my swaer wil oor 40 minute die Bokke sien speel op die televisie in die kroeg by die oord. Nou moet ons gou maak.

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Toe ons op die groot grondpad tussen die reserwe en die oord is, kon ek in die sandry-modus die Tiguan se bene rek. 100 km/h op ’n slegte grondpad is niks vir die Tiguan nie. Weereens is ek beïndruk. Volkswagen het nou ’n “comfort”-stelling op die Tiguan- en Golf-reekse . Dit maak die vering so soepel soos ’n Russiese-gimnas. Ek het geen idee hoe hulle dit doen nie, maar op 20”-wiele voel die Tiguan so sag soos ’n Rolls-Royce, net sonder die bakrol. Dit bly ’n mite.

Ek gaan die Tiguan só opsom: Dit is die een voertuig wat elkeen in die gesin se gunsteling kan wees om verskeie redes. Daar is nie een ding wat dié Tiguan sleg doen nie. Hy is wel nie goedkoop nie, maar kan sy man staan teen sy mededingers. In die kompakte sportnutsklas bly dit my keuse.

Die reeks lyk só:

Tiguan 1.4TSI Trendline92 kW/ 200 Nm6.1 ℓ/100 kmR390 200
Tiguan 1.4TSI Comfortline92 kW/ 200 Nm6.1 ℓ/100 kmR432 100
Tiguan 1.4TSI Comfortline outo110 kW/ 250 Nm6.1 ℓ/100 kmR472 400
Tiguan 2.0TDI Comfortline81 kW/ 250 Nm5.4 ℓ/100 kmR477 000
Tiguan 2.0TDI 4Motion Comfortline105 kW/ 340 Nm6.1 ℓ/100 kmR532 200
Tiguan 2.0TSI 4Motion Highline162 kW/350 Nm7.8 ℓ/100 kmR550 900
Tiguan 2.0TDI 4Motion Highline130 kW/380 Nm6.4 ℓ/100 kmR558 300

Die reeks word gedek deur ’n 3 jaar/120 000 km-waarborg en 5 jaar/90 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Rav4 2.2D-4D AWD VX110 kW/ 340 Nm6.5 ℓ/100 km3 jaar/ 100 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

R552 400
Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera129 kW/ 420 Nm6.0 ℓ/100 km3 jaar/ onbeperkte km-waarborg

3 jaar/onbeperkte km-diensplan

R557 500
Kia Sportage 2.0CRDi SX AWD130 kW/ 400 Nm6.8 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R567 995
BMW X1 xDrive20d outo140 kW/ 400 Nm4.9 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

5 jaar/100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R610 940
Mercedes-Benz GLC250d 4Matic150 kW/ 500 Nm5.5 ℓ/100 km2 jaar/onbeperkte km-waarborg

6 jaar/100 000 km omvatttende instandhoudingsplan

R699 122

Ek vergelyk aspris die Tiguan teen duurder mededingers, want ek glo hy speel nou in daai mark. Dit is baie geld, en tussen dié mededingers is daar nie ’n slegte ryding of keuse nie. Ry almal en besluit, maar pas op vir die Tiguan, hy is ’n hartedief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos1 ·

Brendon, as dit die wedstryd tussen die Bokke en die All Blacks was het julle onnodig vining gery, maar nou ja, dit kar kan!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.