[Foto’s] Suzuki DL 650 V-Strom XT: ʼn Onderskatte middelgewig

Die Suzuki DL 650 V-Strom XT (Foto: Brian Cheyne)

ʼn 2006 DL 650 V-Strom het vyf jaar gelede oor my pad gekom, agt jaar ná my ongeluk waarna ek ruiterlik verklaar het dat ek nooit weer sal motorfiets ry nie.

Saam is ek en Strompie, soos hy bekend staan, Sani op, Lesotho deur. Swaziland toe, Kaap toe en sommer Die Hel in sonder om te talm. Absoluut betroubaar en sitvlak-vriendelik.

Toe Suzuki in 2012 die V-Strom opdateer het, was dit ʼn groot verbetering, hoewel die onderstel onveranderd gebly het. Toe bring Suzuki in 2014 die DL 1000 uit. Nuut van bo tot onder, en hierdie fiets het my baie beïndruk.

Verlede jaar het die ontwerpkonsepte begin verskyn vir die 2017 V-Strom en hy het gelyk soos ʼn verkleinde weergawe van die 1000. Toe ek egter die fiets op die bekendstelling van die GSX-R van naderby kon beskou, was ek teleurgesteld dat hy nie ook nuut was van kop tot tone nie. Toe onthou ek my eie Strom, en besef: As jy reeds ʼn wenresep het, moet maar eerder nie te veel karring nie. Die raam doen al diens vir jare en die voorvurke is steeds nie onderstebo gemonteer nie. Nogtans is die Strom nie bang vir draaie nie. Trouens, my skoene het die teer geskraap op Red Star, en ek is maar skrikkerig vir draaie ná my ongeluk.

Die Suzuki DL 650 V-Strom XT (Foto: Brian Cheyne)

Die hele onderstel is nog net dieselfde, maar bolangs het Suzuki die DL1000 nageboots en die nuwe V-Strom lyk baie meer sportief. Van die gestapelde hooflig en snawel tot by die  instrumentepaneel is pure 1000. Maar as jy die ou V-Strom ken sal jy onmiddellik tuis voel. Die gemaklike sitplek het nou ʼn growwer afwerking wat keer dat jy op die sitplek gly, en dit maak die fiets net nog meer gemaklik.

Die fiets is slegs 1 kg ligter as sy voorganger, maar dit het nou ook sluitbeheer en tolbeheer as standaard kenmerke. So ʼn paar ekstra perde is bygevoeg en Suzuki het ook die brandstofinspuiting verbeter. Hulle was so seker van hulle verbeteringe dat hulle die brandstoftenk kon verklein het na 20 ℓ. Die speekwiele is standaard en die goue vellings het gemengde reaksie ontlok.

Daar is ʼn plastiek dop wat veronderstel is om die onderkant van die fiets te beskerm, maar ek twyfel oor die effektiwiteit van hierdie plastiek omhulsel. Verhitte grepe is wel beskikbaar as ʼn opsie, maar dit sou soveel beter gewees het as dit standaard was.

Die Suzuki DL 650 V-Strom XT (Foto: Brian Cheyne)

Die uitlaatpyp van die vorige Stroms het hoog, lang die saal uitgekom, maar is nou ʼn laer eenheid wat help dat Suzuki bagasie vir die fiets kon ontwerp, sonder onooglike rame.

Ek moes hard werk om my objektiewe hoed op te sit toe ek die Strom onder hande geneem het. Hy is net soveel beter as die fiets wat ek ry, dat ek maar moeilik hierdie een gaan terugbesorg. Baie mense onderskat die verrigting van die kleiner Strom, en as jy in die mark is vir ʼn kleiner avontuurfiets, gaan gee hierdie fiets ʼn kans om jou te beïndruk. Die Strom is een van daardie fietse waarmee jy heeldag kan saamleef ongeag hoe ver jou bestemming is.

In ’n neutedop:

Enjin645 cc 90 ° V-Twee
Gewig (Nat)216 kg
Maksimum kraglewering52 kw
Saalhoogte83 cm
Tenkkapasiteit20 ℓ
PrysR119 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anton ·

Wat ek hou van die fiets, is dat hy n 2 silinder masjien het en n ekstra bonus is die ”V” masjien.
Dit maak vir beter ”Torque” en behoort n mooi ”Beat” ook te hê.

Brian Cheyne ·

Die wringkrag is baie lekker, selfs op laer toere, maar die ‘beat’ is heeltemal gedemp om aan die EU4 regulasies te voldoen. Dit is nie heeltemal tragies nie, net sag en binne perke. :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.