[Foto’s] Suzuki DL1000 V-Strom: In sy element op die oop pad

Suzuki se DL1000 V-Strom motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Suzuki se DL1000 V-Strom motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Elke mens het sy stilteplek. As die lewe druk, dan doen jy daardie een ding wat jou siel tot ruste bring. Iemand het eenkeer gesê as dit voel of sy siel agterraak, moet hy net so ʼn bietjie stop vir sy siel om weer op te vang. Vir my is dit om my pletterpet op te sit en ʼn entjie te gaan ry. Soms word daardie entjie ʼn hele ent, maar die eindresultaat is dieselfde.

Hierdie week het Suzuki vir my hulle DL1000 V-Strom geleen. Die oorspronklike DL het lank in die tand geraak, en hoewel hy meganies onstuitbaar was, kon hy net nie meer kers vashou by die nuwer fietse nie.

Suzuki was amper op die punt om die 1000 te staak en eerder te konsentreer op die 650-weergawe wat beter verkoop. Gelukkig het die manne daar in Hamamatsu, Japan, besluit om vir die DL1000 ʼn nuwe baadjie te gee.

Uit die staanspoor moes Suzuki besluit wat die verhouding van die pad-tot-grond-aanwending sou wees, en hulle gevolgtrekking was dieselfde as wat ek lankal vermoed het. Hulle het mense soos ek in gedagte gehad wat nie langer as ʼn halfuur op ʼn superfiets kan deurbring sonder dat ʼn fisioterapeut my van die fiets moet verwyder nie. Die fiets moet regop wees, lekker hoog en gemaklik. Maar hy moet lyk of jy donker Afrika gaan aandurf.

Suzuki se DL1000 V-Strom motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Suzuki se DL1000 V-Strom motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Suzuki het ervaring van Afrika, want in die laat 80’s het hulle met die DR750 die Parys-Dakar-wedren aangedurf. Hierdie fiets het ʼn snawel gehad wat deesdae die norm is in avontuurfietse.

Die nuwe DL het die snawel geërf en die stilering is meer aggressief as die vorige DL. Die enjin het gegroei van 998cc to 1037cc en verder is feitlik alles nuut. Die voorste skokbrekers is onderstebo gemonteer, en die voorste knypers is radiaal gemonteer en beskik oor sluitwering. Dit is ook die eerste Suzuki met traksiebeheer, en daar is twee verstellings. Dit neem ʼn tydjie om aan die traksiebeheer gewoond te raak. Jy voel die agterwiel glip, dan kom die oranje liggie op die instrumentepaneel aan, en dit is dit.

Op sy tweede verstelling is die beheer meer merkbaar. Nog ʼn aanduiding dat hierdie fiets se fokus nie vrotpad is nie, is dat jy nie die ABS kan afskakel nie. Vir die hardebaard-grondpad-manne is hierdie deel so ver soos hulle die artikel sal lees. Maar die groot Suzuki-fokus is die pad, en hier is hy in sy element.

Suzuki se DL1000 V-Strom motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Suzuki se DL1000 V-Strom motorfiets (Foto: Brian Cheyne)

Ek het lanklaas onmiddellik so tuis gevoel op ʼn fiets. Die saal is breed en sag, die handvatsels wyd en met ʼn saalhoogte van 85 cm is my knieë rustig ontspanne. Die windskerm voor kan deur drie hoeke verstel word met ʼn eenvoudige ratstelsel. Verder kan dit ook vir hoogte verstel, maar hiervoor sal jy die gereedskapkissie moet nader sleep. Die kraglewering is geleidelik, maar nie aardskuddend nie, en daarom boesem die fiets baie vertroue in. Die instrumentepaneel is omvattend en sluit ʼn temperatuurmeter en ratskakeling in.

Alles is daar voor jou in ʼn aantreklike paneel met ʼn yslike toereteller. Die fiets is lig vir sy grootte en is ligter as die meeste fietse in hierdie klas, en teen R153 950, aansienlik ligter op die sak ook. Die V-Strom is en bly ʼn ondergewaardeerde fiets, maar hy gee my daardie stilte waarna ek so smag. As jy in die mark is vir hierdie klas fiets, moenie die V-Strom miskyk nie. Hy sal jou aangenaam verras.

Vir meer inligting, besoek Suzuki se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pieter van Niekerk ·

Dit word aanbeveel dat die Yamaha Super Ténéré se ABS ook nie afgeskakel moet word wanneer grondpad gery word nie. Dan moet slegs die voorrem getrek word om die fiets in sy spore te stop. Ek is seker dat Suzuki ook nou sulke ABS remme het.

Pieter van Niekerk ·

Ek wil graag byvoeg dat ek die DL1000 goed ken. Suzuki s maak die beste ratkas. Hul masjiene is onbreekbaar en uiters duursaam. Die DL1000 ry baie lekker op die lang pad en mens word nie seer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.