[Foto’s] Triumph Explorer: Britse swaargewig-mededinger

Die Triumph Explorer XCA (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Explorer XCA (Foto: Brian Cheyne)

Ek was nog altyd baie uitgesproke oor my afkeer van groot dubbeldoel-fietse. Maar so val die kaarte dat ek hierdie naweek Triumph se Explorer onder hande gehad het. Soos ek aangegaan het, moet ek nou baie versigtig wees hoe ek dié een benader. Die manne met wie ek lang argumente gehad het, sit nou en slyp hulle tande, en kraak hulle kneukels en lees aandagtig om reg te sit met: “Ja, Brian, sien jy nou!” Nou kom ons kyk bietjie wat het ons hier…

Die Triumph Explorer is ʼn groot fiets. Baie groot. As jy enigsins onder ses voet is, moet jy maar ʼn wye draai om hierdie bul loop. Daar is ʼn opsie van ʼn laer weergawe, maar dit bly steeds ʼn groot stuk metaal. Die manne wat hierdie goed ry, sê altyd vir my die gewig verdwyn as jy ry. Wel, my fiets het nog nooit omgeval in die ry nie. Dit is met die stilstaan en stadig ry wat hy die geneigdheid het. En tog het die Explorer my baie beïndruk. Draaie is ʼn fees en die fiets was goed gebalanseerd. Soos ek hom meer begin ry het, het die selfvertroue ook gegroei en ek het begin verstaan wat die mense sê oor die gewig. Die fiets het ʼn baie ontspanne ryposisie en verg byna geen inspanning om te ry nie.

Die Triumph Explorer XCA (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Explorer XCA (Foto: Brian Cheyne)

Hierdie fiets baklei in ʼn baie moeilike segment van die mark, so Triumph moet iets unieks na die kryt bring. En toe bring hulle drie fietse toegedraai in ʼn baie potente pakket. Die fiets se drie karakters is verskuil in die elektronika. Daar is ʼn sportverstelling wat alles opskerp. Van vering tot hoe gevoelig die versneller moet wees. Dan is daar die padverstelling vir alledaagse gebruik en laastens ʼn vrotpadverstelling. So, met die druk van ʼn knoppie het jy óf ʼn sportfiets, óf ʼn langafstand-mylevreter, óf ʼn stofskopper. Met 139 perdjies wat diens doen in sy drie-silinder-enjin is hierdie Triumph meer as gewillig om jou die horison in te skiet en die grom uit die uitlaatpyp besing hard en duidelik die spoed waarteen jy beweeg.

Die Explorer-reeks het ʼn paar variante waaruit jy kan kies: Die XCT wat allooiwiele het, so sy fokus gaan beslis die pad wees. Die XCX is volgende op die lys, met speekwiele. Dan die een wat ek gery het, die XCA. Dit is dieselfde fiets as die XCX, buiten ʼn paar ekstras soos misligte voor, en verhitte handvatsels en saal. Ja, die saal word ook warm in die winter! Selfs jou passasier gaan lekker warm boudjies hê.

Die Triumph Explorer XCA (Foto: Brian Cheyne)

Die Triumph Explorer XCA (Foto: Brian Cheyne)

Visueel is die Explorer ʼn aantreklike fiets en die kakiegroen kleur het maar gemengde reaksie uitgelok. Ek, persoonlik, hou van die kleur. Dit is anders. En ek hou van anders. Standaardtoerusting op hierdie fiets is ʼn lang lys en sluit drarakke vir jou tassies en selfs spoedbeheer in. Hou in gedagte dat die meeste van hierdie items op mededingers se opsie-lys sal wees en dan skiet die prys gou die hoogte in.

So, vir wie is hierdie fiets nou eintlik gemaak? Persoonlik sal ek nie ver van die teerpad afdwaal nie, maar as jy moet, sal jy nie baie sukkel nie. Ek voel egter hierdie fiets is ʼn toerfiets wat die myle sal opeet met twee mense en al hulle bagasie op. Het dit my mening oor groot dubbeldoel-fietse verander? Amper. My kinders is amper uit die huis, en dan begin die fiets vir my baie aantreklik lyk. Ek en my vrou kan op die ingewing van die oomblik besluit om die pad te vat. As ek môre moet Kaap toe ry, via Swakopmund, sal ek beslis die Explorer se sleutels vat. Daar aangekom, sal ek kan koffie drink, omdraai en terugry. Hierdie Triumph is net so gemaklik.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjingrootte1215 cc
Aantal silinders3
Maksimum kraglewering102 kw / 139 pk
Saalhoogte837 (Laer model )

857 mm (Standaardhoogte)

Tenkkapasiteit20 L
Prys:

XCT

XCX

XCA

R214 500

R199 500

R224 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.