[Foto’s] Triumph Scrambler bied besonderse reiservaring

Die Triumph Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Die term “Scrambler” of “Café Racer” verwys al lank nie meer na die aanwending van ʼn motorfiets nie, maar eerder na die stilering. Die “Scrambler” in Suid-Afrika verwys ook na iets heeltemal anders as waarna die Amerikaners verwys. Maar die Amerikaners was nog altyd aweregs. Hulle verwys selfs na ʼn vloeistof as gas, en hulle was so pateties met rugby dat hulle hul eie weergawe daarvan uitgedink het sodat hulle die beste kan wees daarin.

ʼn Café Racer was waarmee die jonges regtig van een kafee na die volgende gejaag het, en Scramblers was waarmee hulle oor die strand geskarrel het. Om skade min te hou het die uitlaatpype opgebuig en bo langs die saal en petroltenk verbygeloop. ʼn Pensplaat is ook aangebring en groter wiele met knopperige bande het die prentjie afgerond.

Die Triumph Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Triumph is bewese in die klassiek-moderne ontwerpe en hulle het twee moderne en betroubare platforms waarop hulle kan uitbou. Die 900 cc-platform modelreeks het almal ‘n “Street” voorvoegsel: die Street Twin is die basiese model, die Street Cup is in ‘n Café Racer-styl, en nou het die Street Scrambler ook bygekom.

Dieselfde 900 cc-enjin doen diens in al drie modelle, en die kraglewering is slegs 54 pk, maar met 80 Nm se wringkrag het die Scrambler lekker woema. Die elektronika op die Triumph modelle is so glad, en tolbeheer en sluitwering is standaard op hierdie fietse.

So wat maak hom nou ʼn Scrambler? Die voorwiel is nou ʼn 19-duimer en het Metzeler Tourance-bande op. Hy kry ook ʼn pensplaat en die uitlaatpype is kunstig gebuig om hoog te eindig. Ek het maar my bedenkinge gehad oor daardie pyp wat hier by my regter kuit verby loop, maar ek moet erken, daar was nie ongemaklike oomblikke nie. Ek weet net nie of ek dieselfde sal sê in die somer nie.

Die Triumph Scrambler (Foto: Brian Cheyne)

Die handvatsels is breed en die instrumentepaneel is eenvoudig, maar die ryervaring is iets besonders. Die groter voorwiel het sy voordele op die stofpad, maar soos ek gesê het, die fiets is Scrambler in naam eerder as aanwending. Ek was so ʼn klein entjie op ʼn lelike grondpad en ek was maar bekommerd oor die grondvryhoogte. Boonop is die fiets nie groot genoeg dat jy kan staan nie.

Ek bly dit sê: Die Bonnevilles het diep in my hart ingekruip en Triumph kan enige inkarnasie in my rigting stuur. Ek sal hom ry!

Toe ek hierdie fiets onder hande gehad het, het Triumph UK bande verbreek met die verspreiders van Triumph SA. Triumph was nog altyd ingevoer deur Kawasaki Motors Suid-Afrika. Die beëindiging van die invoerregte van KMSA het ʼnuitroltyd van ses maande, en dienste en onderdele sal nog beskikbaar wees vir die tydperk. Triumph UK is nou op soek na ʼn nuwe verspreider in Suid-Afrika, en sodra dit gefinaliseer is sal verkope weer hervat word. Tot dan moet KMSA van hulle huidige voorraad ontslae raak en kan jy nou ʼn splinternuwe Triumph spotgoedkoop aanskaf. Mits jy bereid om die risiko te loop om vir ʼn rukkie sonder ondersteuning te wees.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin900 cc parallel-twee
Gewig (droog)206 kg
Maksimum kraglewering40,5 kw/54 pk
Saalhoogte79 cm
Tenkkapasiteit12 liter
PrysR139 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.