[Foto’s] Triumph se enkelloper

Die Triumph Street Cup (Foto: Brian Cheyne)

Ek het ʼn sagte plekkie vir die Triumph Bonneville-reeks.

Hulle is nou wel nie die vinnigste of sterkste nie, maar dit is nie waaroor hierdie motorfietse gaan nie. Toe my vrou die eerste keer Triumph se Street Twin-gery het, was sy dadelik beïndruk. Dit is en bly net so ʼn gemaklike fiets om te ry.

Die Bonneville-reeks bestaan uit heelparty modelle. Van die kleinste Street Twin tot by die Thruxton R, Triumph se “café racer”.

Die Street Twin is ʼn baie gewilde model in die Triumph-reeks en nou het hulle ʼn bietjie in die Thruxton se onderdele-mandjie gaan krap en die Street Cup geskep. Die Street-gedeelte in die naam beteken hierdie is die 900 cc-Bonneville. Meganies identies aan die Street Twin hou die ooreenkomste egter op net bokant die enjin.

Die Triumph Street Cup (Foto: Brian Cheyne)

Die sitplek is afgewerk in ʼn Alcantara-soort materiaal en daar is ʼn verwyderbare dop oor die agterste gedeelte. Dit skep die illusie dat dit ʼn enkelsitplekfiets is. Deur twee skroefies los te draai kan jy die dop afhaal en kan ʼn passasier saamry. Die agterste skokbrekers is so 2 cm gelig en die handvatsels loop skerp afwaarts. Dit gee jou ʼn vooroor houding op die fiets met jou agterstewe effe gelig.

Die spieëls kom van die Thruxton en sit op die punte van die handvatsels. Nie net lyk dit goed nie, dit werk ook goed. Die enkelinstrumentpaneel van die Street Twin is vervang met die dubbele een van die Thruxton. Daar is nou ʼn spoedmeter en ʼn toereteller. Elkeen bevat ook ʼn klein vloeikristaleenheid. Die een in die toereteller gee jou ʼn aanduiding van hoe ver jy nog kan ry met die brandstof in die tenk. Die een op die spoedmeter bevat twee ritmeters, en inligting oor brandstofverbruik.

Die Triumph Street Cup (Foto: Brian Cheyne)

Die remme bestaan uit enkelskywe voor en agter en beskik oor sluitwering. Ek was aanvanklik bekommerd dat die remme nie sal kan byhou nie, maar hulle het hulle goed van hulle taak gekwyt. Die elektroniese versneller kan vergelyk word met ʼn Britse kelner met ʼn wit servet oor sy arm gedrapeer wat die krag waardig vir jou aangee. Niks meer as wat jy nodig het nie. Die Triumph trek baie glad en ek het op geen stadium gevoel ek kom nog krag kort nie. Ek was egter verras toe die ratte in vyfde opraak – ses is amper standaard op moderne fietse.

Stilering en afwerking is nog ʼn sterkpunt van die Bonneville-reeks. Alles voel solied en goed vervaardig. En in die Cup-baadjie laat hierdie fiets die koppe draai. Daar is twee verfopsies: geel-en-silwer of swart-en-silwer.

As jy in die mark is vir hierdie soort fiets, maar die Thruxton is buite jou begroting, kyk gerus na die Street Cup. Gaan ry hom, dan sal jy verstaan waar my sagte plekkie vandaan kom.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjingrootte900 cc
Aantal silinders2
Maksimum kraglewering54 kw / 40,5 pk
Saalhoogte78 cm
Tenkkapasiteit12 ℓ
PrysR134 500

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Pietman ·

n Uiters lelike fiets. Vergelyk dit met die Kawasaki z900. 54 kw teenoor 92kw. vir dieselfde prys!

Koos1 ·

Pietman, smaak verskil, maar hier moet ek saam met jou stem.
My eerste reaksie was hoeveel Truimph betaal het vir die artikel, toe lees ek die die krag lewering toe wonder ek hoe lank gelede hierdie artikel geskryf is, en toe sien ek die prys, en besef dit is ‘n vars artikel!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.