Foto’s: Triumph stel sy 2020 Rocket 3 bekend

Foto: Verskaf

Die Triumph-motorfietsreeks bied ’n wye verskeidenheid opsies. Daar is die klassieke Bonnevilles, die uiters bekwame dubbeldoel-Tigers en selfs die moderne Street en Speed Triples.

Een fiets wat egter nie mooi in enige vakkie inpas nie, is die Triumph Rocket 3. Die fiets het die grootste enjin van enige produksiefiets. Die Rocket het sy jare begin wys en nou het Triumph hulself oortref met ’n splinternuwe Rocket 3.

Ons is genooi na ’n restaurant in Bryanston met die naam “Rockets”.

Foto: Verskaf

Hier kon ons die buitelyne uitmaak van die nuwe fietse wat netjies met swart lappe bedek was. Bruce Allen, die man aan die stuur van sake hier in Suid-Afrika, het eers met ons gesels oor die toekoms van Triumph in die plaaslike mark. Bouwerk aan die nuwe Triumph-vertoonlokaal begin volgende week en behoort teen die einde van die jaar afgehandel te wees.

Daar is baie nuwe modelle om oor opgewonde te raak, maar ons was hier vir die monsters wat onder swart lappe geskuil het. Daar is twee modelle in die Rocket-reeks, naamlik die R en die GT.

Foto: Verskaf

Tegnies is daar ’n derde model, die TFC, maar daar is net 750 van hierdie eenhede vervaardig en hulle het al almal huise gekry. Die R- én die GT-modelle was daar vir ons om te sien en op te klim, maar die TFC-model is eenkant geparkeer. Slegs sy nuwe eienaar is toegelaat om op hom te sit.

Die R is die sportiewe een van die twee. Die GT beskik oor ’n meer ontspanne ryposisie en ’n paar ekstra toevoegings om hom te onderskei van die R. Die fietse lyk uiters modern en natuurlik is die bougehalte uit die boonste rakke. Die instrumentasie is soortgelyk aan dié van die Scrambler en bied volledige integrasie met ’n slimfoon. Die nuwe stelsel integreer selfs met GoPro-kameras!

Foto: Verskaf

Die Rocket is ’n groot fiets, maar Triumph het dit reggekry om die nuwe een 40 kg ligter te maak as sy voorganger. Op die enjin alleen kon Triumph 18 kg besnoei. Hoe hulle dit reggekry het, sal net hulle weet, want die kapasiteit het nou gegroei van 2 300 cc tot 2 500 cc. Die enjin lewer 133 kW met ’n aardskuddende 221 Nm wringkrag teen net 4 000 rpm. Triumph het die Rocket toegerus met die nuutste elektronika om hierdie monster in toom te hou. Selfs die ratkas is herontwerp om die verhoogde wringkrag te kan hanteer.

Al wat ek teen die fietse het, is dat hulle nog nie reg is vir ons om te ry nie. Daar moet nog homologering plaasvind en hulle behoort teen Maart gereed te wees. Ek kan nie wag nie, want as hulle so goed ry soos wat hulle lyk, gaan dit baie pret wees!

Die R kos R299 000 en die GT is R315 000.

Klik hier vir meer inligting.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kirst ·

Teen daardie prys sal ek twee vat. Liewe ouers, wie kan so klomp geld uitgee op ‘n ryding sonder sitplekgordels, deure, ‘n dak, kattebak of paneelkissie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.