[Foto’s] Vergelykende toets: Een modern, een getrou, selfde resultaat?

Die Toyota Etios Sprint en die Renault Sandero (Foto: Toyota)

In Suid-Afrika betaal ons nogal baie vir ons motors. Dit is te danke aan verskeie invoerbelastings en so aan. In die laat 2000’s het die ekonomie ineengestort, die kredietwet is aangepas en oornag is talle Suid-Afrikaners buite die bereik van ʼn nuwe voertuig.

Vervaardigers het hierop gereageer. Modelle soos die Polo Vivo, Figo ensovoorts word in goedkoper lande gebou en hierheen ingevoer as goedkoper rygoed. ʼn Heeltemal voldoende luikrug met ʼn paar luukse truuks is nie iets om jou neus voor op te trek as hy minder as R200 000 kos nie.

Renault en Toyota benader die kompakte luikrugklas van verskeie kante. Toyota het met ʼn eenvoudige, betroubare atmosferiese 1,5 viersilinderpetrolenjin gegaan. Renault het besluit op ʼn  900 cc driesilinderturbopetrol enjin. Albei bied 66 kW. Die Toyota 132 Nm en die Renault 135 Nm. So te sê dieselfde. Die Renault is net-net vinniger van 0 tot 100 km/h in 11,1 sek teenoor die Etios se 11,3 sek. Die Renault is skrams vinniger met 168 km/h en die Etios 165 km/h. As ons na die krag en spoed kyk, is dié voertuie baie naby aan mekaar – maar verder verskil hulle eintlik baie.

Renault se Sandero Stepway is modern en lekker toegerus. Daar is navigasie en leerbekleedsel. Die draadloos het Bluetooth en ʼn mens kry oor die algemeen die indruk dat die voertuig propvol “gadgets” is, tot spoedbeheer. Aitsa. Baie oulik in dié klas, en puik toegerus vir die prys.

Die enjin is gretig en die ratverhoudings heeltemal voldoende. Die dakrelings veroorsaak bietjie windgeraas, maar niks wat ʼn mens sal mal maak nie. Ek dink die Renault is ʼn puik pakket, behalwe vir die sitplekke. Dit bied geen ondersteuning nie en maak jou boude vinnig lam. Ek verkies beslis die Etios se groter en harder sitplekke.

Die Etios sou nog nooit sommer ʼn skoonheidskompetisie wen nie, maar die nuwe Sprint-model lyk baie beter as sy voorganger – soos ons ná die bekendstelling berig het. Die Etios Sprint het ʼn nuwe voorbuffer en sierwiele. Dit maak ʼn reuseverskil aan die aansig van die voertuig.

Die binneruim is ook eenvoudig uitgelê. Die draadloos het ook Bluetooth vir jou telefoon of musiek, maar hier is nie spoedbeheer of navigasie nie. Die sitplekke sit baie lekker en maak ʼn mens nie moeg op die langpad nie. Die binneruim is effe stiller as die Renault s’n teen snelwegsnelhede. Wat beïndruk is die enjin en ratkas. Dit voel baie sterker as wat dit op papier sê, en – as jy die Etios hard ry, word hy nie swaar op brandstof nie. Ek dink om die gekombineerde siklus sal die Etios en die Sandero die selfde brandstofverbruik bied. Een ding wat pla op die Etios is die twee verskillende teksture wat op die paneelbord gebruik word, dit laat dit goedkoop en na laslappies lyk.

Albei motors ry lekker en is sag geveer. Padhouvermoë is heeltemal in die kol vir só motor. Albei bied goeie waarde vir geld maar die Sandero se spesifikasievlak maak dit ʼn beter waarde vir geld opsie, al is hy effe duurder. Menings gaan verskil, maar vandag bestee ek my geld op die Etios. As Renault die sitplek verbeter op die Sandero kry hulle my geld.

Dié twee vergelyk só:

Toyota Etios 1.5 SprintRenault Sandero Stepway Dynamique
R174 300R194 900
3 jaar/ 100 000km waarborg

2 jaar/ 30 000km diensplan

5 jaar/ 150 000km waarborg

2 jaar/ 30 000km diensplan

66kW/ 132Nm66kW/ 135Nm
6ℓ/100km5.4ℓ/100km
0 – 100km/h 11.3 sek0 – 100km/h 11.1 sek
165km/h168km/h
2 lugsakke4 lugsakke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Waghond ·

Geen melding is gemaak van die addisionele lugsakke en beduidend beter waarborg van die Renault nie. Daarby lyk die Stepaway mooier. Gewis die beter keuse.

Joe _v_Niekerk ·

Hallo Brendon,

Op die hoeveld gaan die Renault met sy turbopetrol enjin draaie rondom die Toyota ry (dalk selfs jaag?). En soos Waghond hierbo noem, moet daar tog ook melding van die Renault se ekstra lugsakke en beter waarborg gemaak word. Dis einlik ‘n eenvoudige keuse, maar een wat ongelukkig bo-oor SA kopers se handelsmerk-lojaal koppe gaan.

Anoniem ·

die extra lugsakke word wel in die artikel genoem……………sien specs onderaan

sandra ·

ek ry ‘n SANDERO, maar nie die Stepway nie. ek is baie beindruk met my karretjie, die petrolverbruik verbaas my. ek kry sowat 850km op ‘n tenk in stadsverkeer. het ook al lang pad gery, met ‘n vol gelaaide sleepwa en steeds oor die 700km op ‘n tenk gekry, ek kruip nie, ek ry om te kom waar ek wil wees. toe ek my kar gesoek het, was die Sandero die enigste wat my alles kon bied wat die ander as xtra’s bysit. SANDERO bo.

Paul ·

As jy nie sê hoeveel petrol ” ‘n tenk” is nie, help dit nie veel nie. Alle karre se petroltenks is nie dieselfde grootte nie.
Aanlyn lyk dit soos 50 liter vir die Sandero.
As mens aanneem jy ry die tenk nie heeltemal leeg nie, en werk op so 48 liter “per tenk”, werk dit uit dat jy so 5.6 tot 6.8 liter per 100 kilometer per liter kry. Dis nie juis so vreeslik wonderlik nie…

Wonder ·

DIE twee voertuie kan nie vergelyk word nie! Renault is in n ander klas! Die skywer van die artikel lei aan die toyota en volkswagen sindroom.Weet nie hoekom hy sy tyd mors om voertuie sogenaamd te toets nie.Hy het al vooraf besluit!

sandra ·

ek weet nie in watter provinsie jy is nie, maar ek kon glad nie kla nie, ek het uitstekende diens
gehad van die garages waar ek my motor laat diens het, ek het van 3 van hulle gebruik gemaak.
Ps: ek bly onderkant Tafelberg

Dirk Breytenbach ·

Renault se diens hier in die Kaap is uitstekend en professioneel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.