ʼn Gewilde segment in die motormark is tans die nuwerige kruismodel. Vat ʼn medium-grootte luikrug, pomp sy vering bietjie hoër van die grond af op en rek sy dak dat daar ʼn persepsie van ruimte gebied word en siedaar – die kruismodel is gebore.
Ek was nie altyd die grootste liefhebber van dié soort motors nie. My kop sê, koop óf ʼn luikrug óf ʼn sportnuts – maar, die publiek stem nie met my saam nie en dié soort motor slaan elke maand die verkoopsyfers aan die brand. As ons kyk na die verkoopsyfers van dié twee modelle wat hier vergelyk word, het daar in Julie 2017 514 Cretas verkoop en slegs 17 ASXe.
Die twee voertuie het verskillende benaderings met dieselfde uitkoms. Albei voertuie is groter luikrugmotors op hoër vering, en met vier deure. Die Creta is 10 mm breër as die ASX en die ASX het 5 mm meer grondvryhoogte. Neem jy wel in ag dat albei voertuie slegs voorwielaangedrewe is, is die meer as 180 mm grondvryhoogte oorgenoeg. Die ASX is 25 mm langer as die Creta en sy kattebak 40 ℓ groter.
Dit is min of meer daar waar die ooreenkomste ophou. Die ASX is ʼn 2,0- petrol handrat en die Creta is ʼn 1,6 diesel outomaties. Die Creta het 63 Nm meer wringkrag as die ASX met 260 Nm maar 16 kW minder as die ASX se 110 kW. Ek verkies wel die werkverrigting van die diesel in die Hyundai. Dit voel sterker op die pad, oop of in verkeer. Die outomatiese ratkas help ook met rygemak. As ons kyk na die syfers is die ASX vinniger tot op 100 km/h. Die ASX hol in 9,6 sek tot 100 km/h teenoor die Hyundai se 11,9 sek. Die Hyundai se asem is op teen 179 km/h en die ASX sal aanhou draf tot 194 km/h. As jy daai spoed in die ASX probeer bereik gaan hy gewis dors raak.
In die kajuit het die Mitsubishi meer truuks as die Hyundai met sy reusesondak, outomatiese ruitveërs en ligte, klimaat en spoedbeheer. Die Hyundai het wel navigasie wat die Mitsubishi nie het nie. Albei voertuie het leer bekleedsel. Die Mitsubishi het ʼn reuse- Rockford Fosgate-klankstelsel in wat lekker doef-doef.
As gevolg van die dieselenjin en outomatiese ratkas voel die Creta op die pad vir my soos die gemakliker ryding. Ek hou ook van die brandstofverbruik wat daarmee gepaardgaan. Die Hyundai is ook splinternuut in sy lewensiklus en die ASX nie meer só jonk nie. Die ASX is ietwat duurder as die Creta, maar is tog beter toegerus. Ek hou wel meer van hoe die Creta voel.
Dié twee vergelyk só:
Hyundai Creta 1,6 CRDi Executive Outo | Mistubishi ASX 2,0 GLX |
R374 900 | R399 900 |
5 jaar/ 150 000 km voertuig-waarborg 7 jaar/ 200 000 km dryfstelsel-waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan | 3 jaar/ 100 000 km waarborg 5 jaar/ 90 000 km diensplan |
94 kW/ 260 Nm | 110k W/ 197 Nm |
6,8 ℓ/100 km (effektief tydens toetstydperk) | 9,4 ℓ/100 km (effektief tydens toetstydperk) |
0 – 100 km/h 11,9 sek | 0 – 100 km/h 9,6 sek |
179 km/h | 194 km/h |
190 mm grondvryhoogte | 195 mm grondvryhoogte |
Enige een van die twee sal ‘n mens gelukkig kan maak .My keuse sal egter die Hyundai wees omdat hy ‘n diesel is.Top spoed tel by my niks want die max toelaatbare spoed op ons paaie is 120km/h.Brandstof verbruik tel baie meer punte in my boek as top spoed.
Alles inaggenome is die Creta die beste van die twee alhoewel dit onregverdig is om die twee voertuie wat tans in teenoorgestelde fases in hul lewenssiklus is.