[Foto’s] Vergelykende toets: Sportnuts word spoednuts

Die Mercedes AMG en die Jaguar F-Pace

Ons was onlangs bevoorreg om gelyktydig twee lieflike sportnutsvoertuie by Maroela Media op toets te hê. Die eerste kandidaat was die Jaguar F-Pace 30d AWD S… die tweede, die Mercedes-AMG GLC 43 AMG 4 Matic. Hier sit ons met twee ou name in die motorbedryf. In die jare vyftig het Jaguar en Mercedes mekaar gereeld op die wêreld se renbane gekry om te sien wie is baas.

Mercedes-Benz het in 1955 onttrek uit motorsport ná ʼn reuse-ongeluk wat 79 mense se lewens geneem het by die 23ste Le Mans-uithouvermoëwedren. In 1993 het Mercedes-Benz vir die eerste keer ʼn AMG-padmotor bekendgestel, die C36 AMG. Daar is die eerste AMG soos ons dit nou ken gebore. Sedert die laat sestigerjare was AMG meer betrokke by Mercedes-Benz se renmotors en opgraderingspakette op sekere modelle, maar nie as offisiële Mercedes-Benz-produkte nie.

Die Mercedes AMG (Foto: Mercedes)

Duidelik was hul kennis en produkte van só ʼn aard dat Mercedes-Benz ʼn 51% aandeel in die besigheid gekoop het, en die res is geskiedenis. Ons het nou al ʼn paar wilde AMG’s gesien in die afgelope paar jaar, maar daar was nooit ʼn middelweg nie. Tot nou. Die nuwe vierwielaangedrewe 43 AMG-produk wat in meeste van Mercedes se klasse beskikbaar is, is nie so wild soos die 63 AMG nie, en met allewielaandrywing is die 43 AMG ʼn dier van ʼn stiller soort.

Jaguar het tussen die tweede wêreldoorlog en 1965 reusesukses behaal. Ongelukkig het ʼn moeilike ekonomie Jaguar geforseer om met verskeie Britse handelsmerke soos Rover, Morris, Leyland en so aan saam te smelt. Die resultate was bitter sleg en teen die vroeë negentigerjare was daar amper niks oor van die Britsemotorindustrie nie.

Die Jaguar F-Pace (Foto: Jaguar)

Tussen 1990 en 2007 het Jaguar aan Ford behoort waar die handelsmerk nooit ʼn profyt gemaak het nie. Uiteindelik, in Januarie 2008 het TATA tot Jaguar en Land Rover se redding gekom. Die nuwe era het briljante produkte gebring, en een só ʼn produk is die F-Pace. Die wêreld stel nie meer belang in sedanmotors nie, maar eerder klein, medium of groot sportnutsvoertuie. Ons behoort binnekort die nuwe Jaguar E-Pace te begin sien in die kompakte sportnutssegment.

Hoekom die F-Pace en die GLC? Hulle is nie heeltemal direkte mededingers nie, maar albei is in hul reekse die vinniger modelle. Hulle benader spoed egter van verskillende kante af. Die Jaguar is ʼn 3.0 V6 turbodiesel met 221kW en 700Nm. 700Nm is baie… bitter baie. Die Mercedes-AMG is ʼn 3.0 V6 turbopetrol met 270kW en 520Nm. Dít gaan interessant raak.

Só vergelyk dié twee:

 Jaguar F-Pace 30d AWD SMercedes-AMG GLC 43 AMG 4Matic
PrysR1 073 846R969 406
Waarborg3 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km- omvattende instandhoudingsplan

2 jaar/ onbeperkte km-waarborg

6 jaar/ 100 000km omvattende- instandhoudingsplan

Krag221 kW teen 4 000 r/min

700 Nm tussen 1 500 – 1 750 r/min

270 kW tussen 5 500 – 6 000 r/min

520 Nm tussen 2 500 – 4 500 r/min

0 – 100 km/h6.2 sek4.9 sek
Topspoed241 km/hBeperk tot 250 km/h
Brandstofverbruik6 ℓ/100 km8.7 ℓ/100 km

Alhoewel die twee albei sportiewe intensies het, en min of meer die selfde grootte is – kan dié twee produkte nie meer verskil nie. Albei is mooi die AMG vir my die mooier van die twee, en die AMG se binneruim is op heeltemal ʼn ander vlak as die Jaguar. Die Mercedes-AMG se spesifikasievlak is in die  stratosfeer teenoor die Jaguar. Die F-Pace het nie ʼn sondak nie, en sy instrumente word op verouderde skerms uitgebeeld. Als is nie verlore nie, as die F-Pace in die toekoms Land Rover se nuwe skerms kry wat in die Velar te vinde is, is als reg. Die Mercedes-AMG se vermaak en inligtingstelsel is wel vir my bitter moeilik om aan gewoond te raak. Ek’t nou al ʼn paar Merc’s gehad, en sukkel my dood om die stelsel te snap. Beide voertuie het navigasie, Bluetooth, klimaat- en spoedbeheer asook outomatiese ligte en ruitveërs. Die Mercedes-AMG het wel ʼn reuseglasdak wat die F-Pace nie het nie.

Albei voertuie is baie gemaklik, en die F-Pace voel baie meer ruim binne as die GLC. Die GLC se sitplekke bied vir my beter steun as die F-Pace sʼn, maar dit hang seker af van jou eie voorkeur. Die ritgehalte was vir my ʼn moeilike een. Die GLC ry baie beter op slegte paaie as die Jaguar. Die F-Pace het met reusagtige 22”-wiele hier opgedaag. Dit lyk dalk mooi, maar die wiele is te swaar en die ongeveerde massa laat die F-Pace lomp voel. As daar slegte hobbels is voel dit asof jy naellope in reënstewels probeer hardloop. Padhouvermoë in beide voertuie is indrukwekkend, maar die pad moet mooi wees vir die Jaguar.

Die dieselenjin in die Jaguar trek soos ʼn lokomotief, maar is nie so vinnig soos die Mercedes-AMG nie. Waar die Jaguar se stoom opraak, neem die GLC oor en begin dan éérs hol! Dit is wel nie heeltemal redelik om die petrol en diesel te vergelyk nie. Die F-Pace is aansienlik ligter op brandstof as die AMG. Ongelukkig het die Jaguar nie my hartsnare geroer nie, dit is juis hoekom ek hom met die vinniger, goedkoper en beter toegeruste Mercedes-AMG GLC 43 AMG 4 Matic vergelyk. Albei voertuie buig mens se persepsie van wat moontlik is in ʼn sportnuts. As dié vergelyking tussen die Range Rover Velar P380 en die Mercedes gedoen is, sou die uitkoms baie anders gewees het. Tussen dié twee, kies ek beslis die Mercedes-AMG.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.