[Foto’s] Vergelykende toets: Twee kruismodelle in ʼn kryt

Deesdae is motoriste bederf met duisende opsies en weergawes. Twee van dié opsies wat albei kruismodelle is, maar tog baie verskil, vergelyk ons met mekaar vir jou. Die nuwe Toyota C-HR 1.2T Plus Outo, en die Opel Mokka X 1.4T Cosmo Outo.

Van buite is albei mooi op hul eie manier. Die Mokka is meer gerond en gereserveer. Die Toyota is jonk en aggressief in sy ontwerp. Beide het turboaangejaagde enjins met outomatiese ratkaste. Beide het vyf sitplekke, maar dit is min of meer waar die ooreenkomste ophou. Ek hou van die moderne ontwerp van die Toyota, maar vir party gaan die sagter styl van die Opel beter wees.

Die gehalte aan die binneruim van beide motors is puik. Die Opel het beslis meer speelgoed in as die Toyota. Die Mokka het leersitplekke wat verhit is. Die stuurwiel is verhit. Die puik klankstelsel het Apple Carplay en Android Auto, met navigasie. Die Opel het ook PDC voor en agter met ’n truratkamera wat die C-HR nie het nie. Die Mokka het ses lugsakke en die C-HR slegs twee. Alhoewel die Opel R11 000 duurder is as die C-HR, is hy beslis baie beter toegerus. Ons Suid-Afrikaners hou ook van volgrootte spaarwiele, en dit belemmer die C-HR se kattebak.

Die Toyota C-HR 1.2T Plus Outo (Foto: Toyota)

Die ritgehalte in die C-HR is beslis beter as in die Mokka. Die Opel het reuse 19”-wiele op, en die C-HR slegs 17”. Daarom kan die C-HR ’n groter profiel band dra, dus word die ritgehalte baie verbeter. Padhouvermoë is heeltemal goed op beide voertuie. Ek het ook nie een van die twee so hard gery dat ek sou sê een van die twee is beter as die ander nie.

Die enjins verskil redelik. Dit is die eerste turboaangejaagde petrol-enjin wat Toyota vir ons hier in Suid-Afrika bied. Die 1.2-enjin is gretig en lieflik stil. Op die oop pad is die C-HR indrukwekkend lig op brandstof. Die Mokka se 1.4 het meer krag as Toyota se 1.2, maar is tog ook swaarder op brandstof. Die Opel-enjin is ook nie so stil en rustig soos die Toyota-enjin nie. Hy is doelbewus meer sportief.

Die Opel Mokka X 1.4T Cosmo Outo (Foto: Opel)

Die ratkas in die Mokka is ’n gewone outomatiese ratkas met ’n wringkragomsitter. Die C-HR gebruik ’n CVT (Palwisseltransmissie), en solank jy rustig ry, pla hy nie, maar as jy haastig raak, dan maak enige enjin wat aan ’n CVT gekoppel is aardige geluide soos hy tot bo in die toerestrek gaan en daar bly, terwyl die ratkas die voertuig versnel. Baie Japanese voertuie gebruik CVT-ratkaste, maar ek hou nie daarvan nie.

Ek gaan die toets só opsom. Indien ’n groot kattebak nie ’n vereiste is nie, en ’n CVT-ratkas jou nie pla nie, gaan die C-HR ’n puik koop wees. ’n Mens kan nie die spesifikasievlakke van die Mokka ignoreer nie, en die voertuig ry lekker. Al waarmee ek nou sukkel, is naverkopediens terwyl Opel weer hul voete vind sonder GM.

Dié twee vergelyk só:

Toyota C-HR 1.2T Plus OutoOpel Mokka X 1.4T Cosmo Outo
R357 800R368 100
3 jaar/ 100 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

5 jaar/ 120 000 km-waarborg

5 jaar/ 90 000 km-diensplan

85 kW/ 185 Nm103 kW/ 200 Nm
6.4 ℓ/100 km6.5 ℓ/100 km
0 – 100 km/h  11.1 sek0 – 100 km/h  10.7 sek
185 km/h191 km/h

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Chris Ws ·

Die hemelhoe pryse sit my heeltemal af.Ek sal maar my voertuig bly regmaak en ry so lank ek kan.Hy is reeds 16 jaar oud maar ry steeds soos ‘n droom.Sy Onderdele is spot goedkoop ook in vergelyking met sy hedendaagse boetie.

Piets ·

as jy dink daai is hemlhoog, dan is jou hemel nie baie hoog nie.

Waghond ·

Die Opel is meer prakties, beter toegerus, beter waarborg en het ‘n beter engine en ratkas met beter verrigting.

Hendrik ·

Stem waghond, my vrou ry een vir 15maande en beskou die Mocca, met sy veiligheid ens soos genoem, as die beste motor wat ons gery het in my leeftyd en ek het elke vier jaar nuwe voertuie gekoop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.