Foto’s: Ysterperde brul in Mosselbaai by die Buff

‘n Groot getal motorfietse het Saterdag tydens die Buff-motorfietssaamtrek aan ‘n optog deur die strate van Mosselbaai deelgeneem (Foto: Eugene Gunning)

Meer as 3 000 motorfietsgeesdriftiges van reg oor Suid-Afrika en selfs van die buurstate het dié naweek saamgetrek vir die jaarlikse Buffalo Rally-motorfietssaamtrek. Die geleentheid vind elke jaar onder die vaandel van die Nomads-motorfietsklub plaas en dit is 13de keer dat dit in Mosselbaai gehou is.

Dit het Saterdagoggend ʼn hoogtepunt bereik toe ʼn paar duisend motorfietse van alle groottes aan ʼn optog deur die dorp se strate deelgeneem het. Die motorfietsryers – jonk en oud – het baie aandag getrek en mense het al van vroeg stelling ingeneem om die beste sit- en staanplekke te kry. Voor in die optog was Wally Brandt, een van die organiseerders en Harry Levendal, Mosselbaai se burgemeester. Hulle is gevolg deur Luderick Jacoby, voorsitter van die Nomads. Saam met hom het adv. Thys Giliomee, Mosselbaai se munisipale bestuurder, gery.

Kort voor die begin van die optog het Jacoby aan Maroela Media gesê sowat 4 000 mense het vir vanjaar se geleentheid ingeskryf en daar is sowat 3 500 motorfietse. Dit is ʼn bietjie minder as verlede jaar en die weer het waarskynlik vanjaar ʼn rol gespeel.

Jonk en oud het Saterdag deelgeneem aan ‘n optog deur die strate van Mosselbaai tydens die Buff-motorfietssaamtrek (Foto; Eugene Gunning)

Volgens hom kan die gewildheid toegeskryf word aan die feit dat ʼn goeie vertoning aangebied word. Net die beste orkeste tree op en vermaak is deel van die program. Waaghalse het ook hul vaardighede gewys. ʼn Deel van die geld wat met ʼn prystrekking ingesamel is, word aan liefdadigheid geskenk.

Jacoby het gesê die Buff het al ʼn lang tradisie en dit is reeds die eerste keer in 1969 in Port Elizabeth aangebied. Dit het ook al in Oudtshoorn gaan draai. Die organiseerders is tevrede dat dit in Mosselbaai aangebied word en dit sal aanstaande jaar weer op die dorp aangebied word. Dit sal moontlik net op ʼn ander plek in die dorp plaasvind.

Benewens deelnemers van Suid-Afrika kom deelnemers ook van Namibië en Botswana.

Volgens Jacoby beteken die geleentheid “miljoene” vir die geldkoffers van sakeondernemings in die dorp. Daar moet in gedagte gehou word dat tussen 3 500 en 4 000 motorfietse by die geleentheid is. Elkeen van die motorfietseienaars gooi minstens R200 se petrol in Mosselbaai in.

Die Pretorius-gesin van Mosselbaai (Foto: Eugene Gunning)

Van die deelnemers kon nie uitgepraat raak oor die geleentheid nie en ʼn karnaval-atmosfeer het by die De Bakke Santos-kampeerterrein geheers waar baie van die deelnemers gekamp het. Hulle was dit eens dat motorfietsry nie gevaarlik is nie, as jy sekere dinge nakom: ry verantwoordelik, dink terwyl jy ry en wees bewus van ander voertuie op die pad.

Verskeie stalletjies het flink sake gedoen. “Ek gaan nie ʼn miljoenêr word nie, maar ek gaan ʼn wins maak,” het een van die stalletjie-eienaars gesê.

Van die manne het ook hul vroue en meisies saamgebring. Vroue het ook op hul eie gery en families het opgedaag.

Die Pretorius-gesin van Mosselbaai het, met die uitsondering van hul oudste seun, Gideon, opgedaag. Manie en Marinda Pretorius se twee dogtertjies, Michelle en Talita het saam met hul ouers gery en die jongste seun Richard (10) het op sy eie gery. Manie het gesê daar is aangename atmosfeer. Hulle woon op ʼn plaas naby Mosselbaai en neem elke jaar deel. Marinda het gesê die hele gesin ry motorfiets maar Manie en Gideon is eintlik die groot motorfietsgeesdriftiges in die gesin.

Johan Visagie van Stilbaai met sy hondjie Yuki (Foto: Eugene Gunning)

Johan Visagie van Stilbaai het met sy hondjie Yuki opgedaag en baie aandag getrek. Die hondjie gaan oral saam. “Ek kan hom nie by die huis los nie. Hy wag by die venster,” het hy vertel.

Voor ‘n paar tentjies het ʼn groep vriende van Kaapstad saam gekuier voor die optog. “Die Buff is my vakansie,” het Aldo Marais vertel. “Dit is ʼn lekker manier van kamp.”

Robert Kotze van Bloubergstrand het gesê die Buff is pret. In ligte trant het hy bygevoeg: “Dit is ʼn manier om weg te kom van die vrou en die kinders!”

Harry Levendal, Mosselbaai se burgemeester, het gesê dit beteken baie vir die dorp en daar gaan gepoog word om dit daar te hou.

Thys Giliomee, Mosselbaai se munisipale bestuurder, het bygevoeg dit bring gemeenskappe saam en dit is ʼn groot ekonomiese inspuiting vir Mosselbaai. “Dit is iets waarna die hele gemeenskap in Mosselbaai elke jaar uitsien en dit moet vir Mosselbaai behoue bly.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mike Kaapstad ·

EK WAS OP EEN IN 1983 ……………..baie lekker stout en vol plesier……..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.