[Foto’s] Zontes S250: Vergeet persepsies, dié fiets laat waai

Die Zontes S250 (Foto: Brian Cheyne)

Chinese motorfietse wat ’n merk wil maak in enige mark, begin klaar met ’n agterstand. Ongelukkig dra hulle jare se reputasie saam dat hulle almal ’n plakker moet ophê wat sê: “Hanteer versigtig. Hou in ’n koel, droë plek”. Zontes is ’n nuwe handelsnaam wat ek die eerste keer op die South African Bike Festival gesien het, en dié bont fietse het nogal my oog gevang.

Zontes is ’n onafhanklike vervaardiger wat al sedert 2003 motorfietse vervaardig. Alhoewel hul afwerking nog nie heeltemal op Japanese standaard is nie, is hulle baie vinnig besig om veld te wen. Die skakelaars op die handvatsels, byvoorbeeld, voel stewig en solied.

Tans het Zontes drie modelle in die land, en hulle werk hard daaraan om hul handelaarsnetwerk uit te brei. Die ZT125-J is ’n dubbeldoelfiets, en die ZT125-K het ’n meer retro-ontwerp. Altwee maak ideale beginnerfietse en verkoop vir R18 500.

My aandag was egter op die S250. Jy kan hom nie miskyk nie. Afgewerk in helder oranje en brons, is die teikenmark duidelik die jonger geslag. Selfs die hooflig lyk soos iets uit ’n Transformers-fliek.

Die Zontes S250 (Foto: Brian Cheyne)

Die S250 beskik oor ’n 250cc lug- en olieverkoelde enjin wat ’n redelike 24pk lewer, so in ’n pendelrol is die Zontes ideaal. Jy kan in stadsverkeer maklik voor die verkeer bly, en die afmetings van die fiets maak dit maklik om tussen die motors deur te glip. Met sy 6-spoed-ratkas was selfs die N1 nie ’n probleem vir hierdie fietsie nie. 120km/h word met gemak gehandhaaf en jy kan selfs nog vinniger, as jy moet.

Soos ek genoem het, lyk die skakelaars nie of hulle uit koeldrankdoppies gemaak is nie en die digitale instumentasie is maklik leesbaar, alhoewel die inligting maar skraps is. Spoed, toere en brandstofvlak word gegee, en saam met dit, totale afstand en een ritmeter. Daar is selfs ’n horlosie, maar geen rat-aanduiding nie.

Die Zontes het so ’n sportiewe streek ook. Die skokbrekers voor is onderstebo gemonteer en hy beskik oor skywe voor en agter. Die voorrem verg ’n stewige hand om die Zontes te stop, maar dit is tog effektief.

Wat die stilering betref, is die Zontes glad nie ʼn onaansienlike fiets nie. Hy trek sterk op die Japanese kaalfietse, alhoewel die kleurskema vir my te veel brons in het. Ek soek ’n bietjie meer swart stukkies. Die lyne is skoon en daar is nêrens ʼn skroefie in sig nie. Alles is mooi geïntegreer.

Die Zontes S250 (Foto: Brian Cheyne)

So, ’n pendelfiets is hy beslis, maar Zontes het ook kant-tassies beskikbaar, as jy ’n bietjie verder wil ry. Al drie dié fietse kom met ’n twee jaar-, 20 000 km-waarborg en Zontes verseker my dat ’n diens jou nie ’n arm en ’n been gaan kos nie. Daar is ook diensplanne beskikbaar.

Om te verseker dat hulle ’n betroubare produk het, het die Zontes-span in Maart hierdie jaar met al drie modelle na die Buffalo Rally in Mosselbaai gery van Pretoria af, sonder enige voorval.

Zontes se grootste uitdaging is egter die persepsie rondom Chinese produkte. Ek moet erken ek was skepties oor die fiets, nog voor ek hom eens onder hande gehad het. Die Zontes is egter glad nie ’n slegte fiets nie, en meer as 100 van hulle het al huise gekry in SA. So kom ons vertrou dat hulle hier is om te bly.

Vir meer inligting, besoek die produkblad.

In ’n neutedop:

Enjin249 cc Enkelsilinder
Gewig (Nat)154 kg
Maksimum kraglewering18 kw
Saalhoogte79 cm
Tenk kapasiteit11 L
PrysR49 900

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

anton. ·

Ai, kon hulle nie maar net tenminste n mooier naam gekies het nie.
Die kleur skema is darm nie te aardig nie. Herrinder baie aan die KTM’s.

Mike ·

vir China glad nie sleg nie,prys miskien bietjie goedkoper want kyk die nuwe G 300 BMW slegs 60 k…..

Afrikaanse Knaap ·

R50 000 is baie geld om mee te dobbel. Ek sal skepties bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.