Foto’s: Zontes ZT 310-R – ’n Aantreklike alternatief

Foto: Brian Cheyne.

Jare lank het die Chinese motorfietse gemaak met reguit lyne en argaïese ontwerpe. Laasjaar het die nuwe Chinese maatskapy Zontes besluit dit is heeltemal aanvaarbaar om ’n fiets helder oranje of lemmetjiegroen te verf. Hulle het toe met die Zontes S250 vorendag gekom, en ten spyte van die stigma rondom Chinese produkte was ek heel beïndruk met dié klein fietsie.

Op die South African Bike Festival vroeër vanjaar het Zontes die nuutste toevoeging tot die reeks bekend gestel en almal was dit eens dat die Zontes ZT 310-R ’n baie aantreklike fiets is. Die fiets lyk soos ’n kaalfiets moet lyk, met aggressiewe lyne en ’n stert wat skerp na agter opwip. Helder verf-aksente en twee kort windmakerige uitlaatpypies rond die prentjie mooi af. Die agterligte is in die stert geïntegreer, en die voorste flikkers is netjies deel van die bakwerk.  Die Zontes ZT 310-R het baie aandag getrek, veral onder die jonger geslag.

Die hooflig se ontwerp en die intrumentepaneel is oorgedra van die S250. Die instumentepaneel het nou ratposisie en enjintemperatuur bygekry, so daar is klaar ’n verbetering. Die groot verbetering is egter in die ekstra 60 cc. As die enjin luier klink hy maar blikkerig, maar dit ís maar hoe hierdie klein fietsies klink. Die fietsie is toegerus met ’n sleutellose stelsel. Die sleutel bly in jou sak, en jy skakel die fiets aan met ’n rooi knoppie op die regterhandvatsel. Die petrolklappie en sitplek word ook elektries beheer en dit is nogal ’n luukse byvoeging op so ’n klein fietsie.

Foto: Brian Cheyne.

Die wegtrek was ’n lewendige ervaring, en ek was verbaas oor die ZT se verrigting. Die fiets ontwikkel 26 kw, en een van my medejoernaliste het ook opgemerk dat die verrigting nie hoef terug te staan vir sy mededingers nie. Met ’n topsnelheid van digby die 160 km/h is hierdie fiets meer as geskik vir rol as ’n pendelfiets. Die versnelling is rats genoeg om jou voor die verkeer uit te kry. Die handvatsels voel ook nouer as ander fietse in hierdie klas, en dit help om vertroue in te boesem in stadsverkeer. Die remme is toegerus met sluitwering, maar hulle verg ’n stewige trek en voel sponserig. Dit is die een aspek van die Zontes wat ’n kol op ’n andersins goeie rapport gelaat het.

Teen R63 900 kompeteer die ZT 310-R in ’n mark wat die afgelope jaar geweldig gegroei het. Daar is natuurlik die BMW G 310 R  wat laasjaar plaaslik bekend gestel is, maar hy is heelwat duurder as die Zontes. Ek kon nie die twee fietse teen mekaar opweeg nie, maar op stilering loop die Zontes voor, en dit wil vir my voel of die Zontes effe beter verrigting ook het. Dit is ’n groot pluimpie vir die nuweling.

As ’n beginnerfiets is hy ideaal, en so ook as ’n pendelfiets. Die handelaarnetwerk is besig om te groei, so as jy wil uitstaan en anders wees as almal, is die Zontes ZT 310-R glad nie ’n slegte kopie nie.

Vir meer inligting: http://www.zontes.co.za/zt310-r/

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marco polo ·

Ek woon in China en is self op die oomblik besig om na Chinese fietse te kyk. Hulle bied baie goeie waarde vir geld en lyk ultra modern. Die kompetisie is so groot hier dat n vervaardiger dit nie durf waag om n swak produk te bemark nie.

marco polo ·

Kyk bietjie waar die goed in jou huis vandaan kom, jy sal verbaas wees. En baie voorsieners van onderdele vir die motorbedryf, soos bv Bosch, se parte kom uit China. Ongelukkig is dit so dat baie goedkoop gemors uit China in SA beland, maar om te se dat alles uit China swak kwaliteit is, is net eenvoudig nie waar nie.

JoeV ·

Interesant, staan anderdag agter baie bekende Japenese motorfiets vervaardiger se pakhuis en daar staan kratte en kratte nuwe fietse wat nog in houers is, maar bekende naam, GROOT op die kant geskryf “MADE IN CHINA”. Dit sou een of ander tyd begin, en nie einde kry dat Chinese vervaardigers die wereld mark betree met “eie” produkte , uit beginsel sal ek my weerhou, maar mens kan nooit sê nooit nie!
In baie lande is daar plekke wat die Japenese motorfiets parte van China af invoer en dit dan aanmekaar sit as die een of ander wonderlike naam tuig. Dit is veral in die 50 en 125 cc, Honda en Suzuki namaaksels,

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.