Franse chic met gehaltebyvoeging

Foto: Bernard K Hellberg

Foto: Bernard K Hellberg

Vergeet gerus al jou vooroordele ten opsigte van Franse motors.
Die nuwe Citroën C4 Picasso is ‘n visuele kragtoer met sekerlik een van die grootste en stylvolste voorruite wat tans op enige motor in ons land te sien is.

Benewens die onlangse bekendstelling in die George-omgewing het die C4 dadelik opgeval as ‘n puik motor met heelwat Kruger-wildtuin potensiaal. Daar genoeg glas vir al die insittendes sodat wild behoorlik besigtig kan word; die sitplekke is ruim en gerieflik (vir die lang rukke van sit en wag vir diere om hul verskyning te maak) terwyl die outo-afskakelfunksie behoorlik tot sy reg gekom het.

Wat ‘n plesier om by ‘n wildkykpunt stil te hou, die Citroën uit rat te haal, gevolg deur heerlike stilte. Maar bygesê, in die nabye teenwoordigheid van veral olifante, skakel die gewillige 1.6-liter turbodiesel dadelik weer aan.

Hierdie foto wys hoe gemaklik die Citroën se instrumentpaneel fotografiese toerusting hanteer - wat dit, benewens ander hoedanighede die ideale wildtuin-voertuig maak.

Foto: Bernard K Hellberg –  Hierdie foto wys hoe gemaklik die Citroën se instrumentpaneel fotografiese toerusting hanteer – wat dit, benewens ander hoedanighede die ideale wildtuin-voertuig maak.

Maar, soos enige toegewyde Suid-Afrikaanse wildkyker weet, is die langpad na die eindbestemming – in hierdie geval vanaf Pretoria na Skukuza – ‘n 400 kilometer ekspedisie. En dis dan net hier waar die 85 kW 4-silinder 50 dpm diesel gesuig het teen ‘n baie ekonomiese 5.2 liters/100 kilometers. Die 55-liter brandstoftenk is dus in staat om ‘n reikafstand van 1 057 kilometers te haal – oftewel van Pretoria af tot net anderkant Beaufort-Wes.

Die wringkrag van 270 Nm teen ‘n lae 1 750 opm beteken ook dat die C4 gemaklik ‘n sleepwaentjie sou kon hanteer – indien nodig.

‘n Verdere voordeel van hierdie gewillige en puik kragbron –wat die voorwiele deur ‘n 6-gang ratkas (handskakeling)aandryf – is dat die C4 se CO2 uitlaatgas van net 105 gm/km hom gemaklik onder die Zuma-regime se gierigheidsvlak van 120 gm/km laat inskuif. Daar’s dus geen addisionele belasting verskuldig nie.

Maar wat die Citroën nog verder laat uitblink, is bedagsaamheidjies soos verhitte sitplekke vir daardie koue 5°C-wildtuinoggende. ‘n Stram rug is die Citroën se kos – danksy ‘n masseerfunksie in albei voorste sitplekke wat, terloops, elektries verstelbaar is en die modieuse luukse van volle leerbekleedsel bied.

Die Kruger-wildtuin se relatief slegte en vloedbeskadigde grondpaaie bied ‘n verdere toetsterrein vir die Picasso. Ook hier het die Franse nuweling met vlieënde vaandels geslaag. Geen stof het die binneruim binnegedring nie, die bougehalte is goed en rammelvry en die gevorderde raamskerm-inligtingstelsel was ‘n plesier om te gebruik.

Die instrumentepaneel verdien spesiale vermelding. Groot, plat en bedek met ‘n glybestande oppervlak, is dit die ideale lêplek vir voëlboeke, verkykers en langlenskameras.

Agterste sitplekke vou heeltemal plat en dit maak die Picasso dan nog meer veeldoelig in dié sin dat braaiers en koelkaste gemaklik in- en uitgetel kan word. Selfs die bagasiebakdeksel verdien vermelding. Druk net die sleutel en die bak gaan vanself oop; die druk van ‘n knoppie in die bak sorg vir die toemaakslag – ‘n aangename plesier vir diegene wat nie van stowwerige bagasiebakdeksels hou nie.

Maar hoe ry die Citroën op die oop pad?

Teen snelhede so hoog as 140 km/h was die binneruim doodstil. Windgesuis word verbasend goed beheer, en die halogeen-koplampe bied uitstekende reikafstand en kantbeligting – wat verder aangehelp word deur misligte wat aan die stuur gekoppel is en hulp verleen wanneer gedraai word.

Nou ja, die Citroën C4 is sekerlik nie goedkoop nie (R345 900) maar teen hierdie prys is daar werklik min mededingers wat kan saamgesels wanneer veiligheids- en luukse eienskappe in aanmerking geneem word.

Die lys is lank en omvattend en sluit in vier skyfremme met ABS, EBD en EBA. Die parkeerrem (daar’s nie ‘n handrem in die gewone sin van die woord nie) skop outomaties in, ses lugsakke en Isofix® kindersitplek-hegpunte sorg vir veiligheid.

Maar om ‘n rit in die C4 Picasso ‘n nóg groter plesier te maak, is daar ook togbeheer (cruise control), kantspieël-blindekolwaarskuwings, ondeurdagte baanwissel-waarskuwings, sentrale sluit, outomatiese koplig- en ruitveëraktivering, daglig-ryligte (LED), waarskuwings in die geval van ‘n papband en/of ‘n gloeilamp wat die gees gegee het, skitterende 205/55 17”Michelin-bande, ten volle verstelbare stuur en elektriese vensters.

En dan is daar ook verstelbare sonskerms wat vorentoe en agtertoe kan skuif, parkeerwaarskuwings en ‘n tru-kamera. Twee 12v-kragproppe is ook standaard-toerusting.

Ten slotte

Die Citroën C4 Picasso met sy gevorderde tegnologie, lang lys luukse en veiligheidskenmerke, 3 jaar/100 000 km waarborg en 5 jaar/100 000 km diensplan was ‘n verrassend goeie keuse as Wildtuin-voertuig – en ook as ‘n ekonomiese langpadwa wat sy insittendes fris en vrolik by hul bestemming sal uitbring.

Kortom, die Picasso is een van daardie voertuie wat die potensiaal het om later vanjaar ‘n Motor van die Jaar-finalis te wees. Dis ‘n puik produk en ‘n plesier om te besit.

Die enigste kwelpunt is die mini-noodwiel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.