Fratsongeluk fnuik nie sonkar-droom

Die span agter die Noordwes-Universiteit se Sirius X25 (Foto: Facebook)

Die span agter die Noordwes-Universiteit se Sirius X25 (Foto: Maryke Laas/Facebook)

Die Noordwes-Universiteit se sonkar, Sirius X25, gaan steeds eerskomende naweek, op 24 September, aan die plaaslike Sasol Solar Challenge deelneem ten spyte van ʼn fratsongeluk Donderdagmiddag wat amper dié universiteit se planne in die wiele gery het.

Die Sirius X25, wat ʼn skrapse 196 kg weeg, is Donderdagmiddag tydens die finale tydtoets vir die kompetisie deur ʼn rukwind omgegooi. Estienne Janse van Rensburg was tydens die fratsongeluk aan die stuur.

Die span is tans besig om voor te berei vir die plaaslike Sasol Solar Challenge waarin dié motor die afstand tussen Pretoria en Kaapstad moet aflê.

Prof. Fika Janse van Rensburg, die NWU-rektor, het Donderdag in ʼn verklaring gesê hoewel Estienne geen beserings opgedoen het nie, kan dieselfde nie oor die sonkar gesê word nie.

“Daar is skade aan die sonpanele, die nie-lasdraende struktuur, die kajuitdop, die bedrading én dele van die onderstel,” het Janse van Rensburg verduidelik.

Estienne Janse van Rensburg het geen beserings tydens Donderdag se fratsongeluk opgedoen nie (Foto: Facebook)

Estienne Janse van Rensburg het geen beserings tydens Donderdag se fratsongeluk opgedoen nie (Foto: Maryke Laas/Facebook)

“Ons het eers gedink die Sirius X25 moet aan die wedren onttrek word, maar toe het die wonderwerke begin gebeur. Ander spanne, wat internasionale deelnemers insluit, het in die gees van samewerking ons aangemoedig om die Sirius X25 binne die beskikbare 48 uur te herstel en aangebied om hiermee te help.”

Janse van Rensburg sê die Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsingsraad (WNNR) het intussen ook hul geriewe beskikbaar gestel.

Prof. Albert Helberg, spanbestuurder van die Sirius X25, het ook in dié verklaring gesê die spangees om die krisisituasie in ʼn unieke geleentheid te omskep, is ʼn waardevolle leerskool vir diegene wat by die projek betrokke is.

Die NWU sal tydens dié plaaslike kompetisie meeding teen 12 wêreldkampioene, waaronder die Delft Universiteit van Tegnologie en die Tokai Universiteit van Japan.

Die Sirius X25 (Foto: Facebook)

Die Sirius X25 (Foto: Facebook)

Die Sirius X25, wat deur studente met die hand gebou is en bykans R1 miljoen gekos het, sal na verwagting tussen 24 September en 1 Oktober die pad tussen Pretoria en Kaapstad aandurf.

Dié sonkar het in 2012 vir die eerste keer aan die Sasol Solar Challenge deelgeneem en kon daarin slaag om net meer as 1 000 km af te lê. In 2014 het hy daarin geslaag om 2 000 km af te lê en verlede jaar net meer as 3 000 km.

Helberg meen dié span gaan vanjaar weer bykomende roetes ry omdat die kompetisie oor afstand beslis word en die sonkar wat die meeste kilometers aflê, as wenner gekroon word.

Die sonkar het ook al verskeie ander toekennings ingepalm. Hy was onder meer in 2015 die eerste Afrika-span om tydens die Wêreld Solar-uitdaging in Australië eerste oor die wenstreep te ry.

Hy het ook die Federation International Autmobile (FIA) toekenning vir Herbubare Energie ontvang en het telkemale al ʼn nuwe rekord opgestel vir die verste afstand wat ʼn sonkar op ʼn enkele dag afgelê het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Dup du Plessis ·

……Puik PUKKE……en ander studente oefen klipgooi en die ontbrandings teorie….

Sonkar ondersteuner ·

Die studente wat aan die sonkar werk is bitter toegewyd en het absoluut ‘n passie daarvoor. Dis ‘n groot jammerte dat daar ‘n ongeluk was. Die belangrikste is dat die drywer Estienne nie seergekry het nie. Die kameraadskap van Prof Helberg, mede deelnemers, alumni en die span is regtig iets om op trots te wees! Ons hou julle fyn dophou en bid en vertrou dat dit ‘n veilige reis sal wees. Trots op julle

Sonkar ondersteuner ·

Die studente wat aan die sonkar werk is bitter toegewyd en het absoluut ‘n passie daarvoor. Dis ‘n groot jammerte dat daar ‘n ongeluk was. Die belangrikste is dat die drywer Estienne nie seergekry het nie. Die kameraadskap van Prof Helberg, mede deelnemers, alumni en die span is regtig iets om op trots te wees. Ons hou julle fyn dop en bid en vertrou dat dit ‘n veilige reis sal wees. Trots op julle!

Hannes ·

Ons het gister 24/9/2016 in vereeniging by die sonkar verby gery, (getoet en gewaai?) nou lees ekke dat 2 dae voor dit was julle ongeluk, en wraggies binne 2 dae terug op die pad. Dit wil nou vir jou gedoen word, sterkte met julle uitdagings! Trots op ons toegewyde studente!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.