Gebruikte motors: nagmerrie of seën?

Foto: Pixabay

ʼn Motor is een van die duurste dinge waarop jy ooit geld sal bestee. Nuwe motors is vir die meeste verbruikers iets waarvan hulle net kan droom omdat dit so duur is en daarom val die keuse gewoonlik op gebruikte motors. Gebruikte motors is wel goedkoper, maar dikwels raak goedkoop duurkoop wanneer dit oneindige probleme begin gee, veral as die motor privaat gekoop is. Ina Opperman verduidelik waarom die Wet op Verbruikersbeskerming nie ingespan kan word om kopers van gebruikte motors in private transakies teen gewetenlose verkopers te beskerm nie.

Terwyl die Ombudsman vir die Motorbedryf ʼn uitweg bied vir verbruikers wat gebruikte motors by handelaars koop, sê die Nasionale Verbruikerskommissie dit kry gereeld klagtes van mense wat motors in private transaksies gekoop het. Die kommissie se jaarsyfers wys dat verbruikers die tweede meeste oor gebruikte motors kla.

Volgens die kommissie word ʼn private kooptransaksie gedefinieer as ʼn transaksie tussen ʼn koper en verkoper wat in die normale verloop van sake nie sulke goedere verkoop nie. Dit word dus beskou as ʼn eenmalige transaksie. Die Wet definieer die verbruiker as iemand aan wie goedere of dienste bemark word in die gewone verloop van die handelaar se sake.

Iemand wat ʼn gebruikte motor in ʼn private kooptransaksie koop, geniet dus nie dieselfde beskerming as iemand wat ʼn motor koop by ʼn handelaar in gebruikte motors nie. Volgens die kommissie is die grootste risiko wat jy loop om ʼn gebruikte motor in ʼn private transaksie te koop, dat jy die die ses maande versweë waarborg kry wat verpligtned is luidens die Wet nie. Jy koop dus die motor “voetstoots” sonder die beskerming van die Wet.

Wanneer jy ʼn motor koop by ʼn handelaar in gebruikte motors, maak die Wet daarvoor voorsiening dat dit nie genoeg is as die handelaar aandui jy koop die motor voetstoots nie. Die handelaar het die verantwoordelikheid om die aard van ander defekte uit te wys sodat jy ʼn ingeligte besluit kan neem.

Volgens die kommissie duik hierdie soort probleem nie net op in transaksies waar mense mekaar ken nie, maar ook in transaksies wat plaasvind in reaksie op advertensies op verskeie webwerwe vir kleinadvertensies. Die kommissie stel ook ondersoek in na handelaars wat hul ondernemings oopstel vir private transaksies om te kyk of dit ʼn manier is om die bepalings van die Wet te systap.

Verbruikerswenke

Die kommissie waarsku dat verbruikers moet oppas vir die volgende:

  • Vra uit wie die eienaar is van die gebruikte motor, selfs al koop jy by ʼn handelaar.
  • Dink baie mooi daaroor voordat jy ʼn motor in ʼn private transaksie koop, aangesien baie risiko’s daaraan verbonde is.
  • Onthou dat jy geen regte ingevolge die Wet het indien jy ʼn motor in ʼn private transaksie koop nie.

Indien jy ʼn kat in die sak gekoop het in ʼn private koopooreenkoms vir ʼn gebruikte motor, kan jy die vorige eienaar in die hof aanvat, maar regstappe in die siviele hof is baie duur.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Piet Pompies ·

Die wet is wel daar om die verbruiker te beskerm as hy ‘n voertuig by ‘n handelaar koop, maar die onderhou of toepassing van die wet is ‘n ander saak. Ons het ‘n gebruikte voertuig in Johannesburg gekoop by ‘n bekende handelaar, dit is omtrent 300km van ons huis af. Die handelaar het die voertuig deur die toets gesit, gediens en ‘n 80 punt inspeksie uitgevoer. ‘n Afskrif van die inspeksie is aan ons gestuur en ons het besluit om die motor kontant te koop. Met ‘n geleentheid JHB toe, die voertuig was vuil en die inspeksie vorm is in die kantoor voltooi met heelwat bestaande foute onder meer die enjin temperatuur meter was foutief. Die eienaar van die besigheid het bloot gesê, take it or leave it. Met geen geleentheid terug was ons gedwing om die voertuig te neem en naverkope diens was nul. Die onbudsman het ons na klein eise verwys, klein eise moet in JHB gedien word, 300km weg, en die handelaar weet dit. Selfs die vervaardiger in SA het ook net skouers opgetrek toe ek hom hulp vra. Die swaarste is, nommerplate en registrasie was ingesluit by die prys volgens die kwitansie en ek moes toe self vir dit betaal.

Eugene ·

Koop net by Monaco Motors in pta dan sal jy nie terug kyk nie

kobus ·

Die privaat verkoper word volgens die wet verplig om die foute van die motor uit te wys. Doen hy dit nie, of verswyg sommige foute, het jy ‘n baie sterk saak teen hom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.