Gebruikte voertuie: Vermy só dat jy ingedoen word

motorsleutels

Argieffoto

ʼn Geraamde 20 000 voertuie ter waarde van sowat R4 miljard word jaarliks onwettig in Suid-Afrika geregistreer en verkoop.

Statistieke toon Suid-Afrika is oorwegend ʼn gebruikte-motor-mark en met die gerief van sosiale media koop baie verbruikers eerder tweedehandse motors direk by die verkoper of onbekende handelaars as om deur ʼn gevestigde en betroubare handelaar te werk.

“Misdadigers is altyd op die uitkyk om ʼn vinnige rand of twee te maak en hulle is baie bevoeg daarin om mense ʼn rat voor die oë te draai met die aankoop van ʼn voertuig,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “In persoon én aanlyn slaan hulle toe op niksvermoedende kopers wat op soek is na ʼn winskopie – iets wat soms die eerlikste en hardwerkende mense tienduisende rande kos.”

Volgens Coetzee lê die sleutel daarin om jouself te beskerm teen booswigte soos hierdie deur ʼn skeptiese ingesteldheid en deeglike huiswerk om te vermy dat jy in ʼn lokval van winskoop-blindheid gelei word.

Coetzee stel die volgende wenke voor wanneer jy van ʼn handelaar of private verkoper koop:

  • Wanneer ʼn kopie te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik. Dis beter om verby te hou.
  • Verifieer die verkoper se besonderhede waar moontlik en gaan hulle tevredenheidstelling en terugvoer van kliënte wat voorheen met hulle te doene gehad het na om seker te maak dat hulle goeie voor- en naverkope diens lewer.
  • Wanneer ʼn verkoper eis dat hulle ʼn vertrouenswaardige handelaar verteenwoordig, verifieer hulle besonderhede met die handelaar.
  • Doen deeglike navorsing op die spesifieke voertuig of soort voertuig wat jy graag wil koop – of dit ʼn betroubare voertuig is wat goed vaar in resensies, of dit bekostigbaar is om te onderhou en wat ʼn redelike verkoopsprys is vir ʼn spesifieke jaarmodel, kilometerlesing en toestand van voertuig.
  • Bevestig of die voertuig enige soort ongeluksgeskiedenis het, of dit gesteel en teruggevind is. Hoewel sommige ongeluk- en diefstalskade gering is en maklik is om reg te stel, kan meer ernstige strukturele skade heelwat meer ernstige gevolge hê.
  • Neem jou tyd om die voertuig na te gaan en maak seker dat alles werk soos wat dit geadverteer is – sluit die enjin aan, toets alle ligte, instrumente, verbruikersverstelbare kenmerke en veiligheidstoerusting. Maak seker dat jy ʼn deeglike inspeksie van die buitekant van die voertuig, sowel as die enjinkompartement doen – kyk uit vir lekplekke, aanpaksels en ander tekens van slytasie. Probeer om iemand met ʼn goeie meganiese insig by jou te hê om te help met die inspeksie. Gaan ook die voertuig deeglik na vir vlekke, swakplekke of ongelukskade in die paneelwerk en maak veral seker dat panele egalig is en dat die gapings tussen panele eweredig is.
  • Versoek die voertuig se papierwerk van registrasie. Maak seker dat die voertuig se besonderhede presies daarmee ooreenstem en dat die dokument geen spelfoute bevat nie. Verifieer hierdie besonderhede deur ʼn app soos TransUnion se 1Check te gebruik. Moet nooit ʼn voertuig sonder registrasiepapiere koop nie en vermy voertuie wat in ander lande geregistreer is.
  • Gaan die voertuig se diensrekord na. ʼn Voertuig wat goed onderhou is volgens die vervaardiger se standaarde – hetsy deur agente of ʼn ander RMI-goedgekeurde diensverskaffer – is gewoonlik ʼn beter kopie.
  • Neem die voertuig vir ʼn toetsrit. Kies ʼn pad wat die sleutelkomponente – enjin, uitlaatstelsel, ratkas, dryfas, vering, remme, wiele en bande – deeglik toets en let op vir enige vreemde geluide. Toets ook die stuurstelsel.
  • Vra dat ʼn deeglike multipunt-inspeksie van die voertuig uitgevoer word. Meeste goeie handelaars bied hierdie diens gratis aan. Wanneer die inspeksie voltooi is en nodige herstelwerk gedoen is, vra of die verkoper enige waarborge bied. Goeie handelaars behoort voorbereid te wees daarop om sekere foute op die voertuig ʼn goeie paar maande na die verkoop daarvan te dek.
  • Vermy dit om verkopers by plekke wat onveilig voorkom te ontmoet, veral verkopers wat weier om jou in ʼn openbare ruimte te ontmoet.
  • Moenie persoonlike inligting – soos jou woonadres – met ʼn verkoper deel voordat jy hulle besonderhede nie behoorlik nagegaan het nie.
  • Moet nooit jou kredietkaart- of bankbesonderhede aan ʼn verkoper gee, of kontant saam met jou neem die eerste keer wanneer jy hulle ontmoet nie. Nadat jy seker gemaak het dat dit ʼn goeie en wettige kopie is, kan jy die nodige kontant by ʼn nabygeleë kitsbank onttrek of ʼn elektroniese oorplasing doen.
  • Vermy dit om ʼn “hou deposito” – waar verkopers ʼn voertuig vir jou reserveer – te betaal.
  • Vermy verkopers wat daarop aandring om internasionale betalingsdienste te gebruik. Hulle sal jou meestal van vervalste fakture met die logo’s van bekende diensverskaffers, maar hulle eie bankbesonderhede, voorsien.
  • Rapporteer verdagte verkopers onmiddellik aan die owerhede en/of die eienaars van webtuistes waar die voertuig geadverteer word.

“Dit is belangrik om te onthou dat, sou jy ʼn onwettig geregistreerde en/of gesteelde voertuig koop en die voertuig later gekonfiskeer word, jy nie die geld wat jy bestee het op die aankoop daarvan sal kan herwin nie,” sê Coetzee. “Dit is van kritieke belang dat jy altyd paraat sal wees wanneer jy ʼn voertuig aankoop ten einde jouself moontlik tienduisende, of selfs honderde duisende rande, te spaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Wielspore ·

Ten spyte van al die slag gate is dit nog steeds moontlik om ‘n voertuig privaar te koop en te laat finansier. Hierdie manier van koop is baie veilig vir die koper en verkoper.
Ek het toevallig vandag so ‘n transaksie as koper beklink.
Die koper doen aanlyn aansoek by die bekende voertuig finansiering instansie, die transaksie word tentatief goedgekeur. Die verkoper word aan die finansiering maatskappy voorgestel wat al die nodige papierwerk en bewyse verskaf. Die voertuig word getoets vir padwaardigheid en ‘n 80 punt toets word op die voertuig gedoen. Na dit suksesvol afgehandel is betaal die koper die deposito en neem eienaarskap van die voertuig. Die agent neem die nodige dokumente vir registrasie en lisensie.
Dit alles neem so 14 dae en is die moeite werd.

Wielspore ·

Die agent is ‘n verteenwoordiger van die finansierings maatskappy. Ek mag dit ongelukkig nie hier noem, Google gerus private to private vehicle sale, dit is nie Eastbank, eerder W_sbank. Leidraad (e)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.