Gemaklike pendelfiets teen ’n winskoop

Die Suzuki Gixxer 250 SF. (Foto: Brian Cheyne)

Suzuki het twee jaar gelede sy mededinger in die kleinkapasiteitsmark, die GSX 250 R, in Suid-Afrika bekendgestel.

Soos ek destyds berig het, is dié fiets gegrond op die vaal Inazuma 250. Die verrigting het tekort geskiet, maar sy stilering het die koppe laat draai.

Vir 2020 het Suzuki ’n nuwe 250 bekendgestel. Met die eerste oogopslag lyk dit asof hulle net hier en daar aan die bakwerk verander het, maar die nuwe Gixxer 250 SF is ’n totaal nuwe fiets. Waar die vorige model ’n tweesilinder- waterverkoelde enjin gehad het, beskik die nuwe een oor ’n enkelsilinder- olieverkoelde enjin.

Die Suzuki Gixxer 250 SF. (Foto: Brian Cheyne)

Suzuki het ook die vering stywer gemaak en ’n groter skyf op die voorrem gesit. Suzuki het ’n kaalfietsweergawe van die SF in die pyplyn, maar hierdie fiets sal seker eers oor so twee maande plaaslik beskikbaar wees.

Die voorste bakpanele is nou verder oor die voorwiel geskuif en die brandstoftenk het ’n groot boggel in wat amper hoër is as die voorste windskermpie. Hierdie elemente laat die klein Gixxer baie sportief voorkom. Die voorlig is groter en beskik oor LED-lampe. Trouens, al die ligte op die Gixxer is nou LED’s. Die agterkant van die fiets wip hoog op, maar die modderskerm oor die agterwiel bederf die prentjie so ’n bietjie.

Die Suzuki Gixxer 250 SF. (Foto: Brian Cheyne)

Toe ek die Gixxer die eerste keer gesien het, was ek nie heeltemal oortuig van die ontwerp nie, maar noudat ek ’n bietjie tyd met die fiets deurgebring het, moet ek sê dat dit ’n baie mooi fietsie is. Veral in die Suzuki-blou van die toetseenheid.

Die saal is ferm en die ryposisie minder sportief as wat dit met die eerste oogopslag lyk. Die handvatsels of die SF is laag, maar nie só laag dat dit onnodige spanning op jou gewrigte sit nie. Die klein windskermpie is bloot kosmeties en help nie veel om die wind van jou af te hou nie. Die bougehalte is baie goed en alles voel solied. Die instrumentepaneel is steeds ’n vloeikristaleenheid met wit letters op ’n swart agtergrond. Hierdie kombinasie maak die syfers uiters leesbaar, selfs in helder sonlig.

Die Suzuki Gixxer 250 SF. (Foto: Brian Cheyne)

Die aansitter gebruik Suzuki se “easy-start”-stelsel. Dit beteken jy druk net die aansitter een keer en kan dan maar los. Die aansitter sal bly draai tot die enjin loop. Die Gixxer het ’n blikkerige klank en ek was nie baie optimisties oor die fiets se verrigting nie. En toe verras die klein Suzuki my. Die enjin lewer nie veel meer krag as sy voorganger nie, maar die verskil is merkbaar. Die fiets trek gewillig, veral in die middel van die kragkurwe. Met die vorige fiets moes jy mooi die verkeer lees en maar saam met die vloei gaan. Die nuwe een trek heelwat beter en het, wat my betref, genoeg woema om maklik voor die verkeer te kan bly. Sy topspoed is, volgens Suzuki, by die 150 km/h-merk. Dit is 10 km/h vinniger as die vorige model.

Die Suzuki Gixxer 250 SF. (Foto: Brian Cheyne)

Wat vir my die Gixxer soveel pret maak, is hoe hy hanteer in draaie. Die nuwe een het effe breër bande en jy kan hom maar druk in die draaie. Hy is nie vinnig genoeg om jou in die moeilikheid te kry nie, maar bied net genoeg woema om die ervaring baie pret te maak. Op hoë spoed voel jy die vibrasies deur jou hande en voete, maar dit is nie so dat dit ongemaklik raak nie. Ek was aanvanklik jammer vir die klein enjintjie, maar toe onthou ek dit is ’n Suzuki. Hy kan dit vat!

Vir ’n beginner wat ’n aantreklike dog gemaklike pendelfiets soek, kan jy nie anders as om die Gixxer te oorweeg nie. En teen R49 900 is dit ’n winskoop. Jy moet egter gou speel. Hierdie prys is op die dollar gebaseer en teen die tempo waarteen die rand val, sal hierdie prys nie lank so kan bly nie.

Klik hier vir die produkblad.

Spesifikasies:

Enjin249 cc-enkelsilinder
Gewig (Nat)161 kg
Kraglewering26 hp @ 9 000 rpm
Wringkrag22.6 Nm @ 7 500 rpm
Tenkkapasiteit12 ℓ
Saalhoogte800 mm

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Boerkind ·

Bietjie lig in die broek, maar die prys is reg! Ek het ‘n KTM 390 Duke (2018) vir my kleindogter gekoop. Dit was ‘n demo model met lae km en het R53K betaal… Baie oulike fiets met gevorderde elektronika, goeie remme, sterk enjin en heel mooi ook….

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.