Geringe daling in motorverkope

Die nuwe Toyota Fortuner (Foto: Toyota)

Soos aanvanklik gevrees is, was Desember verlede jaar se verkope laer as Desember 2017 se totaal.

Nuwe voertuigverkope het op 39 984 eenhede te staan gekom wat 767 eenhede, oftewel 1,9% minder was as in Desember ʼn jaar gelede.

Die verkope van passasiersmotors was 26 547, terwyl ligte handelsvoertuie na 11 218 nuwe eienaars gegaan het. Dit is ʼn daling van 7%.

Daar is egter goeie nuus wat die uitvoermark betref. Desember 2018 se totaal het dramaties toegeneem tot 31 437 wat 11 330 meer is as 12 maande gelede.

Die gebruiklike toptienlys het ook verskeie skommelinge ondergaan.

Toyota bly die markleier met 9 038 verkope, maar dis amper twee duisend eenhede minder as die voorafgaande maand. Toyota maak steeds staat op sy topverkoper Hilux (2 907), terwyl 1 027 kopers Fortuners aangeskaf het – waarskynlik met die oog op die Desembervakansie.

Die nuwe Volkswagen Tiguan (Foto: Volkswagen)

Ook Volkswagen – steeds tweede met 6 594 verkope – sal nie sy verlies van amper tweeduisend eenhede aan die groot klok wil hang nie. Volkswagen kan darem steeds spog met die twee topverkoper-passasiersmotors, naamlik Polo (2 051) en Polo Vivo op 1 711 verkope. Ander presteerders van die mense van Uitenhage was Tiguan – 485 en beter as Toyota se RAV wat net 410 nuwe eienaars se harte verbly het.

Die opskudding van die maand was egter ten opsigte van derde algeheel waar Nissan se 3 906 verkope goed genoeg was om Ford (3 467) tot die vierde plek af te skuif.

Nissan se staatmakers was Datsun GO (508) en sy sub-eentonner NP200 waarvan 1 572 eenhede verkoop is. Die Qashqai (263) en sy staatmaker X-Trail (216) vaar steeds redelik, terwyl Ford se Ranger met 1 931 verkope die spreekwoordelike wa deur die drif moes help trek.

Die Renault Kwid. Foto: Verskaf

Die ander verrassing onder die top tien was Renault wat met 2 936 verkope vyfde plek behaal het en plekke geruil het met Hyundai (2 839). Renault se sterre was Kwid (1 354), Clio IV (775) en Sandero II op 449 verkope. Hyundai se presteerders was Grand i10 (906) en i20 met 619 verkope. Die oulike nuwe Kona het na 118 nuwe eienaars gegaan, terwyl Tucson maar gesukkel het met ʼn beskeie 294 verkope – wanneer dit met Volkswagen se Tiguan en Toyota se RAV vergelyk word.

Sonder om te berig oor individuele modelle, het BMW (1 583) in die sewende plek ingeskuif – ʼn merkwaardige prestasie na November se tiende plek.

Isuzu (1 369) het een plek afgeskuif tot agtste – danksy D-Max (593) en KB op 420 verkope, terwyl KIA (1 159) ook een plek afgestaan het, maar darem binne die toptienrangorde bly danksy Picanto (508), Rio op 304 verkope, en Sportage op ʼn ewe indrukwekkende 208 verkope.

Die Mazda CX-5 2.2DE AWD Akera (Foto: Mazda)

Die tiende (en laaste) plek word gevul deur Mazda (1 131) danksy veral CX-5 (389) en CX-3 met 293 verkope.

Van die invoerders/monteerders wat buite die top tien val, is dit opmerklik dat Mercedes-Benz (996) die eerste keer in jare nie die lys gehaal het nie, terwyl Bentley (13), Porsche (112) en Suzuki Alto (929) groot indruk gemaak het. Veral Suzuki se nuwe Jimny (113) sou sekerlik baie beter vertoon het as daar beskikbare voorraad was.

Ander vervaardigers wat ook aandag getrek het, sluit in Volvo (258) met XC60 (109) en XC40 (54) as uitblinkers – wat weer eens bewys dat Suid-Afrikaanse kopers groter sportnutse bo kleineres verkies.

Die bedryf gaan egter steeds onder druk bly en 2018 se groottotaal van 365 246 passasiersmotors en 159 452 ligte handelsvoertuie sal vanjaar waarskynlik effe minder wees.

Die nuwe Volkswagen Polo Comfortline (Foto: Volkswagen)

Toptien-passasiersmotors

  1. Volkswagen Polo – 2 051
  2. Volkswagen Polo Vivo – 1 711
  3. Renault Kwid – 1 354
  4. Toyota Fortuner – 1 027
  5. Hyundai Grand i10 – 906
  6. Toyota Corolla/Auris/Quest – 858
  7. Renault Clio IV – 775
  8. Hyundai i20 – 619
  9. Datsun GO – 508
  10. KIA Picanto – 508

DIe nuwe Ford Ranger Raptor (Foto: Verskaf)

Toptien- ligte handelsvoertuie

  1. Toyota Hilux – 2 907
  2. Ford Ranger – 1 931
  3. Nissan NP200 – 1 572
  4. Toyota Quantum – 1 245
  5. Isuzu D-MAX – 593
  6. Nissan NP300 – 439
  7. Isuzu KB – 420
  8. Volkswagen Amarok – 323
  9. Hyundai H100 – 215
  10. Toyota Land Cruiser Pick Up – 201

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.