Gewilde motorskou dié naweek by Kyalami

VW T-Cross (Foto: Rob Till)

Dié naweek is dit hemel op aarde vir petrolkoppe! Verskeie vervaardigers sit hul beste voet voor om hul nuwe voertuie ten toon te stel.

Haval het sy opgeknapte H2 en H6 Lux op uitstalling vir die publiek. Suzuki het sy hele reeks op vertoning en lede van die publiek kan rondtes om Kyalami kry met professionele jaers in die nuwe Swift Sport- en Vitara Turbo-modelle.

Toyota het sy splinternuwe Supra beskikbaar vir vinnige rondtes om die baan. Toyota se luukse handelsmerk Lexus het boonop sy RC F en RC F Track Edition óók daar. BAIC – ʼn nuwe Chinese vervaardiger wat besig is om ʼn aanleg in die Oos-Kaap te bou, het sy D20 en X25 om te wys. Die nuwe aanleg sal in die toekoms BAIC’s hier vervaardig. BAIC het ook ʼn baie oulike klein “jeep” om te wys – die X 40.

Een van die groter uitstallings is dié van FCA (Fiat Chrysler Automobiles).

Jeep wys ook sy spiere met drie nuwe modelle, die jongste Wrangler, Compass en Grand Cherokee Trackhawk. Die Trackhawk is ʼn mal sportnutsvoertuig met 522 kW, kan tot 100 km/h versnel in 3,5 sekondes en sal aanhou hol tot 290 km/h. Verskriklik.

VW GTI TCR. (Foto: Rob Till)

Alfa-Romeo het al sy produkte op vertoning, maar feesgangers kan rondtes om die baan kry in ʼn Giulia Quadrifoglio, Stelvio Quadrifoglio én die Jeep Trackhawk … almal vuurvretende monsters. Volvo het ʼn pragtige staanplek waar hy die opgeknapte XC90 sal wys en feesgangers kan die XC60 en XC90 op die 4×4-baan uittoets.

Volkswagen en Audi se vertoonlokale is van die meer indrukwekkende uitstallings wat vanjaar gesien kan word. Dit sluit Volkswagen se nuwe T-Cross in. Die T-Cross word middel September plaaslik bekendgestel. Die verskriklike Golf GTI en TCR sal ook by die fees beskikbaar wees. Dié motor het ʼn indrukwekkende 213 kW. Die Volkswagen ID.R, wat onlangs die rekord by die Goodwood Festival of Speed gebreek het, is ook te siene.

Die Polo-Vivo Dune wat die naweek vertoon word, is ʼn uniek-Suid-Afrikaanse konsepmotor. Dit is een van die min kere dat Volkswagen Duitsland toelaat dat ʼn fabriek sy eie konsep skep en wys. Die Dune sal nie geproduseer word nie, maar dis indrukwekkend om te sien waarheen die ingenieurs se koppe op pad is. Laaste maar nie die minste nie is die Volkswagen Amarok Canyon. Dit is ʼn beperkte weergawe van die V6 met kosmetiese opknappings.

BAIC 40. (Foto: Brendon Staniforth)

Ek sien veral uit na Audi se vertonings op vanjaar se Festival of Motoring. Mattias Ekström, ʼn wêreldberoemde, gesoute tydrenjaer en DTM en RallyCross-wenner, is hier om te wys wat ʼn Audi R8 onder sy hande kan doen. Mattias het vyf wêreldtitels agter sy naam. Feesgangers kan die nuwe Audi A1, Q3, A7 en e-Tron bekyk, sowel as rondtes óm Kyalami saam met die gevorderde bestuurspanne in verskeie Audi RS modelle geniet.

Die fees is vanjaar beslis elke sent werd. Neem gerus die gesin saam en beleef ʼn wêreldgehalte motorskou dié naweek by Kyalami.

Kaartjies is hier beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Brendon Staniforth ·

Dagsê Koos

Baie dankie vir jou kommentaar. Daar is drie modelle, Giulietta, Giulia en Stelvio.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

B ·

Was laas jaar maar baie ‘meh’ vir die gewone mens, eintlik maar ‘n mors van tyd en baie geld (in gesinsverband), waar dit baie goed was voorheen.
Dus dink ek gaan ek maar eerder kar was en my fiets diens.

JP ·

Die foto van die Haval is confusing? Is dit n Haval trackhawk of n Jeep Trackhawk?

Brendon Staniforth ·

Dagsê JP

Baie dankie vir jou kommentaar. Jammer vir die oorsig. Die beskrywing van die foto is reeds gewysig.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Wielspore ·

Ai, hoekom moet die motorskou so vêr van ons af wees?
Baie mooi berig deur Brendon, die man ken van motors, hy drink seker ‘n glasie petrol voor hy gaan slaap.
Die VW TCross maak my opgewonde en kan nie wag vir 21 September vir die bekendstelling, dan het ek ook verneem van ‘n Polo Vivo Dune wat ook vertoon word, dit is nie ‘n produksie model, wel op die staduim.

Johan ·

So baie gesê oor al die verskillende voertuig vervaardigers maar niks oor Ford nie. Neem aan hulle is nie daar met hulle nuwe Ranger.

Brendon Staniforth ·

Dagsê Johan,

Baie dankie vir jou kommentaar. Ek het nou met Ford Suid-Afrika bevestig. Hulle het inderdaad ‘n groot uitstalling by die 4×4 afdeling met hul nuwe Ranger en Raptor modelle.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

Marcel ·

Ek sal nie weer na dit toe gaan nie, staan heel dag in ‘n ry om “dalk” om die baan te jaag met ‘n kar wat jy nie eers weet wat dit is nie. AS jy dalk voor kom dan moet jy maar net in klim in wat daar is en dan ry. By die bike festival (wat nou gekansaleer is vir watter rede okal) boek jy ‘n tyd en ‘n fiets en jy kom aan op daai tyd, ry om die baan, en stap verder. Met die kas festival kies jy basies of jy deur die karre wil gaan loop en of jy heel dag in ‘n ry wil staan en dan om die baan ry want jy kan nie altwee doen nie, tensy jy natuurlik bereid is om R1000+ te betaal vir die VIP kaartjie wat die baan ry waarborg. Nee wat, die bike festival is 100 keer beter as die 1….

koos ·

En jy kan basies in een of twee strate in Pretoria stap en diesefde sien en beleef (behawe vir die baan ry), en dit sonder om vertrap te word of om te betaal (behalwe as jy ‘n kar koop). Ek dink dis meer ‘n leefstyl skou as motor skou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.