Gewildste motors op die pad

verkeerDaar is toenemend tekens dat die Suid-Afrikaanse ekonomie gebuk gaan onder swak sentrale regeringsadministrasie en ‘n gepaardgaande gebrek aan vertroue – met die gevolg dat motorvoertuigverkope in Augustus vanjaar met 3.7% gedaal het teenoor Augustus verlede jaar. Die totaal van 38 893 is 1 487 eenhede minder, maar ligte handelsvoertuie (14 376 eenhede) was darem 5.3% beter as die verkopesyfer van 13 650 in Augustus verlede jaar.

Hierbenewens staak werkers in die motorvervaardigingsbedryf reeds die afgelope drie weke, en sal die syfers vir September vanjaar gewis nog slegter lyk as wat tans die geval is.

Wat die individuele vervaardigers/invoerders betref, beklee Toyota steeds die eerste plek onder die top tien, met motorverkope van 5 114 teenoor Volkswagen se 8 250 motors. Dis egter by die afdeling vir ligte handelsvoertuie, oftewel bakkies, dat Toyota sy neus eerste oor die wenstreep druk met verkope van 4 873 eenhede teenoor Volkswagen se beskeie 569.

Toyota het ook met die topverkoper-louere weggestap danksy Hilux se skitterende 3 339. Dis 1 000 eenhede meer as Julie se topverkoper, die VW Polo Vivo, wat hierdie keer net 2 324 eenhede van die hand kon sit.

Ander presteerders vir Toyota was die Etios (1 852), Fortuner (945) en verbasend ook die Land Cruiser PU met 411 eenhede. Toyota se Lexus-afdeling het darem net duskant die 100 eenhede gedraai.

Volkswagen kan heel tevrede voel as die topverkoper wanneer dit by motors kom en steun swaar op Golf 7 (587), Polo (2 625) en die Audi A4 (628).

Oudergewoonte in die derde plek is Associated Motor Holdings – oftewel Hyundai, Kia, Mitsubishi, ens. wat 6 934 eenhede verkoop het. AMH lek nou al lippe af vir September se syfers, want dis dan wanneer hierdie invoerder gaan voortstu sonder dat die stakings hom kan stuit. Daar word trouens verwag dat talle voornemende kopers nie lus gaan wees om te wag vir voorraad om weer beskikbaar te raak na die staking nie, maar eerder na die Koreane as ‘n opsie gaan kyk.

Ford beklee steeds oudergewoonte die vierde plek met totale verkope van 5 893 danksy Ranger (1 695), Figo (1 200), EcoSport (522), Fiesta (824) en Kuga (445). Laasgenoemde presteer steeds beter as die Toyota RAV waarvan slegs 251 eenhede verkoop is. Daar word egter vermoed dat Toyota sukkel om genoeg voorraad in die hande te kry.

In die vyfde plek is nog ‘n “Amerikaner” – General Motors – wat 5 700 motors en bakkies verkoop het. GM leun swaar op die Spark (1 086), Cruze (401) en die Chev Utility (1 485), asook die Isuzu KB (1 439) om onder die boonste vyf te bly.

Hierna is dit Nissan se beurt om die kalklig te steel met 4 248 eenhede verkoop. Vir Nissan doen die Almera (439) steeds goed, terwyl die Juke (323), die NP200 (1 089) en die NP300 Hardbody (883) ook netjies handjie bysit.

Steeds stoei die twee Duitse ‘aartsvyande’ om markaandeel, en is BMW steeds, soos in Julie, ‘n kortkop voor met verkope van 2 372. Dis maar ‘n katspoegie voor Mercedes=Benz se 2 123, maar BMW se topverkoper, die 3-reeks (1 035 teen Julie se 1 137), moes hierdie keer die aftog blaas teen Mercedes se C-klas. Laasgenoemde het 1 119 verkope gehad, ‘n geringe verbetering teenoor Julie toe 1 017 eenhede van die hand gesit is.

Dit is slegs in die laaste twee plekke van die top tien dat rolle omgeruil is. Julie se Nommer Tien (Renault) het intussen met verkope van 1 288 plekke geruil met Honda 1 025. Dit is veral die Sandero (487) en die Clio IV (615) wat Renault bevoordeel het.

Honda, daarenteen, gebruik steeds sy staatmakers (CR-V, 209), en Jazz (184) asook Brio (329) om goeie syfers te behaal.

Onder die ander groot ‘name’ in die motorbedryf het Jaguar/Land Rover maar gesukkel. Julie se 704 eenhede het gekrimp tot 568 – veral danksy Discovery 4 (196) – en die F-type nuweling wat, danksy massiewe reklame, darem 45 eenhede van hande sien verwissel het. Ironies genoeg, bly die primitiewe Defender steeds op enkele mense se inkopielys met 23 eenhede.

Oudergewoonte bly Porsche steeds aan die luukse voorpunt met verkope van 184 voertuie. Topverkopers was die Cayenne (109) en die Cayman/Boxster (38). Dit bly egter steeds ‘n raaisel hoe die Mercedes-Benz M-klas (159) beter as die Cayenne kan verkoop. Nie net is die Cayenne in feitlik elke opsig beter as die M-klas nie, maar dikwels is vergelykbare modelle boonop nog goedkoper.

Ander invoerders wat die oog gevang het, dikwels om die verkeerde redes, is Subaru (84 eenhede). Weer eens word vermoed dat voorraadtekorte hier ‘n rol moes gespeel het, want hierdie skitterende voertuie verdien beter syfers.

Dit lyk ook asof die Fiat-groep begin kop optel met verkope van 546 eenhede – veral danksy Fiat 500 (145) en Punto (345). Van al die Alfa-modelle regdeur ons land, is net ‘n skamele 13 motors verkoop.

Dis nie altyd maklik om laaste in die alfabet te wees nie, maar Volvo het darem 206 voertuie verkoop. Hier was die gunstelinge S60 (61), V40 (57) en XC60 (54). Die opgekikkerde nuwe geslag 60s sal waarskynlik ook hierdie handelsmerk tot voordeel wees in die maand wat voorlê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

natie ·

ek wou graag die nuwe RAV 4 vir my vrou koop maar daar is nie voorraad nie en volgens my inligting is daar n 2-3 maande waglys.Sal maar wag vir myne

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.