Gits – jou GTS…

Foto: Verskaf

Porsche-voertuie het verskeie verrigtingvlakke, soos vele ander ʼn intreemodel, ʼn luukse model, ʼn sportmodel en so meer. Dit is gewoonlik die basiese model, gevolg deur die S, met ʼn bietjie meer krag, gevolg deur die GTS, met méér krag en ʼn sportiewer voorkoms – en dán die Turbo.

Ek het ʼn redelike tyd met die Cayenne, Cayenne S en Turbo deurgebring in albei bakstyle – gewone sportnuts en koepee. Ek hou van ʼn doodgewone sportnuts, maar nietemin, die kliënte wat met hul beursies praat hou baie van die nuwe koepee-styl.

Die Porsche Cayenne is ietwat van ʼn verrassing die eerste keer as jy agter die stuur inskuif. Dit is ʼn volvet, ware Porsche. Dis ʼn sportmotor wat toevallig hoog sit met allewielaandrywing, maar hy kan soos enige ander Porsche sy sokkies oprol en die horison probeer inhaal met ʼn onlesbare dors.

Foto: Verskaf

Dan kom die nuwe GTS. Die Cayenne Turbo kan vir baie mense té veel wees. Waar ek nog altyd gesê het dat die S die slim keuse in die reeks is, gaan ek nou van plan verander. Die GTS is vir my die lekkerste balans tussen gemak, veelsydigheid, verrigting en ʼn sportiewe voorkoms.

Die nuwe Cayenne GTS kry 10 mm laer vering, spesiale allooiwiele en ʼn versiering van swart aksente om die voertuig. Daar is ʼn paar GTS-balkies hier en daar om hom tussen sy boeties en sussies te onderskei.

Aan die binneruim is die GTS steeds pure Cayenne. Eerstens ʼn Porsche, tweedens soos ʼn pantsertenk gebou en derdens lieflik luuks.

Foto: Verskaf

Porsche is baie goed daarmee om hul voertuie eenders laat voel – en die Cayenne hou by daardie filosofie. Ek ken nou al ʼn Porsche-binneruim en geniet die ergonomie en inligtingstelsels en skerms. CarPlay werk nou sonder ʼn draad en daar is ʼn draadlose selfoonlaaier in die middelkonsole. Nou het mens nie meer ʼn vervlakste kabel nodig nie, dankie tog. Binne in daai inligtingstelsel is een van my gunsteling-“knoppies”… die harde-uitlaatpyp-knoppie. Sodra ʼn mens daai knoppie druk brul die GTS beslis soos ʼn V8 Porsche moet.

Op die pad is waar enige Porsche uitblink. Die Cayenne GTS het die verrigting om jou te verstom, maar is soepel geveer en stamp nie onnodig op ʼn ondeunde pad nie. In sport- en sport plus- rymodus word die rit heelwat stywer, maar daar is weer ʼn knoppie om die skokbrekers sagter te maak. Die Cayenne se padhouvermoë is fantasties, veral as mens in ag neem dat dit ʼn groot sportnutsvoertuig is.

Foto: Verskaf

Aan die veiligheidskant loop die Porsche ook goed voor. Daar is min karre waarmee ʼn mens sóveel van die remme kan vra, en hy kla nooit nie. Op die R45 kan ons ook bly wees dat die Cayenne toegerus is met botsingwaarskuwing. Ek ry en kyk na die pragtige Wes-Kaap se natuurskoon terwyl die Polo voor ons lankal stilgehou het om by die tuisnywerheid in te draai. Nie net het die Porsche ʼn helse bohaai opgeskop nie, maar hy’t ook die noodremme reeds reg gehad, so toe ek die rempedaal raak, is al die remkrag dadelik daar – ABS en al. Sjoe. Dankie tog.

Die Cayenne GTS is maklik om op te som. Ek en my reismaat het meer as 400 km met die koepee afgelê. Die GTS verorber die myle. Die 4,0 dubbelturbo V8 bied ʼn puik 338 kW en 620 Nm. 0 – 100 km/h neem ʼn blitsige 4,5 sekondes en die GTS sal aanhou draf tot ʼn indrukwekkende 270 km/h. Dis ʼn fantastiese ryding vir diegene wat dit kan bekostig. Gaan toetsbestuur beslis een – jy sal nie spyt wees nie.

Die reeks lyk só:

Porsche Cayenne250 kW/ 450 Nm9.2 ℓ/ 100 kmR1 419 000
Porsche Cayenne Coupé250 kW/ 450 Nm9.4 ℓ/ 100 kmR1 529 000
Porsche Cayenne S324 kW/ 550 Nm9.4 ℓ/ 100 kmR1 599 000
Porsche Cayenne S Coupé324 kW/ 550 Nm9.4 ℓ/ 100 kmR1 689 000
Porsche Cayenne GTS338 kW/ 620 Nm11.4 ℓ/ 100 kmR1 749 000
Porsche Cayenne GTS Coupé338 kW/ 620 Nm11.4 ℓ/ 100 kmR1 839 000
Porsche Cayenne E-Hybrid340 kW/ 700 Nm3.4 ℓ/ 100 kmR2 019 000
Porsche Cayenne Turbo404 kW/ 770 Nm11.9 ℓ/ 100 kmR2 469 000
Porsche Cayenne Turbo Coupé404 kW/ 770 Nm11.4 ℓ/ 100 kmR2 559 000
Porsche Cayenne Turbo S e-hybrid500 kW/ 900 Nm3.9 ℓ/ 100 kmR3 099 000
Porsche Cayenne Turbo S e-hybrid Coupé500 kW/ 900 Nm3.9 ℓ/ 100 kmR3 189 000

Die reeks word gedek deur ʼn 2 jaar/ onbeperkte km waarborg 3 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan.

Die kompetisie lyk só:

Jaguar F-Pace SVR405 kW/ 680 Nm11.9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en omvattende instandhoudingsplanR1 721 026
BMW X6 M50i390 kW/ 750 Nm11.5 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 853 784
Mercedes-AMG GLE53 4Matic Coupé320 kW/ 520 Nm9.3 ℓ/ 100 km2 jaar/ onbeperkte km waarborg

5 jaar/ 100 000 km omvattende instandhoudingsplan

R1 939 040

Die Porsche se bougehalte is onweerlegbaar, en as verrigting jou kielie – gaan kyk gerus, dis ʼn fantastiese sportmotor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.