Goedkoopste B-segment sportnuts met ʼn outo-ratkas

Foto: Verskaf

Die wêreld is behep met sportnutsvoertuie (SNV). Ek stry gereeld dat indien jou SNV nie vierwielaandrywing het nie, dit geensins meer prakties as ʼn doodgewone luikrug óf ʼn sedan is nie. Nietemin… dié bakstyl is uiters gewild, en die EcoSport is een van die voorlopers.

Die EcoSport bied ʼn oulike pakket met sitplek vir vyf en ʼn billike kattebak. Sy regop ontwerp laat hom hoër en meer taai voel as wat hy werklik is – maar dit is presies waarna kopers soek. Hulle wil hoër sit in die verkeer – dis al. Nou het Ford slim geraak. Hulle het hul aangename wringkragomsitter-outokas by die reeks gevoeg, perfek vir daai einste verkeer.

Foto: Verskaf

Die Ford EcoSport 1.5 Ambiente outo word deur Ford se lekker atmosferiese 1,5 driesilinderpetrolenjin aangedryf. Die enjin bied ʼn gesonde 91 kW en 150 Nm. Dit, gepaard met die sesspoed outo, maak van die EcoSport ʼn rustige ou buksie. Ford beweer ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6,9 ℓ/ 100 km, en met ʼn 52 ℓ tenk sal dit ʼn moontlike reikafstand van 750 km bied.

Op die pad is waar die EcoSport se sterkste, en swakste punt uitkom. Die vering is lieflik soepel en sag. Dit is nie ʼn sportmotor en hoef nie ongemaklik geveer te wees nie. Die sesspoed ratkas hou die omwentelinge lekker laag op die snelweg… en daar kom die uitdaging – maar moenie jou bekommer nie, daar is ʼn oplossing.

Foto: Verskaf

Die 1,5 driesilinderenjin het nie ʼn turboaanjaer nie… dus het hy nie hope wringkrag nie. Dít – met ʼn outomatiese ratkas met lang ratverhoudings kan veroorsaak dat die ratkas rondspring en ratte soek. Gelukkig het die EcoSport op die rathefboom ʼn bultknoppie. As jy ʼn bult sien – druk hom net en die ratkas spring terug vyfde rat toe. Die omwentelinge klim so amper ʼn duisend rpm, en die EcoSport klim rustig die bult teen 120 km/h, sonder enige probleme. As jy bó kom – druk weer die knoppie, en die omwentelinge kom af na so 2 500 r/min toe, waar die EcoSport sy beste verbruik kan bied.

Dié knoppie en gewoonte wat mens moet aanleer is ʼn klein prys om te betaal aangesien die EcoSport die goedkoopste B-segment sportnutsvoertuig met ʼn outomatiese ratkas is… en dis nie ʼn vervlakste CVT-palwisseltransmissie nie – ʼn wen-wen in my boek.

Die reeks lyk só:

Ford EcoSport 1.5 Ambiente handrat91 kW/ 150 Nm6,4 ℓ/ 100 kmR297 400
Ford EcoSport 1.5 TDCi Ambiente74 kW/ 205 Nm4,6 ℓ/ 100 kmR308 200
Ford EcoSport 1.5 Ambiente outo91 kW/ 150 Nm6,9 ℓ/ 100 kmR316 300
Ford EcoSport 1.0T Trend92 kW/ 170 Nm5,4 ℓ/ 100 kmR339 300
Ford EcoSport 1.0T Trend outo92 kW/ 170 Nm6,3 ℓ/ 100 kmR354 800
Ford EcoSport 1.0T Titanium92 kW/ 170 Nm5.4 ℓ/ 100 kmR379 400
Ford EcoSport 1.0T Titanium outo92 kW/ 170 Nm6,3 ℓ/ 100 kmR393 600

Die reeks word gedek deur ʼn 4 jaar/ 120 000 km waarborg en ʼn 4 jaar 60 000 km diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Volkswagen T-Cross 1.0TSI Comfortline70 kW/ 175 Nm4,8 ℓ/ 100 km3 jaar/ 120 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R345 700
Renault Duster 1.5dCi TechRoad outo80 kW/ 250 Nm4,8 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km waarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R361 900
Citroën C3 Aircross 1.2T Feel81 kW/ 205 Nm6,5 ℓ/ 100 km5 jaar/ 100 000 km waarborg en diensplanR366 900
Hyundai Venue 1.0T Fluid outo88 kW/ 172 Nm6,9 ℓ/ 100 km5 jaar/ 150 000 km voertuigwaarborg

7 jaar/ 200 000 km dryfstelselwaarborg

3 jaar/ 45 000 km diensplan

R367 900

Tussen dié mededingers is die Ford ʼn ware winskoop. Ek sal ook baie hard na die Duster kan kyk. Sy verrigting is baie sterker as die ander, hy is bitter lig op brandstof en heelwat groter as die res.

Foto: Verskaf

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

koos10 ·

Hi Brendon.

Daai knoppie word ‘n “Over Drive” genoem, en is so oud soos die berge. In baie ouer karre was daai knoppie op die vloer gewees en jy moes hom trap.
Ek vat ook enige dag die gewone outomaties as die AMT of CVT, maar brandstof verbruik is swaarder met die gewone outo kas.
Wat ek nie verstaan nie is dat vervaardigers karre met ‘n “over drive” bemark as ‘n 4 spoed, waar die “over Drive” eintlik die 5de rat is?
Ek self het ‘n Ertiga Auto, en ja die nie ‘n B segment nie, maar besils ook ‘n kyktjie werd as jy na ‘n bekostigbare “normale” outo kas soek.

andre ·

Ek dink die Suzuki Vitara GL+ Auto teen R360 k is n goeie mededinger,en ook met n sesspoed gewone outa ratkas toegerus !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.