Hyundai het ʼn tydjie terug sy nuwe Atos bekendgestel. Die Atos word in die groep se Indiese fabriek vervaardig, en die eindproduk is oulik. ʼn Bekostigbare buksie wat op die goeie naam van sy voorganger kan bou. In Suid-Afrika het Hyundai oor die jare derduisende Atos-modelle verkoop, en dít het in ʼn mate Hyundai gevestig as ʼn betroubare handelsmerk in Suid-Afrika.
Die nuwe Atos is beslis mooier as sy voorganger. ʼn Oulike ontwerp met aantreklike kleure om van te kies en te keur. Die binneruim is breër as voorheen en die skouerlyn baie laag, so mens het ʼn fantastiese aansig van wat buite aangaan.
Die Atos het kragstuur, lugreëling, elektriese vensters, outomatiese slotte en ʼn raakskerm-inligtingstelsel met CarPlay en Android Auto. Ek mis wel ʼn agterste ruitveër en verhitte glas. Aan die veiligheidskant is die Atos met twee lugsakke asook ABS en EBD toegerus.
Die Atos word aangedryf deur Hyundai se atmosferiese 1.1-viersilinderpetrolenjin. Die enjin bied 50 kW en 99 Nm. Waar die meeste mededingers driesilinderenjins het, is die viersilinder in die Atos merkbaar glad en egalig.
Van 0–100 km/h neem 14,4 sekondes en die Atos sal aanhou draf tot ʼn sterk 155 km/h. Krag en 0–100 syfers is nie die Atos se troefkaart nie – maar eerder sy brandstofverbruiksyfers. Hyundai beweer ʼn gemiddeld van 5.7 ℓ/100 km. Ek het beter as dit gehandhaaf tydens ons toets as mens rustig ry. As jy die Atos ry asof jy hom gesteel het, klim dit tot so 7 ℓ/100 km.
Ritgehalte is nog een van die Atos se sterkpunte wat my betref. Hy ry lekker sag sonder enige wilde bakrol. Hy voel ook lekker standvastig op die pad – nie soos sy voorganger wat verskriklik nou gevoel het nie. Padhouvermoë is in die kol vir dié klas voertuig.
Die Atos is ʼn motor van die jaar-finalis. Dis ʼn oulike tjor en sy ratwisselingaksie is een van die bestes in die segment. Dis ʼn getroue handelsmerk en ʼn naam wat almal vertrou. Daar is net die een model in die reeks:
Hyundai Atos 1.1 Motion | 50 kW/99 Nm | 5.7 ℓ/100 km | R159 900 |
Die Atos word gedek deur ʼn 5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg en 7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg en ʼn 1 jaar/15 000 km-diensplan.
Die kompetisie lyk só:
Suzuki S-Presso 1.0 GL | 50 kW/ 90 Nm | 4.9 ℓ/ 100 km | 2 lugsakke ABS EBD | 5 jaar/200 000 km- waarborg 2 jaar/30 000 km- diensplan | R134 900 |
Mahindra KUV100 Nxt 1.2 G80 K2+ | 61 kW/ 115 Nm | 5.9 ℓ/ 100 km | 2 lugsakke ABS EBD | 3 jaar/100 000 km- voertuigwaarborg 5 jaar/150 000 km- dryfstelselwaarborg Diensplan opsioneel | R142 999 |
Renault Kwid 1.0 Expression | 50 kW/ 91 Nm | 4.7 ℓ/ 100 km | 2 lugsakke ABS EBD | 5 jaar/150 000 km- waarborg Diensplan opsioneel | R144 900 |
Datsun Go 1.2 Mid | 50 kW/ 104 Nm | 5.5 ℓ/ 100 km | 2 lugsakke ABS | 6 jaar/150 000 km-waarborg Diensplan opsioneel | R162 300 |
Kia Picanto 1.0 Start | 49 kW/ 95 Nm | 5.0 ℓ/ 100 km | 2 lugsakke ABS EBD | 5 jaar/onbeperkte km-waarborg 2 jaar/30 000 km- diensplan | R168 995 |
Tussen dié mededingers is die Suzuki S-Presso ongeëwenaar teen sy prys en sal my keuse wees.