Goeie nuus vir Triumph-eienaars en -aanhangers

Die Tiger 1200 (Foto: Triumph)

Aan die einde van laas jaar het Triumph skielik besluit om sy vennootskap met die plaaslike verspreider op te skort. Ná ʼn paar angstige maande is die nuwe verspreider aangewys. ʼn Vennootskap is gesmee tussen die Fury Motor Group en Bruce Allen en sal bekend staan as Triumph South Africa (Pty) Ltd.

Allen is ʼn ou hand in die motorbedryf. Hy beklee sy nuwe pos as hoof- uitvoerende beampte van die nuwe maatskappy met ingang Maart. Triumph sal steeds sy hele reeks motorfietse in Suid-Afrika  verkoop, en volgens die persverklaring sal die Street Triple en Speed Triple uiteindelik plaaslik vrygestel word. Die Tiger-reeks is onlangs in Europa opgekikker, maar ons sal tot omtrent Mei 2018 moet wag vir al die regulasies en homologasieprosesse om gevolg te word voor ons die fietse in vertoonlokale sal sien.

Die Tiger 1200 (Foto: Triumph)

Triumph South Africa (Pty) Ltd sal dus nou oorneem by die vorige verspreider, Kawasaki Motorcycles South Africa, wat Triumph vir 23 jaar verteenwoordig het.

Soos met enige nuwe maatskappy het Triumph hoë verwagtinge vir die Suid-Afrikaanse mark. Paul Stroud wat die kommersiële kant van Triumph behartig, het gesê dat Triumph een van die handelsmerke is wat die vinnigste gegroei het oor die afgelope paar jaar. Triumph is in 1902 gestig en daar is tans meer as 750 handelaars wêreldwyd. Sowat 60 000 motorfietse rol jaarliks uit hul fabriek in Engeland.

Triumph streef daarna om unieke motorfietse te bou, en die Bonneville-platform uit die 60’s was die uitgangspunt vir ʼn wye reeks motorfietse. Triumph het selfs die uitpattige 2300c Rocket III in sy arsenaal. Oor die hele wêreld het Triumph in die harte van baie mense ingekruip. Plaaslik geniet Triumph ʼn 6%-markaandeel in motorfietse oor 500cc.

Die Speedmaster (Foto: Triumph)

My eie gevoel van die Triumphs wat ek al gery het, was dat dit ʼn tophandelsmerk is. Triumph gaan sy vlagskipfasiliteit in Woodmead oprig wat aanvanklik sal sorg vir die Gauteng-klante. Die fasiliteit sal bekend staan as “Triumph World Black”. Bouwerk sal in Mei begin, en die fasiliteit behoort te open teen Desember. ʼn Soorgelyke fasiliteit sal teen 2019 in Kaapstad opgerig word, en teen 2020 in Pretoria. Intussen sal Triumph diens lewer vanuit Sandton. Al die historiese Triumph-handelaars sal voortgaan as Triumph-dienssentrums. Die belangrike ding is dat alle waarborge deur die nuwe handelaar oorgeneem sal word en sodoende kan Triumph-eienaars gerus wees dat daar goed na hul fietse omgesien sal word.

Ek is ook baie verlig dat Triumph wel aanbly in Suid-Afrika. Bruce Allen sê: “Ek is oortuig dat dit die begin van ʼn oorweldigend positiewe era vir Triumph in Suid-Afrika sal wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.