Google-kar in botsing betrokke

Argieffoto van een van Google se selfaangedrewe Lexus-sportnutsvoertuie Foto: AP Photo/Tony Avelar

Argieffoto van een van Google se selfaangedrewe Lexus-sportnutsvoertuie Foto: AP Photo/Tony Avelar

Een van Google se selfaangedrewe prototipes was vir die eerste keer in ʼn botsing betrokke waar iemand seergekry het.

ʼn Lexus-sportnutsvoertuig wat deur die tegnologiereus met sensors en kameras toegerus is, is van agter gestamp. Die ongeluk het op 1 Julie in Mountain View in Kalifornië plaasgevind waar Google gebaseer is en meer as 20 van dié prototipes deur die verkeer beweeg.

Die drie Google-werknemers wat in die motor gery het, het gekla van sweepslagbeserings. Hulle is reeds terug by die werk. Die bestuurder van die ander motor het ook van nek- en rugpyn gekla.

Volgens wetgewing in Kalifornië moet ʼn persoon agter die stuurwiel van ʼn selfaangedrewe motor sit wanneer dit op openbare paaie getoets word, sodat die persoon beheer kan neem in ʼn noodgeval. Google stuur ook ʼn tweede werknemer saam wat op die passasiersitplek sit om aantekeninge op ʼn skootrekenaar te maak. In hierdie geval was daar ook ʼn derde personeellid op die agterste sitplek.

Google het ʼn groot belegging gemaak in selfaangedrewe motors, aangesien die maatskappy oortuig is dat dié tegnologie veiliger en meer doeltreffend sal wees as mense.

Dit is die 14de ongeluk in ses jaar en 1.9 miljoen myl van toetse wat afgelê is. Google het gesê nie een van sy motors het die ongelukke veroorsaak nie. In 2011 het ʼn personeellid egter self met een van die motors in iemand anders vasgery. Die motor was nie in daardie stadium selfaangedrewe nie. In 11 van die 14 ongelukke het iemand anders die Google-motor van agter gestamp.

Chris Urmson, hoof van Google se program vir selfaangedrewe motors, het Donderdag in ʼn blog geskryf die sportnutsvoertuie word “verbasend gereeld” gestamp deur motoriste wie se aandag afgetrek is, moontlik omdat hulle op hul selfone kyk. “Die tema is duidelik menslike foute en persone wat nie aandag gegee het nie,” het Urmson geskryf. “Ons aanvaar dit as ʼn teken dat ons besig is om gunstig te vergelyk met menslike bestuurders.”

Urmson het in ʼn telefoniese onderhoud gesê sy span ondersoek die moontlikheid dat die Google-motors ander motoriste se aandag kan trek voor ʼn ongeluk plaasvind. Om te toet is een moontlikheid, maar Urmson het gesê hy is besorg dat dit inwoners van Mountain View gaan irriteer.

Volgens die verslag wat Google by die Kalifornië departement van motorvoertuie ingedien het, het Google se motor teen sowat 15 myl per uur (ongeveer 25 km/h) agter twee ander motors gery toe die drie voertuie ʼn groen verkeerslig genader het. Die eerste motor moes stilhou, aangesien die verkeer aan die oorkant van die pad opgehoop het en hy nie die kruising wou versper nie. Die tweede motor en die Google-motor het ook stilgehou. Binne ʼn sekonde het ʼn vierde motor teen ongeveer 17 myl per uur van agter in die Google-motor vasgery. Sensors in die motor dui daarop dat die motoris nie rem getrap het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Julius ·

My aftreeplanne behels oa. om deur die Google selfdryf kar omgery te word.

Jaco ·

Lyk my die Google-motors ry te stadig as almal hulle van agter stamp.

Jaco ·

Lyk my die Google-motors ry te stadig as almal hulle van agter stamp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.