Groot verwagtinge vir Triumph se Tiger 900

Triumph se Tiger 900. Foto: Verskaf

Die avontuurmark vir middelslagfietse het hierdie jaar skielik baie besig geraak. Almal bring nuwe fietse uit en die kompetisie is stewig. Nou het Triumph ook hulle 2020‑mededinger bekend gestel: die nuwe Tiger 900.

Toe ek die Triumph Tiger 800 onder hande gehad het, het ek gesê dat dit dalk die enigste avontuurfiets is wat jy ooit sal nodig hê. Dit is ’n uiters bekwame dubbeldoelfiets. Triumph het egter gevoel dat hulle verder daarop kan verbeter met die bekendstelling van die Tiger 900. In Europa sal daar vier variante beskikbaar wees, maar vir die klein Suid-Afrikaanse mark gaan Triumph net die vlagskip Tiger 900 Rally Pro invoer.

Die Tiger 900 is ’n heel nuwe fiets met ’n verbeterde drie-silinder 900 cc‑enjin. Die wringkrag is met 10% op na 87 Nm teen 7 250 r.p.m. Die kraglewering is nou meer liniêr van aard en die maksimum kraglewering is nou teen laer toere. Dit beteken dat die Tiger 900 baie beter versnel as sy voorganger. Hulle het selfs so ver gegaan om die ontbrandingsvolgorde van die silinders te verander om die enjin ’n beter karakter en klank te gee.

Triumph se Tiger 900. Foto: Verskaf

Triumph het hul verkoeler in twee gedeel wat hulle in staat gestel het om die enjin verder vorentoe en laer in die raam te monteer. Alles word gedoen om die ry‑ervaring beter te maak sonder om grondvryhoogte in te boet.

Waaroor ek baie bly is, is dat die fiets ligter is as die 800 wat hy vervang. Die 800 was nie ’n swaar fiets nie, so om ’n groter enjin in ’n ligter fiets te kry is prysenswaardig. Die raam is nou modulêr wat beteken dat sekere dele van die raam van ligter aluminium gemaak kan word, terwyl dele wat onder spanning is of gewig dra, steeds van sterker materiaal vervaardig word. Die gewigbesparing is tot 5 kg, afhangend van die model.

Eerder as om self die vering te probeer uitwerk, het die Rally Pro ten volle verstelbare Showa‑vering voor en agter. Reikhoogtes is 240 mm voor en 230 mm agter. Die voorband- en agterbandkombinasie is 21”/17”. Hierdie syfers dui daarop dat Triumph baie ernstig is oor dié fiets se vermoë op die stofpad.

Triumph se Tiger 900. Foto: Verskaf

Die saal is nouer en kan verder met tot 20 mm verlaag word. Die nouer saal maak dit makliker vir korter ryers om gemaklik te raak op die Tiger. Die handvatsels is nader aan die ryer en die windskerm is herontwerp vir beter windbeskerming.

Die nuwe 7” TFT‑skerm word nou met die glas gebind, wat duideliker beeld tot gevolg het, sonder weerkaatsings. Dit koppel ook met jou slimfoon en bied selfs kontroles vir GoPro‑kameras! Dit is nou ’n handige toevoeging.

Die Tiger 900 is toegerus met die heel nuutste elektroniese hulpmiddels. Die lys is baie lank, maar een item wat my oog gevang het, was ’n fasiliteit wat keer dat die fiets stol op laer toere. Dit kan baie handig raak in tegniese situasies.

Om op die huidige 800 te verbeter moet die 900 ’n baie spesiale fiets wees. Ons sal maar wag en kyk wanneer hulle hier in Suid-Afrika aankom sodat ons hulle in ons omstandighede kan toets. Ek glo die Triumph 900 sal ’n reusesprong vorentoe wees. Dit is nou maar net hoe Triumph te werk gaan!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

anton ·

Hoekom kry ek die gevoel dat Triumph half deur BMW gebou word want baie eienskappe stem ooreen.
Of dalk het BMW baie invloed daar.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.