As jy kyk na gesoute wêreldreisigers op motorfietse, sal jy hulle selde op luukse avontuurfietse sien. Ek praat nou nie van rolprentsterre met satellietfone en bystandsvoertuie nie. Nee, eerder die mense wat maande lank toer en stories bymekaarmaak. Hulle is gewoonlik op kleinerkapasiteit-fietse wat lig is en maklik om te onderhou. As ek van die bopunt van die Sanipas moet afry, sal ek self ook iets ligs verkies. Iets soos die Husqvarna 701 Enduro.
Husqvarna is deel van die KTM-groep en oral waar ek ’n foto van die 701 geplaas het, was die reaksie maar dieselfde. Almal wou weet of die Husqvarna nie maar net ’n wit KTM 690 R is nie. In wese is die twee modelle wel dieselfde, maar daar is tog hier en daar ’n klein verskil.
Verlede jaar was ek saam met KTM na Lesotho met die hele KTM-reeks, en die 690 R was onder meer ook daar. Niemand wou met die 690 op pad Lesotho toe ry nie, maar toe die paaie verdwyn, het die kleine 690 geskitter. Nodeloos om te sê, toe ons Sanipas moes af, moes ons omtrent arm druk om te sien wie ry met die 690 daar af.
Die 701 beskik oor die bewese 693 cc-KTM-kragbron. Husqvarna het darem ’n mate van vryheid gehad met die elektronika van die enjin en die kraglewering op die 701 is effe anders as op die KTM. Die fiets is verspot lig, so die insette uit die elektroniese versneller het nie net ’n onmiddellike uitwerking op die fiets nie, maar ook op jou gesig. Die 701 is een van daardie fietse wat selfs die mees besadigde ryer sal laat glimlag. Selfs sy vermoë op die pad is prysenswaardig.
Dit is egter duidelik uit die 21”-voorwiel en 18”-agterwiel dat die 701 meer die boendoes in gedagte het. Voor het hy WP XPLOR-skokbrekers van 48 mm en agter ’n enkele WP XPLOR-skokbreker, elk met 250 mm-reikafstand. Tel jy nog die 270 mm-grondvryhoogte by, eindig jy met ’n baie hoë fiets. Die 701 is beslis nie vir korter ryers nie. Die saal is ’n eenstuk en strek verby waar jy die brandstoftenk op ’n motorfiets sou verwag. Die brandstoftenk sit onder die saal en hou maar net 13 ℓ. Dit kan lastig raak as jy aspris wil verdwaal. Husqvarna het darem ’n 701 LR-model beskikbaar met ’n 23 ℓ-tenk vir mense wat graag oor Afrika wil ry.
Die instrumentepaneel is ’n piepklein vloeikristalskermpie wat jou net die mees basiese inligting gee. Daar is byvoorbeeld nie eens ’n petrolmeter nie. Jy sien net ’n oranje liggie aankom as die brandstof begin laag loop.
Die 701 het twee ryprogramme waaruit jy kan kies. Die een is vir teer en die ander is vir as jy wegdraai van die hoofpad die boendoes in. Met die 701 is dit ook wat jy heeldag wil doen. Terwyl groter avontuurfietse jou laat voel jy kan in die veld in ry as jy wil, voel jy amper verplig om dit te doen op die 701. Met sy yslike grondvryhoogte en veerligte koppelaar het ek elke geleentheid aangegryp om te verken. Berge op, grasvelde in. Daar is amper nie iets wat die 701 kan stuit nie, behalwe miskien my eie vermoë.
Op die pad is jy bewus van die wind omdat jy voel jy sit bo-op die fiets eerder as in hom. Daar is ook nêrens om agter weg te kruip nie. Hy sal 180 km/h kan doen as dit moet, hoewel ek twyfel of die 701 vir jou bedoel is as spoed jou oorweging is. Nee, die prentjie wat ek in my kop het, is ’n klein tentjie, bo-op ’n berg, ver van die rumoer. ’n Klein vuurtjie brand en die ryer sit net en staar na die melkweg. Die Husqvarna 701 Enduro is so ’n tipe fiets.
So, as jy op soek is na ’n ordentlike vrotpadfiets wat jy ook vir jou alledaagse pendel kan gebruik, gaan kyk gerus na die Husqvarna 701.
Spesifikasies:
Enjinkapasiteit | 693 cc |
Gewig (Droog) | 146 kg |
Kraglewering | 55 kW |
Tenkkapasiteit | 13 ℓ |
Saalhoogte | 920 mm |
Grondvryhoogte | 270 mm |
Prys | Vanaf R169 699 |
Smart fiets
Laat my terug verlang na my XT500