Harley-Davidson Road Glide Special – Gemaak vir die langpad

Foto: Brian Cheyne

Hulle sê dat ’n reis van ’n duisend myl begin met die eerste tree. Wel vir my sal daardie eerste tree wees om te besluit watter Harley-Davidson ek sal vat op my duisend myl reis. Noem hulle maar plaasimplemente as jy wil, maar min dinge kom by die gevoel wat ’n Harley in my wakker maak. En min fietse vreet kilometers op soos ’n Harley met die woord “Glide” êrens in die naam.

Harley-Davidson het onlangs vir my ’n Road Glide Special aangebied, en ek het onmiddellik ja gesê. Ek het al die Street Glide van Oos-Londen tot hier in Gauteng in een dag gery en die Road Glide is basies dieselfde fiets, behalwe vir die skerm. Die Street Glide se skerm is aan die handvatsels vas, waar die Road Glide s’n aan die raam vas is. Persoonlik hou ek nie baie van die Road Glide se voorkoms nie, want die skerm lyk buite verhouding groot.

Foto: Verskaf

Die groot skerm het egter vir Harley-Davidson in staat gestel om ’n kragtige radio in te bou en twee, baie skerp hoofligte. Daar is ook twee klein paneelkissies aan weerskante. Een van hulle bevat ’n USB-sok om jou musiek saam te vat op die lang pad.

Die instrumentasie op die Road Glide is in twee gedeel. Die tradisionele spoedmeter en toereteller sit in ’n klein eenheid aan die handvatsels, terwyl daar nog twee analoog wysers op die skerm ingebou is. Die groot 6,5” TFT-skerm neem egter die grootste deel van jou gesigsveld op. Dit is Harley-Davidson se BOOM! GTS stelsel en beheer nie net die musiek nie, maar ook die navigasie en kommunikasie. Die stelsel integreer met jou slimfoon en kommunikasiestelsel in jou valhelm en word intuïtief beheer met twee kontrolestokkies op die handvatsels.

Foto: Brian Cheyne

Die 22,7 liter brandstoftenk het die klassieke Harley-lyne en vloei saam tot by die uiters gemaklike saal. Harley maak nou al vir 115 jaar motorfietse en hulle weet ’n ding of twee van gemak. Die saal is ’n skamele 695 mm van die grond af. Omdat die fiets so laag is, is die op- en afklim verspot maklik. Die regop tel is egter nie so maklik nie want die fiets weeg 375 kg droog. Die twee kanttasse rond die profiel van die Road Glide mooi af.

Wat die Special onderskei van die standaard Road Glide is, onder meer ’n groter enjin (114 kubieke duim teenoor 107) en sluitwering as standaard. Alles is ook in swart afgewerk en die wiele het ’n ander ontwerp met meer speke.

Gepraat van die enjin: Die 114 kubieke duim eenheid is die nuwe Milwaukee Eight- enjin en is deesdae heelwat gladder as wat meeste mense ’n Harley sal voorstel. Internasionale wette het ook die masjien heelwat stiller gemaak. As jy die fiets aanskakel, luier hy steeds met die kenmerkende klank, al is dit effe gedemp.

Foto: Brian Cheyne

Die grootste verrassing was egter toe ek die Road Glide wegry by die handelaar. Die hantering was wraggies nie wat ek myself voorgestel het nie. Draaie word met die uiterste gemak geneem en jy moet die fiets hard druk voor iets gaan grondvat. Insette is baie gering en die Road Glide volg gehoorsaam die instruksies.

Ek het die volgende oggend die kanttassies gepak met ’n kamera en net gaan ry. Met ’n Road Glide is jy nie haastig nie. Met jou voete vorentoe sit jy gemaklik en neem die landskap in. Die Glide kan vinnig as dit moet, maar dit is nie in sy karakter nie.

Ek sê dit weer: Harley-Davidson-motorfietse is nie vir almal nie. Almal spot en maak grappies oor hulle, maar die mense wat hulle ry weet waaroor dit gaan. As ek more ’n duisend myl moet ry, bring maar hierdie Road Glide. Ek sal nie ’n oomblik huiwer nie.

Kyk hier na die produkblad. Die Standaard Road Glide kos vanaf R 355 000 en die Special vanaf R 375 000.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

marco polo ·

Dankie Brian, dis regtig ‘n swaargewig met ‘n swaar prys ook. Wat is 114 duim in cc?

Brian Cheyne ·

marco polo, dit is ongeveer 1870 cc. Die ‘kleiner’ Road Glide se 107 ci enjin is 1750 cc.

Antoon ·

Ek het ‘n Harley op ‘n 8 dae toer in die VSA gery en toe later, ook 8 dae, ‘n Gold Wing.
As jou eerste keuse ‘n Harley is, is dit net omdat jy nog nie ‘n Gold Wing gery het nie ?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.