Harley-Davidson se FXDR 114 ‘n stappie verder

Die nuwe Harley-Davidson FXDR 114. Foto: Brian Cheyne

“Jy kry net een kans om ʼn eerste indruk te maak,” het my pa altyd gesê. So, as een van die eerstes wat die nuwe Harley-Davidson FXDR 114 op plaaslike paaie kon ry, het daar baie op die nuweling gerus.

Harley-Davidson verander en pas stelselmatig aan. Van verlede jaar af al bou hulle aktief aan nuwe modelle. Net meer as ʼn jaar gelede is die Softails in Spanje bekend gestel en daar het ek vier van die modelle gery. Terwyl almal gaande was oor die Fat Bob het die Breakout my die meeste beïndruk. Met jou voete vorentoe en die voorvurke uitgeskop, was dít die een fiets wat my gemaklik gepas het.

Toe Harley in Augustus sy FXDR-model bekend gestel het, was ek nuuskierig. Hy lyk byna dieselfde as die Breakout, maar dié een is ʼn totaal ander fiets. Soos dit nou maar partykeer is, was ek op die regte tyd in Kaapstad, twee dae ná die eerste FXDR hier geland het, en Harley-Davidson het my gevra of ek ʼn entjie wil gaan ry.

ʼn Nadere kykie na die nuwe Harley-Davidson FXDR 114. Foto: Brian Cheyne

Ek het begin oplees en foto’s kyk en vir my het die ryposisie nie gestrook met die aanwending wat Harley in gedagte gehad het nie. Op die mediafoto’s het hy selfs op ʼn baan gestaan, maar met jou voete vorentoe is dit ver van die ideale posisie vir ʼn sportfiets. Die uitlaatpyp laat gesoute Harley-manne seker koud, maar alles dra by tot ʼn groter leunhoek.

Die fiets is die tiende model wat op die Softail-onderstel gebaseer is. Baie aandag is geskenk aan gewigbesparing. Die Softail-reeks het reeds ʼn groot bydrae gemaak om die vetjies te verloor en die FXDR het dit nou ʼn stappie verder gevoer. Die agterste swaai-arm is van aluminium, die wiele het dun speke en selfs die tradisionele metaalmodderskerms het nou plek gemaak vir ligter materiale.

Moet egter nie glo dat die FXDR nou ʼn liggewig is nie. Hy weeg steeds aan die verkeerde kant van 300 kg, maar met die gewig wat so laag sit, voel jy skaars die fiets.

Die nuwe Harley-Davidson FXDR 114. Foto: Brian Cheyne

Die voorvurke is steeds uitgeskop soos op die Breakout, maar ter wille van hantering is die hoek effe teruggetrek en die voorband is nou 19″. Die agterste swaai-arm is ook langer, en al hierdie veranderinge sorg vir ʼn fiets wat beter hanteer as die Breakout. Die piepklein instrumentepaneel van die Breakout lewer ook diens op die FXDR.

Toe ek opklim, was alles vir my bekend. Die kontroles voel solied en die afwerking is uitstekend. Met die aansitslag weet jy sommer jy is op ʼn Harley.

Die koppelaar is verbasend lig en ek kon meestal sommer met een vinger regkom. By die heel eerste verkeersirkel kon ek dadelik voel dat die FXDR beter hanteer. Ek besluit toe sommer daar en dan dat ek Du Toitskloof gaan aandurf. Voor ek daar kon kom, moes ek egter eers deur Kaapstad se verkeer mergel. Die FXDR is maer genoeg om tussen die karre deur te vleg en ek was gou op ʼn oop stuk pad.

Met genoeg wringkrag om mee te ploeg, sukkel die FXDR nie om op spoed te kom nie. Jy sukkel wel om bo te bly. Jou hele lyf werk soos ʼn valskerm en jy moet klou as die spoed begin klim.

ʼn Nadere kykie na die nuwe Harley-Davidson FXDR 114. Foto: Brian Cheyne

Aan die voet van die pas het ek dit rustig begin vat. Dit is die eerste FXDR in die land, en ek was nie bereid om hom nou al in die riete in te gooi nie. Ná so ʼn kronkel of twee het my hakke die grond geraak.

Harley spog wel dat die FXDR ʼn groter leunhoek het, maar met sy gemaklike hantering kon ek my hakke sonder moeite laat skuur. In geen stadium het ek egter ongemaklik gevoel nie. Die groot Harley met sy 240 mm-agterwiel het vas op sy voete gevoel en die hantering was alles wat Harley belowe het.

Ek het met ʼn swaar hart die FXDR teruggegee. Ek weet as ek meer tyd met hom kan deurbring, sal ek verby sy klein foutjies kan kyk en hom werklik geniet. Die FXDR het sy kans om my te beïndruk nie verspeel nie en ek is reeds aan’t kyk of ek nie ʼn langer afspraak kan reël nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

mog-het-troffe ·

Baie dankie Brian. Dis ‘n stewige prys maar dalk kan Capitec my help (van die wal in die sloot!).

Wind in jou hare ·

Op die oog af lyk die FXDR114 vinnig na die Suzuki Boulavard. Daar is net ‘n paar verskille. Die Boulavard gaan beter sy waarde hou en sal versker lekkerder ry .

Gustav ·

Jy koop nie ‘n fietsie met die doel om hom weer te verkoop nie.
Jy hou hom en koop net nog (en nog) ‘n fietsie by.
So herverkoopwaarde is effens irrelevant.

Mrs H ·

Jy kan nie die twee fietse vergelyk nie. Heeltemal n ander klas en styl. Een is nie beter of slegter as die ander nie, dis net n ander leefstyl van ander belange met ander soort passie en mense. As ek na die Suzuki range gaan kyk, sal ek nou weer eerder oorbeweeg na BMW fietse, maar dis net ek.

Wind in jou hare ·

@Mrs H—Oor die leefstyf kan ek saamstem maar as jy my brief mooi lees dan sal jy sien ek noem dat hulle op die oog af dieslefde lyk as jy vinnig kyk. Google ‘n Prentjie van die Boulavard dan sal jy sien jou stelling dat hy met BMW vergelyk verregaande is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.