Haval het nog werk om te doen

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Handelsmerke oor die hele wêreld gaan altyd deur ʼn siklus. ʼn Handelsmerk is nie van die staanspoor ʼn getroue staatmaker nie aangesien dit tyd vat om ʼn goeie naam op te bou.

So 50 jaar terug was dit die Japannese handelsmerke waaroor almal gefrons het en nou is dit die Sjinese. Gelukkig het van dié vervaardigers al gewaai uit Suid-Afrika, maar dit lyk my Haval is hier om te bly. Nou wat nou?

So 25 jaar terug het ons die eerste Hyundai’s en Kia’s hier gesien. Dit was nie slegte produkte nie – maar nadat hulle ʼn klein voet in die deur gekry het, het hul fokus verander.

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Daar het ʼn tyd gekom waar hul eie aanbieding beter moes raak om die volgende groeikurwe te begin. Nou is Kia, Hyundai en Genesis elke liewe jaar bó aan die JD Power Initial Quality-studie.

Haval is nou daar. Ek is nie ʼn groot Haval-liefhebber nie. Baie van die ander motorjoernaliste is beïndruk deur hul produkte en die funksionaliteit wat dit bied. Ek voel weer aan die ander kant, jy kan al die luukse truuks op aarde in ʼn slegte motor sit – en hy bly sleg … dan’s dit net ʼn slegte luukse voertuig.

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Vat die Haval H2 wat ons onlangs kon toets. Die ontwerp is netjies – veral met die nuwe opgeknapte sierrooster en ligte voor. Die motor lyk modern en netjies, sierwiele en al. ʼn Aantreklike sportnutsvoertuig wat tussen die kleintjies en mediumgrootte sportnutse val. Dink Renault Duster, Kia Seltos en Suzuki Vitara.

In die binneruim is daar goeie ruimte en sitplek vir vyf. Die afwerking is netjies en die bougehalte lyk op die oog af goed. Die paneelbord en deurkaarte se materiale is baie goed teen die prys. Die sitplekke kan vir my stywer gestop wees en beter steun bied; daarby laat die nagemaakte leer ʼn baie sterk chemikaliese reuk in die kajuit. Dis egter by die luukse foefies waar Haval jou haak. Die H2 is propvol. Daar is ses lugsakke, ABS en EBD. Daar is spoedbeheer en klimaatbeheer, asook ʼn elektries verstelbare bestuurdersitplek en ʼn truratkamera … tot ʼn banddrukmonitorstelsel.

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Die H2 word aangedryf deur ʼn 1.5-viersilinderturbopetrolenjin wat 105 kW en 202 Nm bied. Dit klink dalk goed, maar die enjin voel beslis nie só sterk nie – en hy voel grof, veral as ʼn mens hom harder in die toere druk om te sien waar skuil daai krag. Die ander probleem met alle Havals is hul verstommend slegte brandstofverbruik. Ons het 10.2 ℓ/100 km gehandhaaf … ʼn mens kan beter vaar met ʼn dubbelkajuit-Ranger!

Op die pad voel die H2 grof. Die outomatiese ratkas wissel heel goed ratte, maar die verhouding tussen die enjin en die ratkas is nie perfek gekalibreer nie. Die versneller se kalibrasie is heeltemal uit. Alles gebeur in die eerste 10% – daarna, nie veel nie. En as jy om draaie gaan met die H2 en jy raak net aan die versneller, dan begin hy bokspring en ongelukkig voel in jou hande.

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Die stuurkolom is ook nie klaar gekalibreer nie, so jy moet heeltyd jou insette verander om deur lang draaie te kom. Die ritgehalte is dus hard en grof, en ek het nie naby padhouvermoë-toetsery uitgekom nie – ek het net nie daai vertroue in die motor nie.

So, kyk, wie is ek om te sê? Haval het in Februarie 916 voertuie verkoop. Dis regtig baie … maar dis vir my sleg dat mense in die lokval trap. Ek dink Haval moes eers goedkoop motors bemeester het en hulle dán luuks gemaak het. Hulle het dit nou andersom. Die motors is nie klaar gekalibreer nie. Vir Sjina – wat ʼn bitter jong mark is, is die motors waarskynlik piekfyn. In Suid-Afrika, waar daar gevestigde handelsmerke soos Volkswagen en Renault in die prysklas is, kan Haval nie die mas opkom nie.

Ek het in my eie ervaring met die Haval getwyfel – toe vra ek ons nuusredakteur om ʼn paar dae met die motor te ry. Haar terugvoer is presies dieselfde as myne. Sy voel die H2 is spoggerig van buite en het lekker ruimte, maar sy verrigting kom nie die mas op nie. Die H2 ry vir haar baie hard en grof asof ʼn mens die gruis van die pad direk onder jou boude voel; boonop raas die enjin meer as wat hy krag bied.

Die reeks lyk só:

Haval H2 1.5T City105 kW/202 Nm8.2 ℓ/100 kmR269 900
Haval H2 1.5T Luxury105 kW/202 Nm8.2 ℓ/100 kmR294 900
Haval H2 1.5T City outo105 kW/202 Nm9.0 ℓ/100 kmR304 900
Haval H2 1.5T Luxury outo105 kW/202 Nm9.0 ℓ/100 kmR329 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km-waarborg en 5 jaar/60 000 km-diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Corolla Quest 1.8 Exclusive outo103 kW/173 Nm6.3 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R317 700
Renault Duster 1.5dCi TechRoad outo80 kW/250 Nm4.8 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar 45 000 km- diensplan

R332 900
Volkswagen T-Cross 1.0TSI Comfortline85 kW/200 Nm6.0 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R343 300
Citroën C3 Aircross 1.2T Feel81 kW/205 Nm6.5 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg

5 jaar/100 000 km-diensplan

R345 900
Suzuki Vitara 1.6 GL+ outo86 kW/151 Nm5.3 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R352 900
Kia Seltos 1.6 EX outo90 kW/151 Nm7.2 ℓ/100 km5 jaar/ onbeperkte km- waarborg

5 jaar/90 000 km-diensplan

R376 995

Ek was slinks om die Corolla Quest by dié vergelyking in te bring. Ja, dit is nie ʼn sportnutsvoertuig nie, maar dit is ʼn puik voorbeeld van ʼn basiese voertuig wat eers bemeester is, en perfek gekalibreer is – en tóé met luukshede gegooi is. Gaan toetsbestuur beslis die Corolla eerste, dán sal jy presies weet waarvan ek praat as ek sê: die ingenieurs is nie klaar met die Haval nie. Tussen die ander mededingers dink ek die Renault Duster is ongeëwenaar. Die dieselenjin is bitter lig op brandstof en bied dieselfde ruimte as die H2. Bloot die brandstofbesparing maak dit die moeite werd. As jy na die vervaardigers ook kyk, maak hul handelaarsnetwerk ʼn groot verskil in die diens wat hulle kan bied. Toyota loop voor met 264 handelaars, Volkswagen met 102, Renault met 82, Kia met 68, Suzuki met 62, Haval met 53 en Citroën met 19. Die mengsel van die produk en die herverkoopwaarde sal my beslis wegstuur van Haval af.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

koos10 ·

Ek het die Haval gaan toets bestuur en was baie beindruk, maar ‘n langer tyd sal meer oplewer, net soos dit vir MMM (Maroela Media Motorspan) was.
Die ding wat my laat afsien het van die H2 was die feit dat ek vir sowat R100 000.00 minder ‘n Suzuki Ertiga GL auto kon koop. Toegegee, die twee voertuie is nie in dieselfde klas nie, maar R100k is baie geld.
Ek glo dat die prys die eerste ding is waarna kopers kyk, daarna luukshede en dan voertuig.
Ek het gesoek na ‘n auto kar, so dit was my begin punt. Ek het op die Ertiga besluit want ek het reeds een gehad asook ‘n Swift, en is baie tevrede met die diens wat ek ontvang het.
Ook bygesê dat ek by geen handelaar in Pretoria (Suzuki en andere) goeie diens kon kry nie (100de oproepe en beloftes), en na slegs 2 oproepe na die handelaar in Johannesburg, is ‘n kar vir my gebring om te toets.

Boerkind ·

Spyker op die kop geslaan… met ‘n groot hamer!! Die H2 lyk mooi, is luuks en het ‘n “bekostigbare” prys… jy moet net nie met hom ry nie! Grof en dors – voorwaar!!

Wielspore ·

Nelspruit het elke jaar sy motorskou en dit dan wat Oupa en keinseun motorskou toe gaan, Ouma en die kinders gaan winkels toe, dit hoort mos so. Verlede jaar het die Haval H2 sy opwagting gemaak by die skou en ek het twee keer terug gegaan om die luukshede te ervaar. Daardie elektriese bestuur sitplek verstelling was koning, dit het vir my gevoel en gelyk soos ‘n baie duurder Toyota produk. As ‘n VW ondersteuner was iets soortgelyk in die VW stal net onbekostigbaar. Ek was op die punt om my kwaliteit standaarde te verlaag en die Haval H2 te koop toe ek die vrou gaan haal om na die meesterstuk te kom kyk. Toe my vrou inklim en daardie bo-lip so effe optrek, toe weet ek, Haval H2, jy het dit nie gemaak, dalk ‘n volgende keer. Al het ek jare se ervaring van motors het ek partykeer nog steeds ‘n objektiewe opinie nodig om my op die regte pad te hou, dankie my vrou.
Lekker ry!

ᛄᚪᚾ ·

Interresant dat Wiele2Wiele se bevinding op 28 Januarie 2020 baie positief was oor die H2. In die kommentaar het ek wel breeedvoerig geskree oor my bevinding van hierdie voertuig. Sien ook 3 Februarie 2020 se artikel op Maroela, die bevinding van die H2 was omtrent presies die teenoorgestelde van hierdie artikel. Dit is wel verblydend dat daar sulke uiteeenlopend verskillende ervarings uit dieselfde kantoor kom van 1 voertuig.

Haval bied dalk goed toegeruste motors met al die nodige speelgoed teen billike pryse, maar op hierdie stadium lyk 2 jaar oue gebruikte sportnutse van die bekende fabrikate na meer aantreklike opsies. Vinige soektog lewer 2018/19 Dusters, Sportages en selfs CX-5e op teen dieselfde prys as n nuwe H2. Party selfs met die balans van diensplanne ingesluit.

Virn verandering stem ek actually met Brendan saam. “,)

Brendon Staniforth ·

Dagsê Ysterhamer

Baie dankie vir jou kommentaar. Dié is ‘n perfekte illustrasie van hoekom ‘n motorjoernalis wéér in sy eie omstandighede ‘n week met ‘n kar moet deurbring. Enige kar op puik paaie en teen 120 km/h op die oop pad kan goed voel, maar dit in jou daaglikse roetine waar die goggas kop uit steek.

Jeanette van Wiele2Wiele gaan weer tyd met die H2 deurbring, dan sal dit interessant wees om te luister hoe sy voel.

Groetnis
Brendon
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.