Haval se H2 beïndruk 

Deur Jeanette Kok-Kritzinger

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Wanneer jy hoor van ʼn nuwe fabrikaat wat sy voete in Suid-Afrika probeer staanmaak en dit is ʼn Made in China-voertuig, wil ʼn mens jou amper blind hou.

Haval Motors Suid-Afrika het in Mei 2017 in die land aangekom met hulle C-segment-sportnutsvoertuig die Haval H2. Motorjoernaliste en verbruikers het toe al begin geraas maak oor Haval, wat in hulle opinie werklik waarde vir geld bied.

Net meer as twee jaar later maak ek kennis met Haval se nuwe H2 en ek was aangenaam verras.

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Haval het van Mei 2017 tot Desember 2019 al 7 235 voertuie in Suid-Afrika verkoop en ek dink hierdie syfers spreek boekdele.

Die H2 se binneruim is luuks en die kwaliteit en die afwerking beïndruk. Die atmosfeer-beligting is subtiel en sagte materiaal wat gebruik word, het gemaklike sitplekke tot gevolg.

Buite vertoon die nuwe H2 sportief, aggressief en kan jy hom van ʼn afstand af herken met die unieke groot sierrooster. Die voor- en agterligte is ook verander en herontwerp om mooi saam met die bakwerk te vloei. Die nuwe H2 is ʼn sportnuts vir die oog.

Die Haval H2. Foto: Verskaf

Die Haval H2 word aangedryf deur ʼn turboaangejaagde 1,5-viersilinderenjin wat 105 kW en 202 Nm bied. Meer as genoeg krag vir hierdie middelslagsportnutsvoertuig. Alhoewel ons nie tydens ons kort kennismaking met die H2 die langpad aangedurf het nie, het dit nie vir ʼn oomblik gevoel of die voertuig meer woema kort nie. Die uitdaging gaan egter wees om die brandstofverbruik laag te hou as jy haastig raak.

Die nuwe Haval H2 is beskikbaar met ʼn 6-spoed‑handrat- of ʼn 6-spoed‑ outomatiese ratkas. Die outomatiese ratkas het my aangenaam verras en selfs deur ʼn bergpas het die H2 nie verwoed probeer soek na die regte rat nie, maar was die ratwisseling verbasend glad. Die ritgehalte was ook in die kol vir die segment en daar was minimale bakrol om die draaie.

Die Haval H2. Foto: Verskaf

In pas met Haval se leuse van “Safety, Reliability and Trust”, kom die nuwe Haval H2 ook standaard uit met ses lugsakke en ʼn lys van ander veiligheidstoerusting.

Ek is al vir 25 jaar by die motorbedryf betrokke en moet eerlik sê hierdie nuweling beïndruk my. Daar is altyd vrae oor herverkoopwaarde, dienste, beskikbaarheid van onderdele en dies meer, maar die goeie nuus is – Haval Motors Suid‑Afrika is deel van die moederskip in China – hulle is passievol en hier om te bly.

Die reeks lyk só:

Haval H2 1.5T City 8,2 ℓ/100 kmR269 900
Haval H2 1.5T Luxury 8,2 ℓ/100 kmR294 900
Haval H2 1.5T City outo 9,0 ℓ/100 kmR304 900
Haval H2 1.5T Luxury outo 9,0 ℓ/100 kmR329 900

Die reeks word gedek deur ʼn 5 jaar/100 000 km‑waarborg en 5 jaar/60 000 km‑diensplan.

Ons sal binnekort weer tyd met die Haval H2 deurbring en hom dan met sy direkte mededingers vergelyk en beter oor sy brandstofverbruik kan verslag doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Leon ·

Al wat hulle gedoen het is om ‘n rede te soek om die prys met R100 000 rand te verhoog. Die nuwe voertuig is nie R269 000 werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.