Hazumi verloor sy sprankel met nuwe enjin

Die Mazda 2 1.5 Hazumi. (Foto: Verskaf)

Die Mazda 2 is vir my ’n lekker buksie. My gunsteling in die reeks was die 1.5-diesel Hazumi. Ongelukkig is die dieselenjin uit die reeks verwyder; die Hazumi kry nou ʼn atmosferiese 1.5-viersilinderpetrolenjin.

Die Mazda 2 se ontwerp is netjies en skoon, dog Japannees. Die vroeë Kodo-ontwerp is steeds netjies, maar met voertuie soos die Mazda 3 begin die 2 ʼn bietjie oudmodies lyk.

Die binneruim is ergonomies uitgelê, en met ʼn fantastiese spesifikasievlak. Daar is klimaat- en spoedbeheer, ʼn raakskerminligtingstelsel met CarPlay en Android Auto, ʼn sogenaamde “heads-up display” (HUD) en leerbekleedsel. Dit is by die leerbekleedsel in dié spesifieke model waar hulle my verloor. Die tweekleurige leerbekleedsel en die kwaliteit daarvan voel vir my nie van die gehalte wat dit behoort te wees nie en is beslis nie so mooi soos die sitplekke wat altyd in die Hazumi was wat leer en Alcantara was nie.

Die enjin is die tweede teleurstelling in die Hazumi. Die diesel was heel sterk, ekonomies en stil. Die 1.5-viersilinder in dié weergawe bied dalk 85 kW en 148 Nm, maar hy is beslis nie stil nie. Die enjin gaan gepaard met Mazda se 6-spoed-ratkas wat ’n mengsel is tussen ʼn wringkragomsitter-outo en ʼn palwisseltransmissie. Van 0-100 km neem  ʼn billike 10,4 sekondes en die Mazda 2 sal aanhou draf tot 184 km/h – heel goed. Mazda maak aanspraak op ʼn gemiddelde brandstofverbruiksyfer van 6 ℓ/100 km. Ek dink dit is heel moontlik op die oop pad, maar beslis nie in die dorp nie.

Op die pad voel die Mazda 2 heel goed. Vering is nie té hard nie, en soepel genoeg sonder enige onaangename bakrol. Die bestuursposisie sit vir my baie lekker. Die Mazda spog met ses lugsakke, ABS, EBD en vastrapbeheer.

Die Mazda 2 1.5 Hazumi se binneruim. (Foto: Verskaf)

Dit is maklik om die Mazda 2 1.5 Hazumi op te som. Dit het ʼn fantastiese diensplan en waarborg vir diegene wat verskriklik baie ry, soos verkoopsverteenwoordigers. Op die oop pad ry hy lekker, maar die enjin dreun vir my effe te veel vir ’n motortjie wat nie ’n sportmotor is nie. Die sitplekke sou ek ook verkies met gewone lapbekleedsel. Teen sy Japannese mededingers raak hy duur, en daar is ander luikrûe wat vir my meer opwindend en beter waarde vir geld bied.

Die reeks lyk só:

Mazda 2 1.5 Active handratR261 900
Mazda 2 1.5 Dynamic handratR286 000
Mazda 2 1.5 Dynamic outoR302 300
Mazda 2 1.5 Individual handratR310 700
Mazda 2 1.5 Individual outoR326 900
Mazda 2 1.5 Hazumi outoR351 100

Die reeks word gedek deur ‘n 3 jaar/onbeperkte km-waarborg én diensplan.

Die kompetisie lyk só:

Toyota Yaris 1.5 Xs outo79 kW/140 Nm5,8 ℓ/100 km3 jaar/100 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R308 200
Citroën C3 1.2T Shine outo81 kW/205 Nm6 ℓ/100 km5 jaar/100 000 km-waarborg en diensplanR315 900
Hyundai i20 1.4 Fluid outo74 kW/133 Nm7,5 ℓ/100 km5 jaar/150 000 km-voertuigwaarborg

7 jaar/200 000 km-dryfstelselwaarborg

3 jaar/60 000 km-diensplan

R317 500
Honda Jazz 1.5 Elegance outo88 kW/145 Nm5,8 ℓ/100 km5 jaar/200 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R339 100
Kia Rio 1.4 Tec outo74 kW/135 Nm6,2 ℓ/100 km5 jaar/onbeperkte km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R347 995
Volkswagen Polo 1.0TSI Highline outo85 kW/200 Nm4,8 ℓ/100 km3 jaar/120 000 km-waarborg

3 jaar/45 000 km-diensplan

R353 400
Nissan Micra 84kW Turbo Tekna Plus5 ℓ/100 km6 jaar/150 000 km-waarborg

3 jaar/90 000 km-diensplan

R361 600
Ford Fiesta 1.0T Titanium outo74 kW/170 Nm5,2 ℓ/100 km4 jaar/120 000 km-waarborg

4 jaar/60 000 km-diensplan

R364 300

Tussen dié mededingers bied die Citroën C3 fantastiese waarde en ʼn puik diensplan. Sy turbo-enjin is ook puik en sy ontwerp uiters modieus.

Só lyk die Mazda 2 1.5 Hazumi:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Nee wat, oor die R 300 000.00 vir die klein meganiese toestelletjie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.